Wednesday 1 May 2019

Mag ons mekaar reghelp?


Vermaning...


“Moenie so aan my karring nie! Ek sal self by die Here hoor wanneer ek moet ophou met my sonde!”

As jy regtig omgee vir die mense om jou, hetsy of dit jou familie, jou vriende of selfs jou vyande is, het jy al seker ‘n paar keer hierdie, of 'n soortgelyke  argument gehoor. Ek wil vir jou noem waarmee ek dit dan altyd weerlê, “Die Here het klaar gepraat, lees sy Woord!”

In vandag se tydperk van menseregte, word ons vinnig uitgekryt dat ons in iemand se “karakter inklim" as ons hom of haar vermaan, veral as ons dit regtig doen volgens die Woord van God.

God se Woord beveel ons egter in Hebreërs 3:13 Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.

So ja, daar het jy dit, sommer so uit die mond van die Almagtige, ELKE DAG. Met ander woorde, sonder ophou, want die sonde gaan nie ophou indring (of ‘n vakansie vat) in ons lewens nie, so die vermaning moet sonder ophou geskied om ons (en ander) te help op ons pad van heiligmaking en om te streef na die wandel wat God van ons verlang in Christus Jesus, onder leiding van die Heilige Gees.

Nou vermaan ons links en regs alles wat beweeg, en die mense word kwaad en suur vir jou, want jy is mos nou weer TE veel van ‘n Christen, en jy hoor die woorde “Jy moet my nie oordeel nie! God is lief vir my net soos ek is, met my sonde en al, en Hy het klaar aan die kruis gesterf selfs vir dit ook.”

Ja, die Woord sê vir ons in Matthéüs 7:1Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.

Wanneer ek as “TE” bestempel word en mense so links en regs - volgens hulle -  “oordeel”, doen ek dit nie om hulle te irriteer, of om teen die Woord van God te gaan nie, ek doen dit om die eenvoudige rede dat ja, God het jou lief net soos jy is, maar Hy is te lief vir jou om jou te los soos jy is. Maak dus klaar met jou sonde, draai terug na Hom toe!

“Ag Hein, dit was net so ‘n ou klein sondetjie gewees, ‘n wit leuentjie!”

Nee, sonde is sonde in God se oë en ons moet streef daarna om af te wyk van ALLE sonde af sodat ons nie vermaan HOEF te word nie. Dit stel tog voor ‘n lewe van heiligmaking, doen dit nie?

Maar ek sê vir jou nou, hou aan vermaan elke dag soos die Woord van God ons beveel om te doen. Hoekom? Juis omdat ons lief is vir mekaar!

Doen dit wel in laaaaaaaaaankmoedigheid soos genoem in 2 Timótheüs 4:2 …weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering, want anders sal dit net lei tot dit waarteen ons gewaarsku word in Spreuke 15:1 ‘n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende woord laat die toorn opkom.

So as ons volgens die Woord vermaan, onthou ook tog net dat jy moet oplet waaroor jy iemand vermaan. As jy die person vermaan en karring en stoei oor ‘n betrokke aspek in sy/haar lewe, maar daardie aspek beïnvloed nie sy saligheid nie, en die persoon wil na verskeie vermanings  nie hoor of luister nie, sal jy wel (ook volgens die Woord van God) op ‘n punt kom waar jy sal moet terugstaan en die persoon uitlos en ophou vermaan. In daardie geval bid jy slegs verder dat die Heilige Gees hom of haar sal oortuig volgens Johannes 16:8.

As die persoon Jesus aanvaar het as sy/haar persoonlike verlosser, weet dan met ‘n geruste hart dat hy/sy hemel toe sal gaan en dat jou vermaning slegs help om te keer dat hy/sy nie ‘n ploeteraars Christen wandel hier op aarde hoef te beleef nie.

As ons nie bereid is om te luister na die vermaning van 'n broer of suster in Christus nie, moet ons dan nie kla as dinge sleg gaan met ons nie.

Gebed
Hemelse Vader, ek kniel voor U troon en bely dat ek as sondaar vermaning nodig het elke liewe dag van my lewe en ook vermaning moet uitdeel aan my naaste soos ek beveel is in U Woord. Gee my asseblief die lankmoedigheid om diegene om my te vermaan volgens U Woord en slegs onder leiding van die Heilige Gees. En Jesus plaas asseblief ‘n wag voor my mond in tye van vermaning sodat ek net sal spreek wat U van my verlang om te sê.
Amen

Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...