Monday 10 November 2014

Kry jy ook swaar in die lewe?.







Ps 119:65-72: "Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek U voorskrifte geleer" (vs. 71).

Daar is ‘n sonderlinge meerjarige denneboomsoort, die Lodgepole Pine, wat volop in die Yellowstone Nasionale Park in Amerika groei. Die dennebolle kan vir jare aan die boom hang sonder om oop te gaan. Al val so 'n dennebol op die grond bly dit heel.  As 'n veldbrand sou woed en al die bome en struike afbrand en vernietig, bars hierdie dennebolle oop en begin groei. Hierdie dennebome is soms van die eerste groei en groenigheid na 'n hewige veldbrand.

Hierdie kwaliteit van behoud onder groot beproewing is een van God se wonder genadewerke, nie net in die natuur nie, maar ook in mense se lewens. Dit is juis die skroeiende beproewing wat 'n besondere lewensgehalte te voorskyn bring. Dit is die pad wat verskillende van die bruikbaarste Bybelfigure gegaan het: Josef, wat as slaaf na Egipte toe verkoop is en daar uit wraak in die tronk beland het, het die redder van mense, veral sy eie broers en familie, geword; Daniël is in die leeukuil gegooi en het daarna God se oorwinnende profeet geword; Paulus het hoeveel kere in die tronk beland, is met klippe gegooi, is vervolg en verwerp, maar hy was die oorvloedige verkondiger van die evangelie.

"Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref.." (2 Kor. 4:16,17).

Die Pinksterboodskapper vertel die storie van Louis Braille. Sy pa was 'n leerwerker in 'n Franse dorp. Sy pa stuur hom eendag om 'n els in sy werkkamer te gaan haal. So gretig is hy dat hy hardloop. Hy val. Die els steek in sy oog. 'n Verswering in die oog belemmer later ook die ander oog en kort daarna was dié briljante seun blind.

Sy ouers stuur hom na 'n skool vir blindes. Daar gekom vind Louis dat hulle die letters uit dik papier sny, dit dan weer op ander papier plak en dan voel die blinde kinders met hulle vingers watter letters dit is. Dit was tydrowend en onprakties. So 'n boek sou nooit gedruk kon word nie.

Op 'n dag lees iemand vir Louis van die Franse leëroffisier wat met opgehewe dotjies letters maak, sodat sy manne sy bevele in die donker kan lees. Hy het geleentheid gekry om met die offisier te gesels. Hieruit volg dat Louis begin om met 'n els, dieselfde els wat in sy oog gesteek het, 'n stelsel van dotjies in papier te druk. Hieruit het die Brailleskrif gevolg wat aan die wêreld se blindes 'n leesbare skrif gegee het, sodat boeke, en selfs die Bybel, vir hulle in leesbare vorm gegee kon word.

GEBED: Here, vandag wil ek my beproewing beskou as U geleentheid om 'n beter vrug in my lewe te skep. Halleluja!

Jesus Groete

Indien jy geestelike berading of gebed benodig, kontak my, belindapaar@gmail.com


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...