Wednesday 1 May 2019

n Pad na Jesus!


Hoeveel keer het ons nie al die verskoning by mense gehoor dat hulle eers hierdie of daardie ding moet aflê of oorwin, voordat hulle Jesus kan aanneem as Saligmaker of voordat hulle weer na Jesus kan terugkeer in verhouding met Hom nie? Baie keer is dit slegs verskonings wat mense aanvoer juis om nie die keuse vir Jesus te maak nie en ander kere is dit bloot omdat hulle dink dat Jesus hul nooit vir daai sonde sal vergewe nie.

Jesus het egter self op 'n keer gesê dat dit nie die mense wie gesond is wat die dokter nodig het nie, maar juis die wie siek is.

Mar 2:16  En toe die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom saam met die tollenaars en sondaars sien eet, sê hulle vir sy dissipels: Wat is dit dat Hy saam met die tollenaars en sondaars eet en drink?
Mar 2:17  En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

Daar is 'n paar baie goeie voorbeelde in die Bybel wat duidelik daarop wys dat dit juis mens se onreinheid is, wat vir jou 'n pad oopmaak reguit na Jesus toe. Ek dink onder ander aan die verlore seun wat teruggekeer het huistoe nadat hy sy onreinheid besef het en bereid was om dit te bely...en dan ook aan Maria Magdalena wie 'n vrou met slegte sedes was en bereid was om haar voor Jesus te kom verneder en verootmoedig en van wie Jesus ook gesê het dat sy baie sondes gehad het waarvoor sy vergeef is.

Ek wil egter met hierdie weekstuk fokus op die vrou wat aan bloedvloeiing gely het vir twaalf jaar en al haar geld op dokters spandeer het en nogsteeds nie genees was nie. Sy het egter gehoor dat Jesus daar verby gekom het en het besluit om vas te hou aan die Skrif in Mal 4:2 wat sê dat daar genesing onder Sy vleuels sal wees (corner of a garment or peace of clothing).

Daar was egter 'n wet in daardie tyd wat bepaal het dat enige vorm van bloedverlies uit die mens se liggaam, hom of haar onrein gemaak het en dan moes die persoon waar hy of sy ookal beweeg het, hardop bekend maak dat  hulle onrein is, sodat iemand anders nie ook besoedel word wanneer hulle aan daardie persoon of sy kleed sou raak nie. Hierdie vrou was deeglik bewus van hierdie wet en ook welbekend dat sy onrein was en daarom sou sy verseker dit bekend gemaak het oppad na Jesus toe. Verder sou sy in haar toestand baie swak gewees het en sou sy verseker nie die krag gehad het om deur 'n skare mense te beur om by die Meester uit te kom nie.

Dit was dus juis haar onreinheid wat sy verklaar het wat vir haar 'n pad reguit na Jesus toe oopgemaak het, aangesien niemand bereid sou wees om deur haar besoedel te word nie. Verder het Jesus ook onmiddelik geweet dat krag uit Hom gegaan het toe sy Hom aangeraak het, want dit was die geloof wat sy gehad het in die Woord, wat die krag van God ontsluit het vir haar genesing.

Luk 8:43  En ‘n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie,
Luk 8:44  het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou.
Luk 8:45  Daarop sê Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het? En toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat by hom was: Meester, die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het?
Luk 8:46  Maar Jesus antwoord: Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het.

Netsó is Jesus se krag vandag nog tot ons beskikking as ons bereid is om in geloof te staan op Sy woord!

Ek wil jou dus vandag uitnooi...bring jou onreinheid na Jesus, want dit is juis dit wat vir jou 'n pad oopmaak tot Sy genesing vir jou gees, siel en liggaam!


GEBED: 

Here Jesus, baie dankie dat U nie net vir ons sondes gesterf het nie, maar dat daar deur U wonde en kneusings aan die kruis, vir ons volkome genesing gekom het in gees, siel en liggaam. Dankie dat U nie met ons handel na ons ongeregtigheid nie, maar dat dit juis ons onreinheid is, wat vir ons 'n pad oopmaak reguit na U toe...amen!

 Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...