Tuesday 28 May 2019

"En wat noem julle My: Here, HERE! en doen nie wat Ek sê nie?"


Lukas 6:46: "En wat noem julle My: Here, HERE! en doen nie wat Ek sê nie?"

Hierdie is een van die heel eerste teksverse wat die Here Jesus Christus hard op my hart begin druk het toe ek 20 jaar gelede in 'n persoonlike verhouding met Hom begin ingaan het. Ek het op daardie stadium net geglo jy moet die Bybel heeltyd reg "interpreteer", en het beslis niks GEDOEN wat die Bybel sê ons moet doen nie.

Dit het uiteraard daartoe gelei dat ek so besig was om die Bybel te interpreteer en daaroor te redeneer of te argumenteer, dat dit prakties geen effek op my lewe gehad het nie. Ek het vir 36 jaar van my lewe 'n oneffektiewe geloofslewe gelei, selfs al was ek vir jare 'n diaken en selfs 'n ouderling in die kerk.

Eers toe ek Jesus Christus in 1999 persoonlik ontmoet het, en Hy my 'n honger begin gegee het vir Sy Woord, en ek self Sy Skrifte begin lees en ondersoek het, en ek toe begin DOEN het wat die Bybel sê, het die krag van God in my lewe 'n werklikheid geword.


Maar wat moet ons dan doen wat die Bybel sê ons moet? Daar is geen manier dat ek alles wat die Bybel sê ons moet doen, in hierdie klein spasie kan inskryf nie. Daarom word ons in die Bybel opdrag gegee om elke dag ons Skrifte te ondersoek, juis sodat ons kan begin leer watter dele is op elkeen van ons van toepassing.

Want die een gelowige doen dalk nog nie wat die Bybel sê hy moet doen teenoor sy vrou nie, en moet hy die Bybel begin bestudeer om te sien wat verwag God van hom as man in sy huwelik. Iemand anders doen dalk weer nie wat God van haar verwag in haar verhouding met haar ma nie, en moet sy haar Bybel begin bestudeer om te sien wat leer die Bybel haar oor vergifnis.

'n Verdere gelowige doen dalk nog nie wat die Bybel bepaal hy moet doen in sy finanies en in sy besigheid nie, en moet hy die Bybel begin bestudeer om te sien wat God van hom verwag as rentmeester in sy besigheid.

Vra dalk vir die Here in hierdie week wat is daar in JOU lewe wat jy nog nie volgens die Woord doen nie, en begin net om daardie één ding reg te stel en letterlik te DOEN soos wat Hy van ons verwag, en kyk hoe begin Hy stap vir stap vir jou jou deurbrake gee.


GEBED: 

"Here, hierdie week wil ek vra dat U aan my sal uitwys wat is daar in my lewe wat ek nog nie letterlik doen volgens U opdragte in U Woord nie. Gee my asseblief 'n groter honger na U en U Woord.  En help my asseblief daarna om daardie dinge letterlik te begin toepas in my eie lewe, sodat U ook daardeur in my lewe verheerlik kan word. In Jesus Naam vra ek. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...