Thursday 8 March 2018

Wat sê die Woord oor grondhervorming?

Image result for SA flag

WAT SÊ DIE BYBEL OOR GRONDHERVORMING?

Alhoewel die Bybel lank terug reeds geskryf is, het God geweet wat in die toekoms van die wêreld gaan gebeur. Ons is vinnig om vandag te vrees wat die dag van môre sal inhou, maar ons vergeet soms dat God reeds daar is. Hy is vandag met Sy kinders en sal ook môre met Sy kinders wees.

Ons het nie nodig om te vrees wat die toekoms vir Suid-Afrika inhou nie, want Suid-Afrika se toekoms is ook in God se hande!

Kom ons kyk wat sê die Bybel oor grondhervorming wat tans groot kommer regoor Suid-Afrika veroorsaak.

MIGA 2:1-3 (1953 Vertaling)

"Wee die wat onreg uitdink en kwaad smee op hulle bedde; by die môrelig voer hulle dit uit, want dit is in die mag van hulle hand.  Ja, hulle begeer velde en roof dit; ook huise en neem dit. So pleeg hulle dan geweld teenoor die man en sy huis, teenoor die mens en sy erfdeel.  Daarom, so sê die Here : Kyk, Ek bedink onheil teen hierdie geslag, waar julle jul nekke nie sal kan uittrek nie, en waarby julle nie regop sal kan loop nie; want dit sal ’n tyd van onheil wees!"

MIGA 2:1-3 (1983 Vertaling)

"Ellende wag vir julle wat rampe teen ander beplan, wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen, wat dit vroeg in die môre gaan uitvoer omdat hulle die mag in die hande het.  Hulle begeer 'n stuk grond en vat dit, huise, en lê beslag daarop. Hulle kul 'n man uit sy huis uit, 'n mens uit sy besitting uit.  Daarom, so sê die Here: Ek beplan 'n ramp teen hierdie mense, hulle sal dit nie kan ontwyk nie. Hulle sal nie meer regop kan loop nie, want dit sal 'n tyd van swaarkry wees."

ONS AS GELOWIGES SE HOOP IN HIERDIE TYD.

Ons moet ook in ag neem dat ons reeds in die eindtyd leef. Lees die volgende vers noukeurig deur...

MATTHÉÜS 24:7‭-‬8 (1953 Vertaling)

"Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte."

Kyk jy deesdae die nuus? Besef jy wat nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld aangaan?

DIE EEN NASIE SAL TEEN DIE ANDER OPSTAAN...
Dit gebeur tans in Suid-Afrika.

DAAR SAL PESSIEKTES WEES...
Listeria het onlangs uitgebreek in Suid-Afrika. Dit merk die grootste uitbraak van hierdie siekte in die wêreld tot op hede.

MAAR AL HIERDIE DINGE IS 'N BEGIN VAN DIE SMARTE...
Die 1983 Vertaling van die Bybel lees "HIERDIE IS GEBOORTEPYNE VAN DIE NUWE TYD..."

Al leef ons in hierdie tyd voor Jesus se koms, beteken dit nie dat ons bekommerd hoef te wees nie.

ROMEINE 8:22 (1983 Vertaling)

"Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting."

WAT IS JOU VERWAGTING IN HIERDIE TYD VAN "PYNE"?

HEBREËRS 10:23 (1953 Vertaling)

"Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;"

Kom ons versterk ons geloof in hierdie tyd waarin ons leef. God is getrou aan Sy beloftes en Hy sal ingryp op sy tyd. Laat ons eerder bid vir 'n Goddelike ingryping in Suid-Afrika - nie ter wille van onsself nie, maar sodat ONS HERE DIE EER DAARVOOR SAL KRY en die wat nog verlore is SY GROOTHEID SAL AANSKOU EN DIE HEILIGE GEES HULLE SAL OORTUIG OM HULLE HOOP OP JESUS ONS ROTS TE PLAAS!

Bid vir Suid-Afrika, want in hierdie tye waarin ons leef sal God Sy Gees opnuut uitstort en wonderwerke sal plaasvind soos wat die wêreld nog nooit aanskou het nie

Skrywer onbekend.

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...