Monday 10 November 2014

Jou Gesingheid teenoor ander.





Is jy 'n brug bouer?

Rom 5:1-6: "Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is…" (vs. 2).

Die dorpsraad van 'n plattelandse dorp het 'n dik waterpyp oor 'n diep en lang sloot gelê om vir 'n woonbuurt meer water te voorsien. Nie lank nie of die woonbuurt se inwoners, en veral die kinders, het tot ergernis van die raadslede oor die waterpyp kortpad dorp toe en skool toe begin loop. Die lopery oor die pyp het nie alleen skade vir die pyp nie, maar ook gevaar vir die gebruikers ingehou. Iemand kon afval, en die sloot was regtig diep.

'n Raadsvergadering is belê om vir dié nuwe probleem 'n oplossing te kry. Een raadslid het voorgestel dat doringdraad om die pyp gedraai word. "Lemmetjiesdraad," het 'n ander raadslid die eerste voorstel verbeter. "Lang, skerp penne moet onder in die sloot ingeplant word. Dit sal die mense afskrik," was 'n ander voorstel.

Toe daar stilte kom na al die afskrikplanne oorweeg is, vra 'n raadslid wat heeltyd in stilte na alles geluister het ook 'n spreekbeurt. "Ons is verantwoordelik vir ons dorpsmense se veiligheid én ook hulle gerief. Die misbruik van ons waterpyp het getoon dat 'n behoefte aan so 'n kortpad bestaan. Ek stel voor ons versterk die pyp en bou 'n brug oor die pyp, met reëlings aan die kante vir veiligheid." Sy voorstel is eenparig aanvaar.

Ons is dikwels in die posisie om vir iemand anders 'n brug te bou, óf om vir hom 'n hek op te rig. Ps 15 beskryf 'n man in 'n geëerde posisie: "Wie mag op U heilge berg vertoef? Hy wat …doen wat reg is…nie kwaadpraat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie."

God het 'n groot behae in 'n mens wat aan 'n ander goed doen. Die hekoprigter is gewoonlik iemand wat in eie hart ongelukkig en onbevredig is en dan sy eie ongelukkigheid ten kwade laat oorvloei na 'n ander toe, en dan nog ongelukkiger word. Die brugbouer is iemand wat in eie hart gelukkig en tevrede is en sy ruimhartigheid ten goede laat oorvloei na 'n ander toe, en dan in sy eie hart nog gelukkiger word.

"Moenie 'n weldaad weerhou… terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie" (Spr 3:27). "Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen…" (Gal 6:10).

GEBED: Here, help my asseblief om alle hekke af te breek en brûe te bou.

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...