Sunday 29 January 2017

God se beskerming


Image result for bybel

“En Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, ‘n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in.” (Sagaria 2:5)

“Want onse God is ‘n verterende vuur.” (Hebreërs 12:29)

Die Here plaas al vir etlike maande hierdie teksvers op my hart. Want sonder dat ek kennis gedra het van die betrokke vers, het ek op ‘n stadium deur die loop van 2016 daagliks begin bid en die Here gevra om ook ‘n muur van vuur rondom my en my vrou en my kinders te plaas. Voor dit het ek altyd net gebid en gevra dat Hy ons sal toemaak met Jesus se bloed, en dat Hy Sy engele sal opdrag gee om rondom ons te wees vir daardie dag, volgens Psalm 91:11.

Maar een oggend wys die Here toe vir my hierdie vers in die Bybel en skielik besef ek wat het die Heilige Gees my reeds maande vantevore begin wys, sonder dat ek die Skrif daarvoor gehad het. En toe hierdie vers aan my geopenbaar is, het daar skielik ‘n wonderlike nuwe waarheid van God se Woord in my hart ontplof!

Kyk mooi wat sê daardie eerste vers, dat God HOMSELF vir ons as Sy kinders ‘n vurige muur van beskerming rondom ons sal wees. Wat ‘n wonderlike God dien ons nie! En as Hy dan daardie muur van beskerming om ons is, en die Woord sê duidelik Hy is ‘n verterende vuur, wat is daar wat teen ons kan kom sonder dat Sy verterende vuur dit nie van ons af sal wegbrand nie? Dis nog sonder om in ag te neem wat die addisionele beskerming is van God se engele rondom ons, en Jesus se bloed oor ons!

Hieruit is dit darem baie duidelik dat Jesus graag wil hê dat ons Sy beskerming TEN VOLLE sal geniet. Maar ongelukkig is ons geneig om self onder daardie beskerming uit te beweeg met die keuses wat ons in die lewe maak. Die Bybel is egter ook duidelik dat ons dit nie sommer net outomaties sal ontvang nie, ons moet bid en vra, en dan sal ons dit ontvang.

“Vader, baie dankie dat die Woord sê dat U self ‘n vurige muur van beskerming om my en my geliefdes sal wees, maar dat ons moet vra, en dan sal ons dit ontvang. Ek bid daarom dat U self ‘n vurige muur van beskerming om my en my geliefdes sal wees, en  dat U verterende vuur enigiets sal wegbrand wat vandag teen my en my geliefdes mag kom. In Jesus se Naam vra ek dit. Amen.”


(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...