Monday 3 October 2016

Vals profete?


Image result for Person preaching in church


“Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is - God bly in hom, en hy in God.” (1 Johannes 4:15)

Soos ek deur die land toer, kom ek al hoe meer agter hoe baie Christene ander Christene, met wie hulle nie saamstem oor een of ander saak nie, baie gou wil etiketteer as “vals profete”. Ek was persoonlik daaraan skuldig toe ek voor my bekering, as ouderling in die kerk, ook gou geneig was om ander mense met wie ek nie saamgestem het nie, as “vals profete” te brandmerk.


Die rede hiervoor is omdat ek destyds, en ek glo net soos baie Christene van vandag, nie my Skrifte geken het nie (Mattheus 22:29). Want eers nadat ek tot bekering gekom het, en ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus Christus gehad het, het die Heilige Gees die bogemelde teksvers aan my uitgewys. Hy het my ook terselfdertyd daarop gewys dat baie Christene vandag ander Christene as “vals” brandmerk, bloot net omdat hulle nie met mekaar saamstem oor die grootdoop, of die wegraping, of geloofsgenesing, of wat ookal nie, maar tog bely daardie ander Christene niks anders as dat Jesus die Seun van God is nie.


En wat beteken dit? Dat God in daardie persoon bly en hy in God – selfs al stem ons nie met mekaar saam oor daardie ander aangeleenthede in die Bybel nie.


'n Tweede teksvers wat dieselfde waarheid bevestig en as toets gebruik kan word, is 1 Korinthiërs 12:3: "Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus 'n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees."

So geliefde, voordat jy dus weer gou iemand as “vals profeet” probeer brandmerk, luister gerus net eers of hy dalk bely dat Jesus die Seun van God is, of dat Jesus die Here is, of nie. Want indien hy dit wel doen, dan bly God in hom en hy in God en doen hy dit slegs deur die Heilige Gees, en kan hy dus NIE ‘n “vals profeet” wees nie, selfs al stem jy dalk nie met hom saam oor sekere ander aspekte in die Bybel nie.

 (tiaan gildenhuys – tg@ oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Sou iemand gebed of geestelike raad benodig, kontak my by belindapaar@gmail.com


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...