Friday 19 June 2020

Wat laat jy na?


Onlangs word ek een nag wakker met ‘n lied in my gees.

Elke keer as ek wakker word is dit dieselfde lied. Later begin ek bid oor die lied en wat ek moet hoor.

“I don’t want to leave a legacy....”

Die vraag wat ontstaan het is : “wat laat ons na?”.

Bou ons ‘n nalatenskap? En watse soort nalatenskap?

Mat 6:19 – 20:  Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;

Is ons so besig met werke om goed bymekaar te maak dat ons verhoudings mis?

·         Wat help dit jou kinders erf eendag ‘n klomp goed van iemand wat hulle nie geken het nie?

·         Hulle gaan alles verkwis omdat dit vir hulle geen waarde het nie.

Pred 1:17 – 18:  Maar toe ek my hart daarop gerig het om wysheid en kennis, onverstandigheid en dwaasheid te leer ken, het ek ingesien dat dit ook ‘n gejaag na wind is. Want by baie wysheid is baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder smart.

Is ons so besig om kennis bymekaar te maak wat ons nooit toepas nie?

·         Wat help dit jou om elke moontlike kursus by te woon, elke boek te bestudeer, elke preek te kyk en selfs jou Bybel goed te ken maar jy help niemand daardeur nie?

Luk 1:51  Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.

As jy vandag sou sterf, wat gaan mense van jou onthou?

·         Wat help dit as mense jou onthou vir wat jy gedoen het en nie vir wie jy is nie?

·         Gaan hulle jou  gunsies en gawes meer mis as jou gebede?

Ps 121:2  My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.

Wat gaan van die mense word wat jy geestelik bedien het?

·         Gaan hulle benoud wees oor hulle geestelike kruk nie meer daar is nie

·         Hulle gaan gou na ‘n nuwe kruk soek

As ons nie besig is om Jesus te leef en Sy saad te saai nie, is jy besig met ‘n gejaag na wind. Sien as jy die dag nie meer daar is nie, moet mense kan aangaan omdat jy hulle aan Jesus vasgemaak het en geleer het om op Hom te fokus en op Hom alleen te vertrou. Hulle moet die Jesus in jou onthou en nie vir jou as persoon nie.

Ons het almal tyd om te werk aan ons eie voorbereiding vir Sy terugkeer. Laat ons nie besig wees met nuttelose dinge wat niks beteken nie.

Moenie hierdie tyd gebruik om aan ‘n wêreldse nalatenskap te bou nie. Dis tydelik en vergaan.

Bou aan iets wat ewigheids waarde het. Fokus op Jesus en nie op jouself en jou behoeftes en planne nie.

Jy hoef nie op te hou leef en heeldag Bybel te lees nie, maar maak seker jy is gereed vir ‘n ewigheid saam met ons Koning Jesus en maak seker jy saai al die saad wat Hy jou gee in goeie grond sodat Sy Koningkryk kan groei en weer vrug dra vir ander.

Mat 12:33  Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.
 
 Geskryf deur: rene short
(grs@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...