Sunday 29 October 2017

Moenie verslap nie!


Image result for Hebreërs 12:3
“Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.” (Hebreërs 12:3)

Aan die begin van Januarie 2016 het ek die punt bereik waar ek moeg was, fisies moeg, geestelik moeg en sommer emosioneel moeg ook. Moeg as gevolg van al die aanslae teen hierdie bediening waartoe die Here ons 15 jaar gelede geroep het, moeg as gevolg van mense wat nie wil luister en gehoorsaam raak aan Jesus en Sy Woord nie, en moeg om al die agteraf geskinder en rugstekery onder kinders van die Here, te hoor en selfs fisies in my en my vrou se eie lewens te ervaar.

En die betrokke oggend sê ek dit toe vir die Here: “Vader, ek is moeg vir al hierdie dinge, en ek dink nie ek sien meer kans om aan te gaan in hierdie bediening nie. Ek is jammer Here, maar ek dink ek moet maar uitstap.”

Baie kinders van die Here wat erns maak met die Bybel as Woord van God, is geneig om hulle Bybels in te kleur deur teksverse wat uitstaan, te merk of te “highlight” met kleur merkpenne. So lyk my Bybel ook maar. En terwyl ek so met die Here hieroor sit en gesels, met ‘n swaar gemoed, lê my Bybel oop voor my by Hebreërs hoofstuk 12.

En saggies hoor ek die stem van die Heilige Gees in my gees sê: “Lees wat voor jou staan.” Ek kyk toe en lees toe Hebreërs 12:1, 2 en 4 (wat almal so met kleur gemerk was in my Bybel). Want dit is mos wat gebeur, mens se oog vang net die gedeeltes wat jy voorheen ingekleur het. Ek sê toe vir die Here ek verstaan nie wat Hy vir my uit daardie gedeeltes wil wys nie? Duidelik hoor ek toe in my gees: “Lees die teksvers wat jy NIE ingekleur het nie”. En dit is toe die bogemelde vers 3.

Uit die aard van die saak slaan daardie “ongemerkte” vers in die Bybel toe my voete onder my uit! Hoekom? Want dit hanteer toe my hele situasie, deur my eerstens te herinner aan Jesus en die teëspraak wat Hy alles van mense moes verdra, wat uit die aard van die saak VEEL ERGER is as wat ek tot dusver moes verdra. En tweedens gee dit toe vir my die rede WAAROM Hy dit moes verduur? Sodat ONS, ek en jy, nie in ons siele moet vermoeid en moeg word en dan verslap in dit wat ons vir Hom moet doen nie.

Hoeveel sulke ander “ongemerkte” verse is daar nie nog in my en jou Bybel nie? Wat eintlik “ongemerk” ook ons antwoorde bevat op vele ander vrae wat ons mag hê…

Dit was vir my soos ‘n ontploffing in my gees! Wow! Jesus moes presies dieselfde goed verduur as wat ons vandag verduur, en Hy het dit juis gedoen sodat ons vandag nog nie in ons siele sal vermoeid en moeg word en verslap nie! Toe ek daardie oggend opstaan voor my Bybel was ek sommer na gees en siel en liggaam bemoedig en verkwik en kon ek die nuwe dag, die nuwe jaar en sommer die res van die toekoms totdat ek eendag by Jesus sal wees, met hernude ywer aanpak. Wat ‘n wonderlike God en Vader dien ons nie!

Mag jy ook in die week onthou wat Jesus moes deurgaan, juis sodat JY ook nie sal vermoeid word in jou siel en dan verslap in wat jy vir Hom moet doen nie.
“Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” (Hebreërs 4:15)

Gebed:
“Vader, vergewe my waar ek gedink het dat die dinge wat met my gebeur, uniek is en dat Jesus nie verstaan waardeur ek gaan nie. Dankie Here Jesus dat U die teëspraak van mense teen U verduur het, juis sodat ek nie in my siel vermoeid hoef te word en dan verslap in wat ek vir U moet doen nie. Gee my opnuut U krag in hierdie nuwe week. In Jesus Naam vra ek dit.
Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...