Tuesday 24 January 2017

Sal ek nog ongeloof vind as Ek kom?


Image result for geloof


Hierdie is 'n vraag wat Jesus self gevra het nadat Hy die gelykenis vertel het van die arm weduwee wat aanhoudend na die onregverdige regter gegaan het om haar gelyk te gee in haar saak. Die regter het haar vir 'n lang tyd net elke keer weggestuur sonder om uitspraak te gee in haar saak.

In hierdie laaste dae waarin ons leef, het die aanslae van die vyand alreeds al hoé meer intens begin raak en belowe die Bybel dat dit nog erger sal word, voordat Jesus gaan terugkeer. Die vraag is of ons as gelowiges in Christus Jesus, wel die deursettingsvermoeë het om 'n saak deur te bid en om geloof te hê in die uitkoms volgens God se woord en beloftes...al is Hy ook lankmoedig in ons geval???

Luk 18:7  Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?
Luk 18:8  Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

Die vyand het dit reggekry om baie van die kinders van die Here, vas te vang in die dimensie waarin ons leef, instede van dat ons krag trek uit 'n dimensie wat hoër gesag het as die een waarin ons leef...dit is die dimensie waarin God leef! Die mens van vandag word só gebreinspoel om te fokus op die dinge wat ons kan sien, hoor, voel of proe en vergeet daardie mens dan maklik dat geloof die substansie is van die dinge wat ons hoop en 'n bewys van die dinge wat nie gesien kan word nie (Heb 11: 1).

Die feit is dat God ons die outoriteit gegee het om die dinge wat in die geesdimensie alreeds bestaan, te kan inroep in die dimensie waarin ons leef, al sien ons nie die manifestasie daarvan onmiddelik nie. Hy het ons dieselfde mag in ons mond gegee, as waarmee Hy van die begin af alle dinge tot stand gespreek het.

Spr 18:20  Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.
Spr 18:21  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.

Die grootste voorwaarde hiervoor is dat ons geloof in God se woord moet hê en bereid wees om ons mond oop te maak en dit te verklaar. Ek wil dit net gou duidelik stel dat ek nou nie hier besig is met 'n: “name it and claim it”-teologie nie, maar dat ek bloot klem lê op die krag in God se woord en die naam van Jesus Christus van Nasaret! Elkeen van ons besit die mag in ons woorde om die situasie waarmee ons sukkel, te omskep in die perfekte wil en plan wat ons hemelse Vader vir ons beplan het. Ons hoef net te kyk na die voorbeelde van hoé Jesus die vyand weerstaan het soos dit geskryf staan in Matt 4 en Luk 4.

Die Bybel is duidelik dat ons oorwinning oor hierdie wêreld en sy boosheid, lê in ons geloof in Jesus en Sy woord. Dit beteken dat ons ons fokus moet wegkry van dit wat ons kan sien, hoor, proe of voel en dit rig op die dinge wat nie gesien kan word nie, maar wat wel bestaan omdat God dit van die begin af in werklikheid in gespreek het!

1Joh 5:3  Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.
1Joh 5:4  Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.

Ons moet dus ophou fokus op die eerste berig wat die vyand aan ons bring en dan te glo dat dit die werklikheid is van ons situasie, want “the first report is not the last report!” Niks is oor voordat God nie gesê het dat dit klaar is nie! En tot dan staan Sy belofte wat sê:

Joh 10:10  Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Jer 29:11  Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.

Liewe kind van God, daar is krag en oorvloed tot ons beskikking, maar niks gaan gebeur as ons nie wat God gesê het, verklaar nie en ophou om die dinge wat die vyand sê, te verklaar nie!

Mag Sy Gees ons in die volle waarheid lei in hierdie week en mag Hy ons help om te wandel en handel in die krag van God se beloftes volgens Sy woord!

Vrede en seën vir elkeen wat bereid is om geloof te hê!

SAL EK NOG GELOOF VIND AS EK KOM?
(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...