Sunday 8 October 2017

Moet ons aan ander gee?


Image result for someone giving someone something

 GEE, EN AAN JULLE SAL GEGEE WORD


“Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” (Lukas 6:38)

Terwyl ek hierdie naweek in ‘n kerk bedien het, was hierdie een van die verse wat ek bespreek het, en terwyl ek dit bespreek, het die Heilige Gees net weer opnuut op my hart gedruk hoe ‘n belangrike vers is hierdie in werklikheid, veral in ons omgang met mense rondom ons.

Die Here wil hê ons moet GEE, van ons geld, van ons tyd, van ons omgee, van ons empatie en van ons simpatie, sommer net van alles wie en wat ons is. Want in die self-gesentreerde wêreld waarin ons tans leef is daar nie baie sprake van “gee” nie, maar wel baie van “ek wil hê”. Dis eerder ‘n kwessie van “gee vir my, gee vir my, gee vir my…”

Mense gaan kerk toe want hulle wil iets “ontvang”, maar nie baie mense dink daaraan dat hulle kerk toe moet gaan om iets te gaan “gee” nie. Mense gaan werk toe net sodat hulle aan die einde van die maand iets kan “ontvang”, hulle salaris. En terwyl hulle wag vir daardie salaris wil hulle nie vreeslik baie energie spandeer aan hulle werk nie. Nie baie mense dink daaraan dat hulle werk toe moet gaan om hulle beste te gaan “gee” nie, net omdat hulle kinders van die Here is en in lyn met wat Kolossense 3:23,24 bepaal nie.

Baie mense is in ‘n gesinsopset in ‘n huis en wil net heeltyd iets “ontvang” en dink nie daaraan dat hulle eintlik iets vir mekaar moet “gee” as mede-gesinslede nie. Omgee, liefde, wedersydse respek, onderdanigheid teenoor ouers, of wat ookal nie. Hulle wil eerder net “hê”.

Maar kyk mooi, daar is ‘n belofte en ‘n waarskuwing vervat in daardie teksvers. As ons gaan leer gee soos wat God dit bedoel, sal daar VIR ONS GEGEE WORD, ‘n GOEIE MAAT wat ingedruk en geskud en oorlopend is. Ons almal het al gesien dat jy ‘n blik kan vat en dit vol mieliemeel maak totdat dit vol is. Maar die oomblik as jy daardie blik bietjie skud of stamp dan sak die meel af en kan jy nog meer bygooi. Dit is dieselfde beeld wat die Here Jesus hier gebruik.

Die waarskuwing vind ons egter in die gedeelte wat lees dat met dieselfde maat weermee ons meet, weer vir ons gemeet sal word. Dit beteken bloot dat as ek my beste gee, ek baie kan terugverwag, maar as ek maar net my oorskiet-tyd, oorskiet-geldjies of oorskiet-empatie of oorskiet-simpatie gee, moet ek weet sal ek maar dieselfde “oorskiet” terugkry van die Here, of andere rondom my.

Gebed:

“Vader vergewe my waar ek in die verlede nie altyd my beste gegee het nie. Leer my asseblief om van hierdie week af my beste te gee, sodat ek kan weet dat U vir my ‘n goeie maat sal teruggee, wat ingedruk en geskud en oorlopend vol is. In Jesus Naam. Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...