Monday 25 September 2017

Eer jou vader en jou moeder


Image result for Parents and children


“En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.” (Mattheus 23:9)

Ek doen heelwat beradings, en kry gereeld met mense te doen wat baie seergekry het in hulle kinderjare, onder andere as gevolg van molestasie selfs ook deur hulle eie vaders of moeders. En gereeld vra hulle vir my die vraag: “Hoe kan ek my vader of moeder eer, as hulle so iets aan my gedoen het?” Want die Bybel leer ons immers:
“Eer jou vader en jou moeder - dit is die eerste gebod met ‘n belofte…” (Efesiërs 6:2)

Na hoevele soortgelyke gesprekke en vrae wat aan my gerig was hieroor, het ek een dag tydens my stiltetyd vir die Here die vraag gevra: “Vader, waarom moet ons ons vaders en moeders eer? Veral as vaders en moeders so lelik teenoor hulle kinders optree?” Die antwoord wat ek terugontvang het, het my nogal onkant gevang. Die Here het vir my gesê: “Tiaan, jy eer jou vader en jou moeder vir die eenvoudige rede dat EK hulle twee waardig geag het om JOU hier op aarde te kry. Want as dit nie was vir hulle nie, was jy nie hier nie.”

En daarom eer ons ons ouers. Dit beteken nie jy gaan noodwendig altyd met hulle saamstem of langs dieselfde vuur sit nie, of dat jy nodig het om jou deur hulle te laat vertrap nie. Maar die punt is, as jy hulle eer is daar vir JOU ‘n belofte, naamlik: “…sodat dit met JOU goed mag gaan en JY lank mag lewe op die aarde.” (Efesiërs 6:3)

Die betrokke ouers daarenteen sal self voor die Troon van God moet antwoord vir dit wat hulle gedoen het wat nie in lyn was met Sy Woord nie. Maak jy net seker dat jy hulle vergewe en hulle eer as jou ouers. NIE om daardeur te probeer voorgee dat dit wat hulle gedoen het aanvaarbaar of reg was nie, maar sodat dit met JOU goed mag gaan en JY lank mag lewe op die aarde.

En tydens my gesprek met die Vader het ek toe ook gevra, in die lig van die teksverse waarmee ek begin het, WAAROM moet ons niemand op aarde ons vader noem nie? En die antwoord wat ek daar ontvang het, het my ook ‘n nuwe siening gegee oor God se grootheid en genade. Hy het saggies in my gees vir my gesê: “Want Ek het nie kleinkinders nie. As jy en jou twee kinders eendag voor My Troon kom staan gaan jy nie sê: ‘Vader hier is ek, ek is U kind, en hier is my twee kinders, hulle is nou U kleinkinders’ nie”. Want my persoonlike seun en dogter is óók kinders van die Here, so Hy is MY Vader, maar Hy is ook HULLE Vader.

So, as ons die dag aldrie voor die Troon eindig, gaan ons daar staan as broers en susters in Christus met een en dieselfde Vader. En skielik tref dit my – my pa en ma was in effek eintlik ‘ouboet en ousus’ wat hulle ‘kleinboet’ Tiaan moes leer van sy Vader in die hemel. Maar nou is Tiaan die ‘ouboet’ wat sy ‘kleinboet en kleinsus’ (my seun en dogter) moet leer van HULLE Vader in die hemel. Vandat die Here vir my hierdie openbaring gegee het, het ek ‘n nuwe liefde vir my ma gekry, en kon ek met ‘n geruste hart my eie twee kinders “release” in die hande van hulle WARE Vader, God in die hemel.

Gebed:


“Vader, baie dankie dat ons by U die mag kry om diegene wat ons seergemaak het, in U krag te kan vergewe. Leer my asseblief ook om my ouers in U krag te vergewe en te eer, ongeag wat hulle in die verlede gedoen het, sodat dit met my goed mag gaan en ek lank mag lewe op die aarde. En dankie dat ek ook mag weet dat as ek en my aardse ouers en my kinders U almal dien en aanbid, dat ons eendag saam as broers en susters voor U Troon sal staan en U saam kan aanbid. Dankie Here vir U genade. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

  

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...