Wednesday 5 November 2014

Het jy jouself lief? Deel 3/3

“Jy het ‘n nuwe identiteit.

“Vir jou om ‘n verhouding met God te hê, moet jy met Hom verkeer en Hom aanbid, juis gebaseer op wie jy is in jou gees en nie jou vlees nie. Dit is in werklikheid die groot transformasie in die Christelike lewe, dat ‘n persoon se identiteit moet verander.

“Ons moet aan God verwant wees, nie gebaseer net op wat ons in die fisiese  doen nie, ook nie met wat in ons gedagtes aangaan nie, maar juis met wie jy in jou gees is op grond van wat Hy vir jou gedoen het. Dit is ‘n voltooide werk, en iets wat nooit verander nie, nooit fluktueer nie.

“Jy is geskape in geregtigheid en ware heiligmaking. Dit is die geestelike deel van jou. Jy moet gemeenskap met God hê in gees en in waarheid. Jy moet vasstaan in hierdie identiteit van wie jy in Christus is.” 

 Kyk na die teenoorgestelde: As ‘n kind grootword in ‘n omgewing van lof en bemoediging, dan sal so ‘n kind leer om te waardeer en selfvertroue opbou.

As ‘n kind grootword in ‘n omgewing van verstandhouding, uitdruklike voorwaardes en waardes, wedersydse begrip, dan sal ‘n kind leer om geduldig te wees.

As ‘n kind in ‘n regverdige omgewing grootword, dan sal hy ook regverdig wees. En as ‘n kind in ‘n veilige liefdevolle omgewing grootword dan sal hy glo en vertrou.

So lei ‘n lewe van goedkeuring tot die ontwikkeling van selfwaardering. Aanvaarding en vriendskap lei tot liefde vir ander.

As mens nie so grootgeword het nie, dan kan jy soms ‘n buffel wees, ongenaakbaar, wreed, maar jy is en bly die een wat daaronder ly. Jy het jou eie grootste vyand geword. Jy is nie lief vir jouself nie en nou kan jy nie lief wees vir ander nie.

As ons onsself liefhet en ons skep ‘n omgewing van lof, bemoediging, wedersydse begrip, veiligheid, goedkeuring, ondersteuning, aanvaarding, vriendskap en liefde, dan bereik ons wasdom as man en as vrou. Dan word so ‘n man en vrou mense van waardering, van oortuiging, van vertroue, van billikheid, dat sal hulle van goeie inbors wees en  liefdevol teenoor diegene om hulle.

Om ander lief te kan hê, moet ons onsself liefhê. Onthou: Die liefde, is ‘n Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

As jy nie die Koninklike wet volbring nie, dan doen jy nie goed nie. As mens nie die Koninklike wet kan volbring nie, dan moet mens met selfondersoek begin. Jy durf nie so voortlewe nie.

Wanner mens begin om jouself te respekteer, wanneer mens vir jouself grense van behoorlikheid stel (soos dat jy nie vuil grappe sal vertel of die Bybel of die Hemel sal bespot, of jouself dronk drink nie, of iets neem wat nie aan jou behoort nie), wanneer jy die skoon dinge in die lewe ontdek, daardie dinge waarvan jy hou, dan word jou lewe klaar veel verdraagsamer, dan kan jy ander begin liefkry.

God het ‘n plan om my en jou te laat floreer, maar dan moet ons, ons gebrek aan ware liefde erken, dit bely en vergifnis verkry. Die waarheid maak ons vry. As ‘n vreemdeling met jou ‘n gesprek gevoer het em van jou af weggaan, moet dit vir hom of haar voel asof hulle in die teenwoordigheid van Jesus self was.

Mens wonder oor die baie egskeidings, gebroke huise. Is dit dan nie mense wat een mooi dag hul liefde aan mekaar verklaar het nie, wat belowe het om saam te staan tot die dood hulle skei nie, wat trou aan mekaar belowe het nie?

Een van die twee, of beide, had nie hulself lief nie en daarom kon hulle nie mekaar liefhê nie. Beradings bring die probleem gou na vore. Die vraag moet selfs gevra word of hulle God liefgehad het met hul hele hart, hele verstand, hele siel en al hulle krag, toe hulle getrou het.

Lees aandagtig hoe lees Efes. 5:28-29 “So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief. (hoekom moet ‘n man sy eie liggaam liefhê?) want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die HERE die gemeente.”

Let op die vergelyking.

 ‘n Man moet sy eie vrou liefhê (Hoe moet hy haar liefhê?) soos wat hy sy eie liggaam liefhet. En, as hy sy eie liggaam liefhet, dan sal hy altyd sorg dat sy liggaam skoon is, dat hy sy liggaam voed en koester sodat hy altyd vir sy vrou lieflik en aanvaarbaar sal wees. Hy sal dit doen net soos wat die HERE sy gemeente liefhet en voed en koester.

Strofe 31 lees dat die man sy ouers sal verlaat en sy vrou sal aankleef en liefhê omdat hulle “een vlees” is.  ‘n Man moet dus sy vrou liefhê soos wat hy sy eie liggaam liefhet. Hy moet haar sien as sy vlees, want hulle is een vlees.

Ons moet die Koninklike wet gehoorsaam. Ons moet ander liefhê soos wat ons onsself liefhet. Vraag is: Hoe lief het ons onsself?

In ‘n mate is jy lief vir jouself. Jy trek altyd netjies aan. Jou hare is altyd netjies gekam, jy is glad geskeer, jou naels kort en skoon, jou skoene blink, jou werkplek is netjies, jou motor blink, jy is stiptelik, getrou. Die fondament is daar, bou net voort daarop!

Paulus sê ons moet bo die omstandighede leef en nie daaronder nie. Jy moet aan die voorpunt wees, nie aan die stertkant nie. Wees lief vir jouself, beskerm jouself... en, doen dieselfde vir andere. Wat jy vir jouself gun, gun dit ook vir ander.

Onthou jy die gelykenis van die talente. As jy jou talente gebruik gee Hy vir jou meer. So lief soos wat jy jouself het, wees ook net so lief vir ander!

Om jouself lief te hê beteken nie om ‘n trotsaard vol wêreldse liefde en selfverheerliking en arrogant te wees nie. Wees dankbaar vir die mens wat God jou geskape het.

Die bagasie wat bindinge in jou gees opbou weens self-verwerping, self-haat, onwilligheid om jouself te vergewe, is soos selfmoord. Wat beteken dit?

Self-verwerping, om nie jouself te aanvaar soos wat God jou gemaak het nie en jouself daaroor te kasty, vreet soos ‘n vernietigende kanker aan jou lewe.

Dis presies dieselfde as wanneer jy jouself haat, wanneer jy ‘n smartvraat is, jouself blameer vir baie dinge, foute uit jou verlede teen jouself te hou, onvergewensgesind wees, met bitterheid rondloop oor wat ander aan jou gedoen het. So vernietig jy jouself geestelik, fisies en emosioneel.

Jy sien jouself as waardeloos en wil bewys dat dit nie so is nie, daarom druk jy jouself in onredelike prestasies in sodat jy goed kan voel. Jy wil jouself gereeld bewys terwyl jy eintlik niemand beïndruk nie.

Baie mense is nie tevrede met hul eie gesigte en liggame nie. Hulle beskou hulself as dom, lelik, onnosel, lomp, nikswerd... en dit terwyl hulle in die beeld van God geskape is. As jy fout met jouself vind, vind jy fout met God se handewerk. Gen 1:26

Ons moet dankbaar wees. Ons moet sê soos Dawid “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.” Ps 139:14. Ek en jy is ook “vreeslik wonderbaar!”

Dawid het nie gespog nie, maar hy het sy dankbaarheid teenoor God betuig.

Ons moet onsself vergewe! (Hoekom?) Want God het ons vergewe. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Ps 103:12

Noord en suid is sowat 19 200 km van mekaar af, maar die afstand tussen oos en wes, is onmeetbaar.

Is jy nou in die moeilikheid by die HERE? Stellig nie.  “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.” Dit is die sleutel: “Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.” Rom. 4:7-8


“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:12-13 – Sjibbolet

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...