Monday 6 May 2019

Ek wil die Here loof!



Psalm 9:2: " Ek wil die HERE loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel."

Ek het die afgelope aantal jare geleer dat wanneer daar dinge in my gedagtes inkom wat nie van die Here is nie, dink ek of sing ek net die woorde: "Ek wil die Here loof, loof met my hele hart!"

Dit het tot gevolg dat daardie ander gedagtes onmiddellik uit my kop geweer word. En ek sal aanhou om dit te doen totdat ek vrede in my gedagtes het. So het die Here my geleer om my gedagtes gevange te neem tot gehoorsaamheid aan God.

Maar ons moet nie net ons gedagtes gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus deur die Here te loof nie, ons moet ook Sy wonders vertel aan die mense rondom ons. Want ons het geen tekort aan wonders om VAN te praat op 'n daaglikse basis nie.


Watter wonders vra jy dalk? Wel, kom ons kyk na 'n paar wat ons die Here oor kan loof in hierdie komende week:

Wel, eerstens die wonder van die lewe, dat jy en ek vanoggend kon wakker word.

Die wonder van sig, om die son en alles rondom my te kan aanskou.

Die wonder om te kan asemhaal.

Die wonder van familie, en indien ek nie familie om my het nie, die wonder dat God IN my as Sy kind is volgens Galasiërs 2:20. Ek is nooit alleen nie.

Die wonder van voëls wat rondom ons sing en tjirp.

Die wonder van klere aan ons lyf, 'n dak oor ons koppe, kos in ons mae.

Die wonder van 'n loopbaan en 'n werk en dat Hy ons bekwaam maak om ons werk te kan doen.

En die grootste wonder van alles, dat indien ek Jesus Christus in my lewe het, die kosbare wete dat ek vir ewig saam met Hom in die hemel sal wees!

Mag jy in hierdie week ook kies om elke oomblik van elke dag die Here te loof met jou hele hart, en om aan almal rondom jou Sy wonders in jou lewe te vertel.


GEBED:

"Here, hierdie week wil ek elke dag leer om U te loof met my hele hart, en om U wonders in die alledaagse dinge rondom my raak te sien en aan andere te vertel. Vader, gee my asseblief hierdie week U bekwaamheid om dit wat ek in hierdie week moet hanteer, te kan doen tot die beste van my vermoë sodat U ook daardeur verheerlik sal word. In Jesus Naam vra ek. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...