Tuesday 25 October 2016

Oorlewering van mense


Image result for Bybel en kers



Mar 7:5  Daarop stel die Fariseërs en die skrifgeleerdes Hom die vraag: Waarom wandel u dissipels nie ooreenkomstig die oorlewering van die ou mense nie, maar eet brood met ongewaste hande?
Mar 7:6  En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.

Mar 7:7  Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.

Mar 7:8  Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.

Mar 7:9  En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou.

Bogenoemde aanhaling uit die Woord, is een van daardie geleenthede waar Jesus die Fariseërs baie ernstig aangespreek het oor hulle godsdienstigheid. En vandag, meer as 2000 jr later, is die godsdiensgees nogsteeds net só besig om die kinders van die Here te mislei en te laat dwaal omdat hulle die Skrifte nie ken nie.

Een van die algemeenste voorbeelde van tradisie wat volgehou word in ons land, is die tradisie van mondigwordings. 'n Paar jare gelede het wetgewing nog bepaal dat 'n persoon 21 jaar oud moes wees om wettiglik 'n kontrak op sy eie te kon aangaan en dit was vir baie jare die bepaling. Dan is dit ook daar waar die gebruik vandaan gekom het om dit te vier as kinders die ouderdom van 21 bereik het. Die wettige ouderdom is egter al jare terug verander, maar vandag nog word die tradisie slaafs gevolg om vir kinders met hul 21 ste verjaardag, 'n “21st party” te hou waar in die meeste gevalle net gedrink en gekuier word. Ten spyte van die feit dat wetgewing verander het, is hierdie tradisie nog een van die hoogtepunte vir menige jongmens...gelowiges ingesluit!


Ek gebruik die voorbeeld van mondigwording, net om te bewys hoé 'n sterk binding tradisie kan wees. Net só het menige van ons geglo dat Jona lewendig in die maag van die vis was vir 3 dae en 3 nagte, omdat dit is wat ons van Sondagskooldae af geleer was. Tog het nie een van ons die moeite gedoen om die Skrifte te ondersoek om te sien of dit die waarheid is wat aan ons oorgedra is nie. Die volgende leuen wat ons geglo het was dat Jesus “ter helle” neergedaal het, terwyl dit ook nêrens in die Woord staan nie! Dit is bloot leerstellings van kerke wat ons aangeneem het, omdat ons geglo het dat: “hulle mos nie vir ons sal lieg nie”.


En dan praat ek nie eers van die leuen van Jesus wat op “Goeie Vrydag” gesterf en op Sondag opgestaan het nie, terwyl dit glad nie aan die toets van Jona se 3 dae en 3 nagte voldoen nie. En Jesus het self gesê dat Sy dood en opstanding sal wees soos die teken van Jona. As mens dan die berekening doen vanaf Vrydag namiddag tot Sondagoggend, sal jy verseker nie 3 dae en 3 nagte kry nie, maak nie saak watter optelmasjien of metode jy gebruik nie! Tog aanvaar ons die spul leuens goedsmoeds net omdat hulle dit in die “Kerk” aan ons verkondig het. Dan praat ek nou nie eers verder van die Kersfees-leuen en ander tradisies waaraan vasgehou word nie.


Te veel word leringe aanvaar en te min word Skrifte ondersoek om te sien of die dinge wat gepreek word, werklik strook met die ware Woord van God...en na my mening is dit die 1933/53 Afr of King James- weergawes van die Bybel.


Tog het Jesus self gesê:

Mat 22:29  Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.

Die realiteit is, dat ons eendag nie saam met die Dominee of Pastoor voor God se troon gaan staan nie, maar elkeen afsonderlik en Hy gaan vir my en jou vra: “wat het JY met my Woord gedoen?”


Wat gaan voortaan my en jou keuse wees, kind van God?


Mag Jesus u ryklik seën hierdie week en mag die Heilige Gees aan ons uitwys waar ons nog God se woord verwerp ter wille van tradisies!

Geplaas met toestemmin van Tiaan Gildenhys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...