Wednesday 5 November 2014

Het jy jouself lief deel 1/3

                                                                                                                                                                                                                                                       

Die skrif verwys telkemale daarna dat ons ander moet liefhê soos onsself.
Is dit moontlik om onsself lief te hê?

Hierdie kan as ‘n meetinstrument beskou word: Hoe lief ek myself het, bepaal hoe lief ek ander het.
Dit bepaal ook my geestelike stand in Christus
.
Liv 19:18 “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.
Liv 19:34 “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself...”
 Matt 19:19 “Eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Matt 22:39 “En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Wat ons ook hieruit leer is dat dit belangrik vir ons is om te weet in watter mate ons onsself lief het.
Jy moet jouself liefhê. Ontlok hierdie woorde ‘n negatiewe reaksie by jou? Klink dit nie selfsugtig en egoïsties nie?

Om jouself lief te hê beteken nie om selfgesentreerd te wees nie. Dit beteken om respek vir jouself te hê, om jouself te beskerm, vir jouself om te gee.

 Kyk weer na Liv 19:18: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” Moet dus nooit ‘n wrok teenoor iemand hê nie, maar “hê jou naaste lief soos jouself.” Of het jy ‘n wrok teen jouself, teen iemand anders?

 En moet nou nie in ‘n geredekawel vasval van “Wie is my naaste” nie. Jy weet tog dis jou huisgenote en diegene in jou daaglikse omgang.

 As jy dus nie vir jouself lief is nie, dan sal jy wraakgierig of haatdraend teenoor ander wees. Dit mag nie so wees nie, dan is daar fout met hoe lief jy jouself het. Is jy wraakgierig en haatdraend met jouself? Sommige mense is. Dit is al bewys dat as mens iemand haat, jy, en nie die ander persoon nie, die eintlike lydende party is.

Daar was die vrou wat gebel het en gevra het ons moet haar besoek want sy verlang gebed omdat sy baie siek is. Op pad na die adres het die Heilige Gees reeds  deur die gawe van onderskeiding, dit duidelik gemaak dat haat die oorsaak van die vrou se ernstige siekte is.

Met ons aankoms daar het ons dit so aan haar meegedeel. Sy het bevestig dat sy iemand verskriklik haat, maar het sy bygevoeg: “Darem nie meer so erg nie.”

Ons het aan haar gesê dat die haat nog steeds so verterend is, maar dat die bloedkanker intussen sulke ernstige afmetings begin aanneem het, dat haar gedagtes nou meer bevange is met haarself en die dreigende dood, as met die haat.

Ons het haar ook meegedeel dat die haat die oorsaak van haar ernstige siekte is. Sy wou nog skerm, toe ons sê: “Nou goed, as daar nou ‘n geklop aan die voordeur is en jy maak oop en daar staan die mense wat jy so haat, sal jy bv sê: ‘Goeie naand, lank laas van julle gehoor. Kom in, maak julle tuis. Wat drink julle, tee of koffie?’
En sy het geantwoord: “Nee, darem nie so nie.”

Die vrou het nie haarself liefgehad nie. Sy het toegelaat dat die verterende haat haar liggaam vernietig.
Alhoewel sy versoek het dat ons vir haar moet bid vir genesing, was 1 Tim 5:22 van toepassing: “Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.”

 As ons summier vir haar die hande opgelê het, het ons gemeenskap met haar sondes gehad, dan was ons onrein.

Na berading het ons vir haar gebid en gevra dat God haar asseblief moet genees, maar op voorwaarde dat sy die haat los en vrede met die ander mense maak.

Ons het haar drie jaar later in ‘n supermark raakgeloop. Sy het oorgeloop van vreugde en blydskap, sy was volkome genees.

Mens weerspieël ook jou liefde vir jouself wanneer jy jou vader en moeder eer. Matt 19:19
Moet mens die ongereddes ook liefhê? Natuurlik!

Mark 12:30 “Jy moet die Here jou God liefhê (Hoe?) uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. Lees dit weer want dis nog al ‘n gewigte saak.
En strofe 31: “En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.”

“Hieraan gelyk” beteken “dieselfde”. As ek God moet liefhê met my hele hart, my hele siel, my hele verstand, my hele krag, dan moet ek my naaste ook so liefhê. Die liefde vir God staan gelyk aan die liefde vir myself en my liefde vir ander. Hoekom? Omdat God vir jou en die ander persoon ewe lief is.

 In die lig hiervan, vra weer: Hoe lief het ek myself?


Deel 2/3 vervolg

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...