Wednesday 11 January 2017

Kragdadig in die Here


Image result for bybel


“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.” (Efesiërs 6:10)


Hierdie is ‘n teksvers wat ek ervaar het die Here Jesus vir my gegee het as “boodskap” vir die jaar van 2017.


Kom ons kyk wat leer ons uit hierdie vers. In die eerste plek moet ons kragtig word IN DIE HERE en dus nie in ons eie krag nie. Die Griekse woord vir “kragtig” is “edunamoo” en dit beteken “to be empowered”. Met ander woorde, ons moet in die eerste plek deur die Here bekragtig (“empower”) word.


Die Griekse woorde wat hier vir “krag” gebruik word, is “kratos” en dit beteken onder andere “dominion”, met ander woorde Sy outoriteit of gesag. Ons leer dus tweedens hieruit dat ons bekragtig moet word deur die Here en in Sy outoriteit, want ons kan niks in ons lewens in ons eie gesag of outoriteit doen nie.  


En derdens is die woord wat vir “sterkte” gebruik word in Grieks: ”ischus” en dit beteken onder andere ook “vermoë” of “bekwaamheid”.


Wat leer ons dus uit hierdie teksvers? Dat ons in ons alledaagse lewens BEKRAGTIG moet word deur die Here Jesus Christus, in Sy outoriteit en in Sy vermoë en bekwaamheid.


En ons het juis nodig om so kragtig te word in die Here omdat ons in ‘n daaglikse oorlog is teen bose geeste in die lug, soos wat Efesiërs 6:12 ons leer. En ons sal nie daardie aanslae in ons lewens, op ons huwelike, ons kinders, ons finansies of ons gesondheid in hierdie jaar van 2017 kan hanteer en weerstand daarteen kan bied, as ons nie bekragtig is deur die Here Jesus Christus en as ons nie Sy outoriteit en Sy vermoë en bekwaamheid teen daardie geeste gebruik nie.


Hoe doen ons dit? Deur intiem TYD met die Here te spandeer op ‘n daaglikse basis, en om daagliks Sy Woord te bestudeer en om daagliks in gebed met Hom te verkeer. Dan sal Hy deur Sy Heilige Gees en deur die openbaring van Sy Woord, ons as sulks bekragtig en ons leer hoe om Sy outoriteit te gebruik en hoe om in Sy sterkte, ja Sy vermoë en bekwaamheid te lewe en enige situasie in ons lewens te kan hanteer.


Gebed: “Here Jesus, ek bid en vra dat U my in 2017 sal bekragtig en sal leer van U outoriteit en my sal leer om te lewe in U vermoë, U sterkte en U bekwaamheid, want Here die Bybel bepaal immer ook dat ek tot alles in staat is deur Christus wat my die krag gee. Ek vra dus vandag dat U asseblief vir my U krag en U sterkte sal gee vir elke dag van hierdie jaar. Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...