Monday 13 May 2019

Wees stil


In die laaste tyd het ek baie mense ontmoet wat almal min of meer dieselfde probleem ondervind in hul geestelike lewe, en dit is dat hul nie weet hoé om stil te word by die Here se voete nie. Die dolle gejaag van vandag se lewe met al sy vereistes, het selfs die kinders van die Here in hierdie hoofstroom van “besig wees” ingetrek en sukkel baie om daai “afsit”- knoppie te vind en net rustig by Vader se voete te kom vrede vind.

Baie word dan ook in “werke” ingetrek deur kerke en organisasies en verloor daardie intimiteit met Vader...terwyl die Woord tog sê:

Psa 62:5 Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!

Ek ondervind dan ook dat daar by diésulkes werklik 'n verlange is terug na daardie plek van stilwees met Vader, want dit is daar waar ons weer Sy vrede kan vind.

Psa 46:10 Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.

Met ons onlangse besoek aan Israel, het Vader my een oggend net voor 3h00 wakker gemaak en my langs die see van Galilea laat sit vir tenminste 2 ure net in absolute stilte. Ek het aanvanklik gesoek na Vader se stem, maar later besef dat ek dalk net 'n bietjie moet stil wees en wag. Dit het naderhand só stil geword in my ore dat hulle eindlik gesuis het en dit was vir my die wonderlikste ervaring dat Vader alle geluide rondom my net kom afsny het.

Ek dink tog dat Vader somtyds wil hê dat ons net in absolute stilte by Hom moet kom sit sonder ons lysies (aangesien Hy tog weet wat op ons hart is)..en net in Sy vrede moet kom rus. Daarin word ons kragte weer vernuwe en sien ons weer kans vir die klomp Goliats wat ons omring.

Jes 40:31  maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Dit is in daardie stilte wat ons baie kere ook onsself weer vind en kan voorraad neem van ons lewe en dan deur die Gees gelei kan word om aanpassings te maak waar nodig. Ek het oor die naweek hierdie raad aan 'n vriendin gegee wie ook met hierdie dinge geworstel het. Sy getuig later dat sy net gaan stil word het en aan Vader net een vraag gevra het, en dit was: “Vader wys my my hart”...en sy het toe ook van Vader die mooiste visioen daaromtrent ontvang.

My liewe boeta en sussa, ek wil jou vandag aanraai en bemoedig...maak 'n doelbewuste keuse om werklik te gaan stil word by Vader en kyk dan wat gebeur!

Jes 30:15  Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie

Mag jy reg kies en mag die vrede van die Here saam met jou wees in hierdie komende week!

 Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Luiste na die lied van Selah - Be still
https://www.youtube.com/watch?v=e1k3ngMZ0ec

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...