Tuesday 24 January 2017

Die boodskap van die wet: Liefde!

Image result for god se liefde vir jou

DIE BOODSKAP VAN DIE WET: LIEFDE!


In Matt 22:36-40 word Jesus gevra: “Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”

In Sy antwoord op die vraag gee Jesus ‘n opsomming van die wet: liefde. “Jy moet die Here jou God liefhê… Jy moet jou naaste liefhê.” Jesus verklaar verder “Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet en die Profete.” Enige opdrag in die wet (woord) van God is onderworpe aan een van hierdie twee gebooie.

“Jy moet die Here jou God liefhê.” Die primêre opdrag van die wet is ‘n alles omvattende liefdesverhouding met God Almagtig. Ek moet God liefhê met my hele hart en met my hele siel en met my hele verstand. Vanuit die diepste van my wese en bestaan moet liefde tot Hom uitvloei. In elke uitdrukking van my persoonlikheid moet liefde tot God uitvloei. In elke gedagte wat ek het en bedink moet liefde tot God die ondertoon wees. Enige aspek van die lewe wat nie ‘n onbeperkte, allesomvattende liefde tot Hom openbaar en wys nie, is ‘n oortreding van Sy wet.

“Jy moet jou naaste liefhê.” Die tweede opdrag in God se wet vereis onselfsugtige liefde vir elke ander mens. Ek moet ander liefhê soos myself. Sommige gebruik hierdie vers verkeerdelik om mense te motiveer om ‘n fiktiewe derde gebod te gehoorsaam – “Ek moet leer om myself lief te hê!” Nee, Jesus sê dat daar net twee gebooie is. Hierdie tweede gebod is ‘n oproep om aan ander dieselfde bedagsaamheid  en versorging te bewys as wat ek deur my hele lewe aan myself gegee het. Jesus het later hierdie gebod verder versterk en bevestig in Joh 13:34 “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”

Die boodskap van die wet van God is : LIEFDE.
Teenoor God – TEN VOLLE
Teenoor ander – OPOFFEREND

“Here Jesus, ek kom buig voor U as die God van onvoorwaardelike liefde. Ek het U lief omdat U my eerste liefgehad het. Tog skiet my liefde tot U so vêr tekort in die lig van wat U verdien en verwag. Here, my liefde teenoor ander word soveel kere beïnvloed en verminder deur my eie selfsugtigheid. Ek vra nederig dat U in my ‘n meer diepergaande liefde tot U en onselfsugtige liefde tot ander sal bewerk. In Jesus Naam. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...