Wednesday 14 March 2018

Moet ons onbekende mense help?


Image result for old man sitting on the side of the road


Die omie kom gebukkend, skuifelend die pad afgestap, sy
verkreukelde hoed styf in sy hand vasgeklem. Die plooie trek
donker dongas oor sy gesig, en sy oë is dof en blou.
Sy klere hang soos ʼn meelsak om hom, sy skoene het al
beter dae gesien. Sy hare wapper in drie slierte om sy
voorkop, sonverbrand.
"Boetie! Boetie!" roep hy na my.
Ek gee hom een kyk en kyk dan anderpad.
Net nog 'n boemelaar, net nog 'n bedelaar.
"Boetie! Boetie!" roep hy weer.
Ek draai my rug op hom en sluit die motordeur oop.
"Boetie, boetie! Wag, ek wil met jou praat." Sy stem is skor.
"Seker van al die drank," dink ek, klim in die motor en sluit
die deur
Hy struikel van die sypaadjie af, kom krom, oud en
verwaarloos na my aangestap.
Ek skakel die motor aan, kry trurat en verlaat hom, eensaam
en alleen.
"Kry vir jou werk. Maak soos ek maak, dit bring geld, dan
kan jy suip tot jy omval," gaan deur my gedagtes. Ek kry
eerste rat, wikkel die petrolpedaal en laat hom in ʼn stofwolk
agter. Ek sien in die truspieël hy beduie, hande omhoog. "Ja,
joune ook," sê ek hardop, "net soos jou soort is - as jy nie
iets kry nie, is ek altyd die skuldige."
By die huis vertel ek vir Vroulief van die voorbarige
bedelaar, wat ek gesien het.
Vroulief is dadelik Moeder Hen : "Waar slaap die arme man
vanaand? Dit lyk asof dit gaan reën."
"Moenie oor hom worrie nie, sy soort het altyd 'n plan, hy
wurm hom met 'n sak wyn iewers in 'n kombers toe en
verdrink die dag van môre. Plaas dat hy karre oppas, dit sal
daai drankgeldjies meer kosbaar maak."
"Swerwer, jy is ʼn harde man. Wat daarvan as hy drink? Hy is
ook net ʼn mens, net soos jy," berispe Vroulief.
"Wat, 'n man soos ek? As hy ʼn man was, het hy 'n manier
gesoek om 'n geldjie te verdien vir sy lustigheid. Nou wil hy
my geld bedel, dit waarvoor ek gewerk het, met my sweet,
my arbeid ... Se dinges, vrou! Kom ons vergeet nou die
episode, ek is klaar spyt ek het jou vertel."
Vroulief stap kop onderstebo kombuis toe, ek maak my
gemaklik op die stoep, bier in die hand.
" Kan ook nie jou mond hou nie," mompel ek.
My hond kom lê onder die stoel en ek voer hom ʼn stukkie
biltong. Hy lek my hand dankbaar.
Eensklaps staan vrou in die deur.
"Swerwer, ek het vir die man 'n pakkie kos gepak, ons vat dit
nóú vir hom. Een van die kinders se komberse is ook oor die
muur, ons vat dit ook."
Ek ken die stemtoon, onverbiddelik.
"Vrou, is jy gek? Die man is seker lankal weg. Gaan skep op,
ek is honger," probeer ek walgooi.
"Swerwerrrrrr ... as jy nie wil ry nie....... sal ek," druk sy dit
uit..
Ek weet teëpraat gaan nie help nie, my mooi van môre se
dag hang hiervan af.
Ek staan op, vat die motorsleutels, en draai half vermakerig
na haar: "Nou kom, as jy hom wil kos gee, doen dit self."
Ons ry in stilte, met slegs die geruis van bande. Vroulief klou
die pakkie op haar skoot vas. Voor die koöperasie stop ek
op dieselfde plek. In die lig van die voertuig sien ek hom op
die sypaadjie sit, sy kop op sy knieë, hande wat hang tot op
die grond.
"Sien jy, wat het ek jou gesê? Klaar dronk."
Vrou ignoreer my, maak die deur oop en skud die omie aan
sy skouers. Stadig lig hy sy kop; trane stroom oor sy wange.
"Nog dronkverdriet ook", dink ek.
"Omie, ek het ietsie gebring om te eet", praat Vroulief sag en
vat sy hande in hare.
Die omie se lyf begin ruk, hy huil nou openlik, trane stroom
deur die plooi-dongas.
"Nooientjie, dis nie ek nie. Die tannie by die huis het in die
bad geval. Sy kan nie opstaan nie. Ons foon werk al twee
weke nie meer nie. Ek het asma, ek kon nie verder nie. Ek
het ʼn kêrel probeer stop, maar hy het weggejaag ... sonder
om te
luister. Al wat ek kon doen, was om te bid. God het vir my 'n
engel gestuur. Asseblief, gaan help die tannie ... asseblief,
gaan help haar."
Ek sit met ʼn knop in my keel, trane wil oor die walle stroom,
die hartseer is diep en skerp.
My gemoed is stukkend, my siel in opstand. Waar en
wanneer gaan ons besef: "Ek is my broer se herder"?
Raak iemand se lewe vandag aan
Lukas 6:31 Behandel ander mense soos julle self behandel
wil word.
“Moet . . . nie vergeet om goed te doen en mededeelsaam te
wees nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik.”—
Hebreërs 13:16

Skrywer onbekend!

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...