Sunday 8 October 2017

Genees God vandag nog?


Image result for person in hospital bed

Mag die vrede van Jesus Christus met jou wees.

Ek het onlangs ‘n e-pos ontvang waarin die skrywer gevra het of God vandag nog genees. Verder het hy ook genoem dat medici diagnoses oor hom gemaak het en dat operasies aanbeveel word. Ek wil geensins die persoon in ‘n swak lig stel nie of die vraag wat gevra is as onbenullig afmaak nie. Ek voel dat dit ‘n uiters belangrike vraag is en ek weet dat soveel kinders van God ook al met die vraag geworstel het.

Hier volg my antwoord asook verdere verduidelikings:

Ek glo met alles in my dat God steeds genees soos die Bybel sê. Heb 13:8 sê; "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid." So as Hy in die Bybelse tyd genees het, sál Hy vandag genees en sal in die toekoms genees. In Eks 15:26 sê God: “As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.” Let op die voorvereiste “As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou.”

Daar is baie faktore wat genesing kan beïnvloed soos onvergifnis, bitterheid, rebellie, okkultiese betrokkenheid en vele ander. Ook het die voorouers se lewens 'n invloed op ons, vloeke, betrokkenheid by organisasies soos Vrymesselary ens. Daarom is dit belangrik om te deel met dit wat uit die verlede kom. Ek moet vergewe, vryspreek, en uit die Outoriteit, wat Jesus Christus aan my gee, die geeste van Satan beveel om my te verlaat. Vra die Heilige Gees om aan jou te wys wat jy moet bely en aanspreek. Daar is twee skitterende boeke wat ek kan aanbeveel wat vir jou die geestelike wortels en oorsake van siektes verduidelik en uitwys.
         
Healing begins with Sanctification of the Heart – Dr MK Strydom
(ISBN no: 9780797443754)

A More Excellent Way – Past Henry W Wright
(ISBN no: 0967805929)

Dan gaan dit ook oor my eie geloof. Mat 9:28 & 29: "En nadat Hy in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. En Jesus sê vir hulle: Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Here. Toe raak Hy hulle oë aan en sê: Laat dit vir julle wees volgens julle geloof."

Verder moet ek ook kyk na dit wat ek oor myself spreek. Oor my gesondheid, behandeling, genesing, gestremdheid, finansies, omstandighede, ens. Spr 18:21 sê; "Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet."

Ons spreek soveel keer negatiewe woorde en uitsprake oor onsself, aanvaar diagnoses as finale uitsprake, ens. Daardeur kanselleer ek God se beloftes en ook Sy genesing en bring 'n vloek oor myself en dit is presies wat gebeur. Negatiewe woorde wat ek oor myself spreek is innerlike ede of geloftes. Dit is baie kragtig en net jy self kan dit breek. Bely dit voor God as sonde en kanselleer dit. Spreek dat Jesus jou geneesheer is en staan op Sy beloftes in die Woord.

Nou hoe moet ek mediese diagnoses hanteer? Ek, Cobus, leef glad nie in ‘n droom wêreld nie. Die diagnoses is baie keer wetenskaplike feite en ek moet dit hanteer. Om dit te ignoreer gaan nie die probleem oplos nie. As ek siek is, is ek siek. Die vraag is egter; wie glo ek? Die feite van die diagnose wat sê dat ek siek, terminaal siek of gestremd is, of die waarheid wat sê; Ek is die HERE wat jou gesond maak.

Ek gaan na Vader toe met die diagnose.
Bely einge sonde en ongeregtigheid wat hierdie aanval reg gee.
Pas Jak 4:7 toe en weerstaan Satan en sy geeste in die naam van Jesus Christus. Jak 4:7 “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”
Beveel my liggaam om te genees volgens die Woord van God.
Gebruik die verbondsmaal (nagmaal) op 'n daaglikse basis.
Veg die geveg totdat die genesing plaasvind.
Let op my woorde.
Spreek Goddelike wysheid oor diegene wat my behandel en die instansies waar ek behandel word en seën hulle.
Soos die aanslag feller word moet ek nader aan God beweeg.

Ek bid dat Vader jou lei deur die Heilige Gees om ook op hierdie gebied meer as ‘n oorwinnaar te kan wees.

“ABBA Vader, ek bring elke persoon wat hier lees voor U. Sal U asseblief elkeen van ons vervul met U Heilige Gees. Heilige Gees sal U asseblief elkeen van ons leer aangaande genesing van Jesus en ook hoe om dit oor onsself te verklaar en om dit ook te kan glo. Leer ons aangaande die geestelike aanslag op ons gesondheid en hoe om die geveg te baklei volgens die Woord. In die naam van Jesus Christus vra ons dit. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...