Tuesday 21 May 2019

Pyn bly eina!




Pyn is nie lekker nie. Maak nie saak watse pyn dit is nie. Daar bestaan nie iets soos lekker of goeie pyn nie. Pyn is eina!

Daar is so baie soorte pyne in vandag se lewe, met die gevolg dat daar net so baie oplossings of medisyne beskikbaar is vir al daardie verskillende soorte pyne. In die fisiese kan ons ‘n pilletjie vat vir een sort pyn, of ‘n stropie vat vir ‘n ander soort pyn, of dokter toe gaan vir meer ernstige pyne, of hospital toe gaan om groot fisieke pyne reg te maak.

Maar wat van geestelike pyne? Waar gaan ons heen om dit te herstel? Die wêreld skree dadelik almal saam, “Gaan na ‘n sielkundige toe!” maar tog kom daar net nie geestelike genesing nie, hoekom?

Want daar is tog net een antwoord in die geestelike, en dit is Jesus Christus!


Nou wil ek jou iets vertel wat, as jy dit nie geweet het nie, hoop ek dit sink in: Wanneer jy die geestelike pyne genees met die enigste pil wat werk, naamlik die “Gospel ”(die Woord van God), sal dit ook oorswaai en die fisiese pyne in jou lewe genees.

Jesus het reeds aan die kruis vir ons die prys betaal vir fisiese genesing van pyne in ons lewens vandag, deurdat Sy liggaam flenters geslaan was.

Ons moet net die vertroue en geloof daarin hê (soos geskryf in Hebreërs 11:1 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop…) dat Hy dit reeds volbring het, selfs vir ons vandag (… ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.)

Hoe werk pyn dan? Wanneer ons pyn het, is dit ons fisiese liggaam wat pyn het en ons siel treur daaroor. Job 14:22 Net sy vlees aan hom voel pyn, en sy siel in hom treur.

Maar ons gees moet deur onsself gevoed word deur die Woord van God in te neem sodat dit geen pyn ervaar nie en ons hoef nie geestelike martelaars te wees vir Jesus nie, soos geskryf in Psalm 69:30 Maar ek is ellendig en in pyn: laat u hulp, o God, my beskerm!

En hoe word ons gees gevoed? Deur die Woord van God te lees, te lewe, toe te eien vir onsself, nie net elke Sondag en/of Woensdag aand nie, maar ELKE DAG!

Dink terug daaraan toe jy jou eerste aardse liefde verloor het. Jou hart was stukkend en in baie pyn gewees. Dit is ‘n baie seer pyn wat deur jou hart skeur as die persoon nie meer lief is vir jou en nie meer by jou wil wees nie. Nou dink daaraan hoe Jesus se hart moet voel as Sy kinders nie na Hom wil luister nie, nie doen wat Hy sê nie, en sommer maar net ongehoorsaam is aan Sy Woord. Sekerlik, HARTVERSKEUREND!

Die pyne van die lewe kan oorkom word in die fisiese en geestelike deur net te sê, Jesus, U is my alle! En as ons dan begin DOEN wat Hy sê! Lukas 6:46 En wat noem julle My: Here, Here! En doen nie wat Ek sê nie?

Hy SAL die pyne van die lewe geheel en al wegvat en vir jou verberg in Hom. Die pyne sal wel beslis kom, en kom, en kom, maar Hy is getrou en regverdig en deur Hom is die pyne van die lewe oorwinbaar elke dag. Filippense 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Gebed
Here Almagtig, neem asseblief vandag al die pyne in my lewe wat ek het op U, en herinner my dat U reeds vir my die prys daarvoor betaal het aan die kruis, en ek dank U daarvoor opreg met my hele hart. Bedek my asseblief met die Bloed van die Lam sodat ek alle pyne sal oorkom deur die leiding van die Heilige Gees in Christus Jesus. Amen.


Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...