Wednesday 5 November 2014

Christus, die Oorwinnaar!

Kol 2:8-15: "Deur dit (die skuldbewys teen ons) aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het die bose magte ontwapen…" (vs. 14,15). 


Jare gelede het 'n Sweedse koerant vertel hoe die koning van Denemarke, Christiaan X, op sy oggendrit te perd deur Copenhagen 'n swastika oor 'n openbare gebou sien wapper het. Dit was teenstrydig met 'n verdrag wat Hitler met sy land gehad het. "Verwyder die vlag," beveel die koning die bevelvoerende offisier. 


Hy weier kortaf. "Dit bly daar. Nuwe opdrag van Berlyn af." "Twaalfuur moet die vlag af wees, anders stuur ek 'n soldaat om dit af te haal," verklaar die koning saaklik.


 "Enige soldaat wat dit waag, sal geskiet word," waarsku die offisier. "Ek sal self daardie soldaat wees!" antwoord die koning. Die vlag is betyds afgehaal. Op daardie stadium kon die Nazis nie waag om die koning van Denemarke te skiet nie. 


Die Here Jesus Christus het ook in eie persoon Satan in hierdie wêreld onttroon. Met groot woede probeer die Satan sy mag terugwin. Die Here Jesus se kerk, Sy volgelinge, is Satan se teiken. Satan tas Hóm aan deur Sy gelowige volgelinge aan te val. Christus het Satan egter oorwin. 


Elke mens wat aan Christus behoort word deur hierdie oorwinning van Christus beskerm. "Nou het ons God die redding gebring, nou is Sy mag en koningskap hier, en die gesag van Sy Gesalfde (Christus)! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het…" (Openb 12:10,11). 


GEBED: Here, dankie, ek skuil onder U oorwinning....

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...