Wednesday 5 November 2014

Het jy jouself lief deel 2/3

Ongereddes is op pad na die ewige verdoemenis. As iemand nie vir jou en vir my liefgehad het nie, dan was ons ook nog op die verkeerde pad.

“Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die (Koninklike) wet vervul.” Rom 13:8

 “Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Rom 13:9

As jy jouself liefhet, respek het vir jouself, vir jouself omgee voor God en die mens, dan sal jy nie egbreek, doodslaan en dergelike dinge doen nie nie.

En weer ‘n keer: “Want die hele (Koninklike) wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Gal 5:14

Het jy jouself lief? Hoeveel het jy jouself lief, ‘n bietjie of met jou hele hart? Kyk na die waarskuwing: “Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.” Gal. 5:15

Liefde is en bly die Groot Gebod. Wandel in die ware liefde en daar sal nooit probleme wees nie. Die liefde, is ‘n Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

As ons nie onsself lief het nie, kan ons nie ons naaste liefhê nie, nie mekaar liefhê nie, dan doen ons nie goed nie.

Mense wat iewers in die lewe seergekry het, sien soms net die  veroordelende taal in die Bybel raak. Hulle besluit dan verkeerdelik dat dit God se wil is dat hulle sonder eerbied en liefde in die lewe behandel is.

Die euwel van ons tyd is persepsies en wanpersepsies, pleks van feite. Met die korrekte lering verstaan hulle heelwat later in die lewe dat God vir hulle lief is, dat hulle hulself moet liefhê. Dan begryp hulle eers dat die nare ondervindinge van die verlede nie van God af gekom het nie.

Daar is Christene wat onder die waan verkeer dat alhoewel ons ander mense moet liefhê, dit verkeerd is om jouself lief te hê. Hulle besef nie die een liefde gaan hand aan hand met die ander liefde, wat dieselfde liefde is nie.

Die Bybel leer dat ons nederig moet wees, maar om onsself te verkleineer is verkeerd.

Die wanbalans het in menige ouerhuis ontstaan. As ‘n kind grootword in ‘n omgewing van kritiek, van verbale mishandeling, van haat, van skande, dan sal so ‘n kind net so in sy volwasse lewe optree. Die rede daarvoor is dat die kind in vrees lewe, vrees dat hy of sy weer en weer kan seerkry. Hulle lewensstyl is een van voortdurende selfbeskerming.

Jy voel bedreig deur diegene wat jou juis opreg liefhet en opreg vir jou omgee, selfs onder jou huisgenote, vir jou is dit te goed om waar te wees. Jy vertrou nie die vrede nie.

Tog vind jy dit vreemd dat elke keer wanneer jy sulke opregte mense ‘n koue skouer gegee het, hulle selfs afgejak het, lelike dinge vir hulle gesê het, dan loop jy dae aaneen en worstel, want diep hier binne jou weet jy, jy het nie reg opgetree nie, maar o wee, om verskoning te maak, te sê jy is jammer, is ‘n byna onoorkombare struikelblok.

Sommige mense beleef ‘n misverstand oor wat berou is. Berou is nie perfeksie nie, maar ‘n verandering van rigting. Die verlore seun het gedink hy doen reg. Sy berou het beteken dat hy van rigting moes verander. Dit het beteken ‘n verandering van gedagte, ‘n verandering van hart en ‘n verandering van rigting.

Wanneer ‘n mens omdraai, dan is daar geen verwyte nie, geen oordele nie, net trane en blydskap.
“En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel [liefde van vanuit die Vader se hart gestraal vir sy seun] en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die Hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete.  En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. (Hoekom?) Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.” Hulle het ‘n partytjie, ‘n fees gehou.”

Maar alles is nie verlore nie. Daar is steeds tyd om in wasdom te groei en te genees.
Andrew Wommack verduidelik dit so: “Sommige mag dink, wel, toe ek die eerste keer aan God geglo het, toe het ek geglo dat ek geheel en al vergewe was en gereinig is en alles was goed, maar sedertdien het ek gesondig, ek het God weer gefaal.

“As jy gefaal het, het jy gefaal in jou verstandelike en emosionele deel, maar jou gees het nie gesondig nie.

“Jou gees is geseël soos wat ‘n vrou konfyt in ‘n fles plaas, kerswas oorgooi om dit lugdig te maak om alle onsuiwerhede uit te hou en draai dit dan styf toe. God het jou verseël en sonde kan nie jou gees binnedring nie.


Deel 3/3 vervolg

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...