Friday 19 June 2020

Vertrou op die Woord!


Psalm 119:41-48: "En laat u goedertierenhede oor my kom, o HERE, u heil volgens u belofte, sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord. En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek. Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd, en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele. Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie. En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet, en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink."

Hoe nader ons beweeg aan Jesus se koms, hoe meer is daar mense wat ons as Christene wat vasstaan op die woord "smaad" m.a.w, ons spot omdat ons nie soos die wêreld glo nie. Maar dit is juis as ons onwrikbaar vasstaan op Sy Woord, dat die Here Sy goedertierenhede en Sy heil oor ons sal laat kom. En dit lei daartoe dat ons 'n getuienis het teenoor hulle wat ons so wil spot, en dis juis omdat ons vertrou op die Woord van die Here.

Hoe meer ons op die Woord vertrou, en doen wat die Here van ons verlang, hoe minder sal die woord van waarheid uit ons mond onttrek. Ons sal dus nie anders kan as om te alle tye die woord van waarheid te spreek nie. Dit sal verder daartoe lei dat ek Sy wet sal onderhou vir ewig en altyd, want dit wat ek spreek, is dit wat ek doen, want die Bybel sê immers wat die hart  van vol is, loop die mond van oor.


En na die mate wat Hy Sy goedertierenhede en heil oor my uitstort, en ek in Sy verordeninge lewe, gaan ek nie anders kan as om met vrymoedigheid te getuig teenoor diegene rondom my van wat Hy in my lewe doen nie. En ek sal daardie vrymoedigheid hê, ongeag wie die mense rondom my is, of dit familie of vriende of hooggeplaaste mense is.

Daar is mos 'n gesegde wat lui: "A man on his knees before God, can stand before any man."

En weet jy, al hierdie dinge lei net verder daartoe dat ek my al hoe meer verlustig in Sy gebooie, dit begin geniet in my lewe, en dit daagliks oordink en toepas. Dit is wat die Woord van die Here so 'n wonderlike lewende Woord maak, dat mens dit op jou eie kan geniet, dit saam met ons Hemelse Vader kan geniet, en dit teenoor andere rondom ons kan wys.

Mag hierdie week jou al hoe nader bring aan hierdie wonderlike God wat ons dien en aanbid, ongeag jou omstandighede, of voor wie jy staan.

GEBED:

"Vader, dankie ek kan vertrou op U onveranderlike Woord. Leer my asseblief elke dag net meer van U verordeninge en insettinge deur U Heilige Gees, sodat ek kan getuig van U grootheid en goedertierenheid en heil in my lewe, maak nie saak voor wie ek staan nie. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...