Saturday 12 September 2015

Is dit nou regtig so nodig om te vergewe?


Image result for vergifnis

 "Want AS julle die mense hulle oortredinge vergewe, SAL julle hemelse Vader julle ook vergewe.  MAAR as júlle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie,  SAL julle Vader julle oortredinge óók NIE vergewe NIE."  (Mattheus 6:14-15 )

Ons mense hou tog so baie daarvan om oortredinge teen mekaar op te teken vir latere gebruik.  Dis mos altyd so "lekker" om vir iemand te sê: "Omdat jy my tien jaar terug seergemaak het, gaan ek jou nou seermaak met dit wat ek nou sê, of dit wat ek nou aan jou gaan doen!"  Maar as ek kyk na die bogemelde teksvers, lyk dit vir my nogal of Jesus presies die teenoorgestelde houding beveel, en dat Hy baie ernstig is daaroor dat, as ONS nie vergewe nie, óns ook NIE vergewe sal word NIE.

Hoe vergewe God ons?  Kom ons kyk na die Bybel:

"Loof die Here... wat AL jou ongeregtigheid vergewe... So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons." (Psalm 103:3 en 12) “Ek delg jou oortredinge uit soos 'n newel en jou sondes soos 'n wolk, keer terug na My, want Ek het jou verlos." (Jesaja 44:22) "En Ek sal hulle reinig van AL hulle ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het, en vergewe AL hulle ongeregtighede waarmee hulle teen my gesondig en teen My oortree het." (Jeremia 33:8)

God sê dus in die Bybel baie duidelik dat Hy, nadat ons tot inkeer gekom en om vergifnis van ons sondes gevra het, - MAAK NIE SAAK WAT DIT WAS NIE-, ons dit vergewe en in vier ander teksverse in die Bybel word dit baie duidelik gestel dat Hy NOOIT weer daaraan dink nie! 'n Baie duidelike geval dus, van vergewe ÉN VERGÉÉT!
Maar ons mense sê so maklik: "Maar jy verstaan nie hoe seer hy my gemaak het nie!"  Weet jy, dit maak werklik nie sáák nie.  VERSTAAN JY hoe seer JY al vir Jesus gemaak het?  En Hy het jóú vergewe - ONVOORWAARDELIK!
Ag, maar is die Bybel regtig so ernstig hieroor?  Kan ek nie maar somtyds iets teen iemand hou as so 'n klein ou wapentjie om later teen hom te gebruik nie?  Weet jy, NEE, ons mag nie, en as ons die ware liefde van Jesus in ons het, WIL ons ook nie, want ons probeer wees SOOS WAT JESUS WAS! Met ander woorde, iemand met onvoorwaardelike liefde! So sien ons ook in Lukas 17:4-5 dat Jesus as volg bepaal:

"En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom.  En as hy sewe maal op 'n dag teen jou sondig en sewe maal op 'n dag na jou toe terugkom en sê:  Ek het berou - MOET jy hom vergewe."
Ek merk baie duidelik dat in hierdie laaste sin staan: " MOET JY HOM VERGEWE"! Dit is dus duidelik nie 'n geval dat ek 'n KEUSE het of ek daardie persoon WIL vergewe nie.  God bepaal dus sélf dat ek VERPLIG is om daardie persoon te vergewe, ONGEAG wat sy of haar oortreding teen my was!

Hierdie waarheid word nog eens herhaal in Kolossense 3:13-14, wat duidelik bepaal: "Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so MOET julle ook doen..
Weer is dit duidelik dat vergifnis nie 'n keuse is wat ons kan uitoefen nie.  Christus verwag dat ons mekaar MOET vergewe, ongeag die nadeel wat ons ly - sóós Hy ons vergewe het!  Hoe het Hy ons vergewe?  Hy het vir ons aan die kruis gesterf!  En juis vanweë hierdie volmaakte vergifnis moet ek daarna streef om myself te beklee met daardie selfde Christus LIEFDE.
Is ek en jy regtig bereid om daardie persoon wat my om een of ander rede innerlik gekrenk het, wat my afgebreek het en my verneder het voor ander mense of mede-kollegas, of daardie werknemer of mede-kollega wat my besigheid onder my uitgetrek het, óf daardie man wat my dogter verkrag het, óf die dronkaard wat met 'n motor my kind se lewe verwoes het, ensomeer, ensomeer. aan 'n kruis te sterf?  "Verseker nie!", sal ons gou sê.  EK wil eerder sien dat juis dáárdie persoon opgesluit word, of sélf ook verneder word, of vernietig word, vir dit wat hy my aangedoen het!

Ons wil mos altyd sélf wraak neem.  En tog, dít is NIE wat Jesus van ons verwag nie.. "Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here." ( Romeine 12:19 )

Wat verwag Jesus dan van ons?  Efesiërs 4:32 stel dit so mooi duidelik: "Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar ; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het."

"Nee, maar dis ONMOONTLIK om hom te vergewe, óf om te vergeet wat hy aan my gedoen het!"  Sê my, is ek en jy groter of belangriker as God?  Sê my verder, weeg dít wat daardie persoon aan jou gedoen het, énigsens op aan dit wat jy en ek die afgelope aantal jare in ons persoonlike lewens dáágliks aan God gedoen het ?
As God dus bereid is om my en jou te vergewe vir alles wat ek en jy aan Hóm gedoen het, EN NOOIT WEER DAARAAN TE DINK NIE, WIE is ONS om te WEIER om ons medemens te vergewe!?  Sou ons weier om te vergewe, EN te vergeet, soos God dit baie duidelik doen, sê ons dus effektief vir God dat ons dink dat ons beter is as Hy, groter is as Hy, of onsself nie noodwendig eens gebonde ag aan Sy Bybelse opdragte nie! Nee, wat dáárdie opdrag is mos nie op MY van toepassing nie!

Let asseblief mooi op dat vergifnis nie 'n PROSES is waardeur ons kan gaan nie.  Vergifnis is iets wat ons oombliklik moet doen.  Ek kan nie 'n persoon wat my verneder het, of tenagekom het, of seergemaak het, vandag so 'n klein bietjie vergewe vir dit wat hy my aangedoen het, môre so 'n bietjie meer, en oormôre, en die dag daarna, totdat EK uiteindelik voel ek het hom nou genoeg vergewe nie!  Dit wérk nie so nie!  As ek vergewe, vergewe ek en klaar!  Want só het God my en jou vergewe ..

Ons almal ken die baie bekende gedeelte uit die "Onse Vader" gebed wat lui: "... en vergeef ons ons skulde, NET SOOS ons ook ons skuldenaars vergewe." Kom ons borduur hierdie sin net vir 'n oomblik bietjie andersom. "Vader, ek het my skuldenaars net so 20% vergewe, vergewe U my dan ook maar net so 20% asseblief!"  Mens, klink die volgende nie dalk beter nie: "Vader, ek het my skuldenaars vandag ALMAL 100% vergewe, vergewe U my ook 100% asseblief!"  Maak nogal 'n verskil om só daaraan te dink, nê? Die keuse lê, WEER EENS, by óns oor hoe ons wil hê God ONS moet vergewe!  Heeltemal, of glad nie?  Want jy sien, daar is nie 'n  tussen-in nie.
Met ware, Geesvervulde, godvrugtige liefde in ons, sal ons nie anders kán as om daardie ander persoon wat teen ons oortree het, te vergewe nie!  Kom ek sluit af met die woorde van 1 Johannes 1:9 wat dit so mooi stel:
"As ons ons sondes bely, hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van ALLE ongeregtigheid te reinig."

Kom ons bely ons sondes ELKEEN voor God, ons aanvaar Sy vergifnis, ons HOU OP om teen Hom te sondig, ons lewe soos Hy wil hê ons moet lewe, en kom ons VERGEWE ook ons medemens as hulle teen ons oortree, soos Hy van ons verwag - ONVOORWAARDELIK!

tiaan gildenhuys (tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...