Thursday 19 October 2017

Leef net vir God se plan en wil


Image result for whale splashing in the sea 

Maak jou "splash"

Jona 1:17: En die HERE het ‘n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.

Ons het die voorreg om vir ‘n week by die see te wees saam met ons kinders en kleinkinders. Dit is ook die tyd van die loofhuttefees wat Vader vir al Sy kinders ingestel het en beveel het om te onderhou.

Ek lees in Numeri die voorskrifte wat gegee is vir elke dag. Dis ‘n klomp diere wat geoffer moes word en as mens dit in randwaarde omsit is dit groot offers wat elke dag gebring moes word. Ek sit so en wonder wat verwag Vader van ons in vandag se tyd. Terwyl ek so sit en wonder en uitkyk oor die groot Indiese oseaan, spring ‘n walvis amper vollyf uit die water en val met ‘n groot "splash" terug. Dis skouspelagtig mooi en ek hou die plek dop waar dit gebeur het in afwagting vir ‘n herhaling. ‘n Groot klap met die stert volg.

Dis toe dat ek dink aan die groot vis wat vir Jona ingesluk het, drie dae met hom in sy ingewande rondgeswem het en toe op droe grond gaan uitspuug het. Alles in opdrag van God want dit was definitief nie sy normale gedrag nie. Daar kom die besef toe by my op dat dit is presies wat Vader van ons verwag as offer. Ons hele volledige self. Sien, daai vis het nie geweet dat wat hy gedoen het daai drie dae vir altyd in die Woord van God opgeskryf sou word vir miljoene mense om te lees nie. Hy het nie eers geweet dat dit in ‘n profesie oor ons Messias gebruik sou word nie. Hy het net geswem, gesluk toe hy beveel is en gespoeg toe hy beveel is. Tog lees ons vandag nog van hom en die groot wonderwerk rondom dit.

Hierdie walvis wat vandag hier rondspring weet nie eers dat ek hom dophou nie. Tog spring hy uit en speel gemaklik rond om my te vermaak en God te verheerlik daardeur. So natuurlik. Sonder inspanning. Dis deel van sy lewe.

Ons moet onsself so offer vir Jesus dat ons Sy opdragte as deel van ons normale lewe kan gehoorsaam sonder inspanning. Ons moet toelaat dat Hy ons gebruik sonder verset. Hy kan daai 15 ton lyf met gemak uit die water laat kom en laat neerval vir almal wat kyk om te sien. So kan Hy elkeen van ons gebruik op maniere wat ons nie eers kan dink nie. Ons moet net oorgee en toelaat dat Hy ons gebruik en uit die water van die lewe lig en ons neersit met ‘n groot "splash". Maak nie saak wie vir ons kyk en OF iemand kyk nie. Dit moet deel wees van ons lewe om Hom te gehoorsaam want iewers sien iemand dalk net raak wat Hy besig is om te doen deur ons. Iemand hou dalk die groot "splash" dop en dit vul hul met verwondering vir ons Here. Jy sal nooit weet waar die druppels van daai "splash" val nie. Dit maak in die oomblik wat God ons gebruik ook nie eers saak wie kyk en wie sien en wie nie. Dit het nie vir die vis in Jona se verhaal saakgemaak of dit opgeskryf word of nie. Ons moet gehoorsaam met dieselfde gesindheid.

Kom ons kies om vandag net in God se wil en plan te beweeg vir ons lewe. Laat Hy met ons maak en doen wat Hy wil om Homself te verheerlik. As Hy dan daardeur ook kies om iemand of ‘n menigte, vandag of oor baie jare daardeur te raak, maak dit geen verskil aan wat ek en jy vandag in Sy heerlikheid en wil kan geniet deur totaal gehoorsaam te wees aan Hom nie. Om Jesus te verheerlik moet alles wees waaroor dit gaan vandag. Ook in hierdie loofhutte feestyd.

Daardie mense het nie somme bereken toe hulle moes offer nie. Hulle het dit in gehoorsaamheid gedoen en is deur hul keuse van gehoorsaamheid geseen sodat hulle dit weer en weer kon doen. God het hulle nie iets gevra wat hulle nie kon gee nie. Hy voorsien in hulle gehoorsaamheid en so sal Hy dit vandag nog vir ons doen. In ons gehoorsaamheid sal Hy die onmoontlike moontlik maak en voorsien wat ons nog nie eers weet nodig gaan wees nie. Kom laat ons nie koste of moeite bereken aan ons gehoorsaamheid nie. Kom ons maak net ons "splash" vir Jesus vandag. As ons dit nie doen nie, mis iemand dalk net ‘n mooi skouspel of ‘n paar druppels water wat hulle oe op ons Here Jesus kan vestig.
(rene short - grs@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...