Wednesday 21 March 2018

Die hart, die saailand!


Image result for bewaar jou hart


Tydens my onlangse besoek aan die besigheid op Upington, het Vader hierdie woord in my gees kom lê terwyl ek besig was om Hom te loof vir die goeie reën wat geval het in daardie deel van die Karoo waardeur ons besig was om te ry. Verlede maand toe ons daar verby is, kon mens duidelik sien dat daar toé alreeds goeie reën geval het, want die jong doringboompies en bosse was alreeds lowergroen. Tog was die grond tussenin baie kaal en was daar feitlik geen grasbedekking nie.

Hierdie keer het daar egter baie gras al gegroei op die kolle wat voorheen kaal was en het dit omtrent alreeds 20cm hoog gestaan. Dit is met hierdie gesig wat Vader toe vir my kom sê in my gees, dat die saad reeds lankal onder daardie harde kors  van die grond gelê en wag het vir die lewegewende water van Bó. Hy deel toe met my dat ons harte net soos daardie harde kors grond is en dat Sy woord alreeds daarin gesaai is en net wag vir die water van geloof om dit te laat ontkiem!

Ek het toe onmiddelik aan die volgende Skrif gedink:

Heb 8:10  Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

Heb 8:11  En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle.

Die dag wat ons Jesus aangeneem het as Redder en Verlosser, het Vader reeds Sy hele wetboek op die tafels van ons hart geskryf en het Hy ons die Heilige Gees gegee om ons daarin te onderrig. Paulus skryf dan ook dat geloof tot stand kom by die aanhoor van God se woord.

Rom 10:17  Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

Vader het my toe ook verder herinner aan die gelykenis van die saaier wat Jesus vertel het en dat die saaier die Woord gesaai het op verskillende plekke. Slegs 'n deel van daardie saad het goeie vrug gedra, maar die kwaliteit van die saad wat gesaai is op al die plekke, was presies dieselfde. Ons lees dan ook dat die Woord van God onverganklik is of “incorruptable” soos dit in Engels gestel word.

1Pet 1:23  want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

Die probleem lê dus nie by God se woord nie, maar by ons gebrek aan kennis en geloof daarin!

Mat 22:29  Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.

In Johannes 1 lees ons duidelik dat Jesus die Woord is wat vlees geword het en onder ons kom woon het. Hy is ook die Één wie aan die begin die hele skepping geskape het met die spreek van 'n woord. Dit is ook die rede hoekom Hy Satan teengestaan het deur vir hom die Woord van God aan te haal en nie nodig gehad het om 'n nuwe woord uit te dink om van Satan ontslae te raak nie.

Mat 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Die probleem is dus by die mens wié nie kies om te glo nie, omdat ons nog te vas is aan die dinge wat ons kan sien, hoor, voel of proe. Selfs in Jesus se tyd was Hy vir Sy eie dissipels nie genoeg nie, ten spyte van alles wat hulle aanskou en gehoor het.

In Johannes 14 lees ons waar Jesus aan die dissipels vertel dat Hy na die Vader gaan en dat hulle die weg ken. Toe Jesus egter sê dat hulle die Vader ook ken en Hom gesien het, is Fillipus die een wie gesê het dat Jesus hulle die Vader moet toon...let op Jesus se antwoord:

Joh 14:4  En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.

Joh 14:5  Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?

Joh 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Joh 14:7  As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.

Joh 14:8  Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.

Joh 14:9  Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?

Joh 14:10  Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke.

Joh 14:11  Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.

Joh 14:12  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.

Filippus wou meer gesien het as dit wat hy in Jesus gesien het en het nie besef dat Jesus deel is van die Drie-enige God nie en dat die volheid van die Vader ook in Hom is nie.

Die vraag is dus nou vir jou en my: “wie is Jesus vir jou...en is Hy vir jou genoeg? Wat sal jy antwoord as Hy aan jou moet vra: “wie sê JY is Ek?”

Het jy die “guts” om te staan op Sy woord teen die aanslae van die vyand of is jou mond te vol van die wêreld se woord of die woord van mense?

Rom 12:2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

GEBED:  Vader, vergewe ons dat ons só kleingelowig is en só maklik die woord van mense bó die Woord van God stel. Help ons om te kan staan op U woord in alle omstandighede, omdat dit die onverganklike en onfeilbare woord is van die Lewende God...amen!

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Gepaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...