Monday 28 September 2015

Brandewyn het nie brieke nie!


Image result for brandy and coke


 'n Bekende ou gesegdetjie wat so lekker van die tong af gly nê?  Maar ag, my liewe mens, hoeveel hartseer en hoeveel tragiese gevolge het die misbruik van drank nie al veroorsaak nie? Hier dink ek onder andere aan gebroke huwelike, ongewenste tiener swangerskappe, selfmoorde (onder jong- en volwasse mense), bankrotskappe direk as gevolg van drankmisbruik ensomeer, ensomeer, ensomeer..

Het die Bybel enige spesifieke siening hieroor vra jy, want ons moet mos darem onthou Jesus het water in wyn verander, en Hy het dit sekerlik self ook gedrink, nê? Ja, dalk, maar dink jy Jesus was OOIT dronk? En wat van Noag, vra jy, want onthou, die eerste ding wat Noag gedoen het toe hy uit die ark uit gekom het, was om 'n wingerd te plant en wyn te maak nie, nê? (Genesis 9:20-29). Ja, seker, maar kyk net in daardie stuk uit die Bybel hoe het die drank tot gevolg gehad dat Noag se verhouding met sy een seun, lewenslank geskaad is. Net so het drank tot gevolg gehad dat Lot se twee dogters in Genesis 19:31-38 beide met hulle vader gemeenskap gehad het en sodoende die sonde van bloedskande gepleeg het! Maar weet jy, die Bybel het ALTYD antwoorde, so kom ons blaai weer bietjie deur hierdie wonderlike boek se bladsye.

"Die wyn is 'n spotter, en sterk drank 'n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie." (Spreuke 20:1) Die nuwe vertaling sê in dieselfde teksvers: "Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie." Die Bybel dink dus nie veel van iemand wat deur drank "bedwelmd" raak, of "van dronkenskap slinger" nie.  Ek wonder ook hoeveel gewone mense is REGTIG bëindruk met mense wat drank in openbare plekke, of selfs in hulle eie huis misbruik, en dan "lawaaimakers" word en van "dronkenskap slinger"?  Baie min, maar dit het mos sosiaal aanvaarbaar geword, om dit maar gelate te aanvaar. Kyk ook net wat sê die volgende  teksverse hieroor, naamlik:

"Wie van vrolikheid hou, is 'n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie." (Spreuke 21:17) "Luister, my seun, soek die regte insig: bly op die regte pad; moet jou nie ophou met suiplappe en vrate nie, want die suiplap en die vraat word arm; dronkenskap laat jou in vodde loop."  (Spreuke 23:19-21) "Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk."  (1 Thessalonisence 5:7)

My liewe vriend of vriendin, besef jy en ek wat ek doen wanneer ek met een of twee drankies begin en al hoe meer en meer begin drink, hetsy sosiaal of alleen by die huis?  O, ja, ek wéét, drank is mos nie jou baas nie, jy kán drank hanteer!  Maar weet jy, so redeneer amper ál die mense met akute drankprobleme in menige rehabilitasiesentrums ook - en so het hulle almal ook geredeneer toe hulle nog vaste betrekkinge, en gewone huwelike, gehad het.  Die nagevolge van drank is darem ook alombekend nê?  Lekker is dit beslis nie, maar tog is so baie van ons bereid om dit amper daagliks te deurstaan, nét sodat ons tog nie ons "pêlle", moet teleurstel nie.  Kyk net hoe akkuraat beskryf selfs die Bybel daardie gevoel (wat elkeen, soos ek, wat ook  gereeld te veel gedrink het, dit baie goed ken):

"By wie is "Ag!"; by wie is "Wee my!"; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë? By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe. Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie: op die end byt dit soos ‘n slang en spuug gif uit soos ‘n basilisk. Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek; en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê. Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie! Wanneer sal ek wakker word? Dan sal ek dit weer opnuut soek."  (Spreuke 23:29-35)

Ken jy díé gevoel, my vriend of vriendin?  Indien wel, wil jy dit nie ook maar vir God gee, dit aflê en op die nuwe pad met Hom gaan, sónder drank nie? En, kyk mooi:

"Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng..." (Jesaja 5:22)

Mens, het jy al gesien hóé dapper en braaf mense soms kan wees met die wyndrinkery, en by die meng van hulle drank?  Is jy ook nog deel daarvan, of het jy al vir Christus gekies? VRAAG: Is jy 'n held vir jou "pélle", ...of is jy 'n held vir Jesus?  En as jy wél 'n held vir Jesus is, is jy dit ook wanneer jy by jou "pêlle" is?  Indien nie, hóékom nie?  Is jou "pêlle" - wat nie vir ewig by jou is of sal wees nie - vir jou belangriker as God, wat ewig daar is en sal wees? Antwoord asseblief hierdie twee vrae aan God, nie aan my nie.  Dan kom die belangrike vraag: Presies hóé wil God hê moet ons met drank omgaan? Wat sê die Bybel?

"Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie." (Romeine 13:13,14) "Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie: op die end byt dit soos ‘n slang en spuug gif uit soos ‘n basilisk." (Spreuke 23:31) "Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul." (Efesiërs 5:18)

En wat sê Galasiërs 5:19-21 nou weer? "En die werke van die vlees is openbaar, naamlik... dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie."

Hoeveel duideliker wil ons dit nou nóg uitgespel hê?  Ag mens, en moet asseblief ook nie die argument teenoor my gebruik dat dit nie "dronkenskap" is as jy nét vier drankies gedrink het, terwyl jy wéét jy kan tien "hanteer" nie! Wat probeer jy dan doen? Probeer jy vir God se onthalwe weer 'n tegniese definisie uitdink van "dronkenskap" net sodat jy nie skuldig hoef te voel dat jy dalk self onder hierdie teksvers deur Heilige Gees aangespreek word nie? Nee, my liewe vriend, as enige hoeveelheid drankies, of dit nou één is, of twintig, jou selfs net EFFENS van stryk bring, óf jou vermoëns net EFFENS aantas, óf jou jou inhibisies net EFFENS laat verloor - IS DIT DRONKENSKAP in GOD se oë!  Redeneer gerus maar daaroor soos jy wil!  Onthou, jy hoef my nie te oortuig nie, maar wel vir die Heilige Gees!

Ons het ook nie werklik 'n ander keuse as om vír God en téén die wêreld te kies nie.  As ek sê: ".,,teen die wêreld..." bedoel ek natuurlik ook teen ENIGIETS wat kan veroorsaak dat ek nie binne God se wil wandel nie, wat baie beslis drankmisbruik insluit!  Waar lê jou lojaliteit, my liewe mens? "weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God." (Jakobus 4:4)

Indien jy reeds 'n keuse vir Jesus gemaak het téén die wêreld, en dus ook téén drankmisbruik, wens ek jou baie, baie geluk, veral as jy dalk ook voorheen iemand was wat deur die "voggies" beheer was in die verlede. Moet daarom nie toelaat dat die lelike name wat jou vorige drinkebroers jou nou skielik gaan toesnou, of die sarkastiese gedagtes wat hulle oor jou dink, of uitspreek, jou besluit enigsens affekteer nie.  Kyk maar net wat die Bybel reeds eeue terug gesê het juis sal gebeur wanneer iemand so 'n keuse maak, naamlik: "Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye. Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saamloop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster." (1 Petrus 4:3-4)

My liewe vriend of vriendin, PRYS DIE HERE indien jy nou name genoem en sleggesê word omdat jy vir Christus gekies het.  Jy het reeds vir jou 'n skat in die hemel bymekaargemaak, en kyk wat sê 1 Petrus 4:12 en 14 daaroor: "Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik."

Ons moet ook nooit uit die oog verloor dat ek effektief my broer kan laat struikel en vir God se koninkryk verlore kan laat gaan deur wat ek drink, of selfs eet nie.  So stel Romeine 14:13, 15, 17 en 21 dit as volg: " Laat ons dan mekaar nie meer oordeel nie, maar besluit dít liewer, om nie die broeder ‘n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie....Maar as jou broeder deur voedsel (of natuurlik drank) gegrief word, dan wandel jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur jou voedsel hom te gronde rig vir wie Christus gesterf het nie....Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees...Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie."

Die kruks hier is dus dat jou persoonlike gebruik van drank 'n saak tussen jou en Heilige Gees moet wees. Indien jy net so nou en dan 'n drankie gebruik, en jy het rustigheid en vrede in jóú hart daaromtrent, is daar dalk in jou oë niks mee verkeerd nie. Vra net vir Heilige Gees of Hy vrede het dat jy dit doen - en sóós jy dit doen?

MAAR, indien enigiets wat ek hier geskryf het, jou dalk in die binneste aangeraak het, en jy voel dat "iets" binne-in jou met jou praat hieroor, en oor die vraag of dit wat jy nog heeltyd as drank "gebruik" gesien het, nie dalk besig is om in jou lewe drank "misbruik" of "dronkenskap" te word nie, gaan word asseblief iewers stil met God, en vra Hom of Hy dalk vir jóú iets wil sê oor die manier waarop jy tot dusver drank gebruik het.  En wanneer Hy vir jou die antwoord gee, bly asseblief gehoorsaam aan Sy antwoord! Maar man, die lewe gaan "boring" wees sonder drank! Nee, my liewe vriend of vriendin, die lewe is 'n FEES met Jesus Christus en Heilige Gees in jou lewe - SONDER ENIGE DRANK!!  Onthou wat het die mense gesê nadat Heilige Gees oor die mense uitgestort is: Handelinge 2:13: "Hulle is dronk".  Ek is eerder sewe dae 'n week dronk van die wonderlike wete dat Heilige Gees binne-in my is, as wat ek my liggaam oorgee aan iets wat baie beslis vir God onaanvaarbaar is en inderdaad my liggaam langsamerhand fisies aftakel.

tiaan gildenhuys (tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming



tiaan gildenhuys (tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...