Monday 10 November 2014

Versigtig vir daardie gemaksone...







Deut 32:13-18: “Jesurun het alles in oorvloed gehad; hy het in opstand gekom … hy het dom geword.” (vs. 15).

Baie jare gelede, vertel Eerw Dr. Thomas De Witt Talmage (1832 – 1902) is 'n groot getal bykorwe na die eiland van Barbados in Wes-Indië geneem. Die bye het dadelik, volgens gewoonte, ywerig begin rondvlieg om heuning bymekaar te maak vir die komende winter. Op die Barbados eiland is daar nie 'n winter nie – net 'n voortdurende somerklimaat.

Toe die bye dit agterkom, het hulle hul ywerige werkery gestaak en net rondgevlieg en die inwoners begin steek. Die doel waarvoor hulle na die Barbadoseiland geneem is, om vir die inwoners heuning te voorsien en 'n seën te wees, het hulle verbeur en 'n plaag geword, wat vir die inboorlinge pyn en ongerief gebring het.

Dit is by ons ook 'n natuurlike neiging om in omstandighede van oorvloed en gerief ons inspanning en ywer te verslap, ons aan ledigheid oor te gee en, ongelukkig, soms ook stekerig teenoor ander te raak. Ons spreekwoord is ongelukkig waar: Ledigheid is die duiwel se oorkussing.

Eerw. Jay het eenkeer in Bristol gepreek. Briefies met gebedsversoeke is na hom toe deurgegee. Een briefie het gelui: “Bid vir my. My besigheid floreer”. Eerw. Jay het vir homself gesê: “Hier is 'n man wat die Bybel baie lees en iets van die bedorwenheid van sy eie hart ken.” Dit was ook Dawid se ondervinding: “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan U woord” (Ps 119:67).

In tye van oorvloed en gerief word ons gebedslewe korter, ons Bybellees word minder, want ons het nie bemoedigende beloftes nodig nie, en baie keer word ons stekerig teenoor ander mense. Die vroeëre Christene het ook in tye van vervolging naby aan die Here gelewe, maar sodra hulle omstandighede maklik geword het, het afvalligheid ingekruip.

Paulus skryf aan die gemeente in Galate: “Julle het mooi aangegaan. Wie het julle van koers laat verander… God het julle geroep om vry te wees. Maar dit beteken nie dat ons sonde kan doen en dan die vryheid gebruik as ' n verskoning nie.”

GEBED: HERE, ek keer vsndag terug na U weë soos dit hoort.

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...