Friday 19 June 2020

Sosiale distansiëring


In 'n onlangse gesprek met 'n vriend van my tydens die verpligte “lockdown”-status in ons land, maak hy melding van sy oudste seun, 'n tiener van 16 jr, se besorgdheid oor die verpligte spasiëring tussen mense as een van die reëls van die “lockdown”. Aangesien hy nou in daardie tyd van sy lewe is waar sy belangstelling verder strek as sport en vriende, wou hy toe weet hoé gaan hy die situasie moet hanteer tussen hom en 'n meisie wanneer die skole weer heropen.

Nadat ek en my vriend lekker giggel het oor sy seun se penarie en oor die feit dat hy maar gaan moet soentjies blaas, begin die Gees met my praat oor die feit dat baie kinders van die Here ook vir God op dieselfde wyse hanteer het in die afgelope tye en só af en toe ook maar net soentjies na Hom toe geblaas het. Hy gee my toe ook die volgende vers waar Jesus self die profete aangehaal het:

Mat 15:8  Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.

Jes 29:13  En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is,

Abba begin toe met my deel dat Sy kinders verval het in godsdienstige rituele wat Hom op 'n afstand gehou het en gebrekkig was aan intimiteit met Hom. Baie het in werke verval en wou Sy aandag trek deur dinge wat hulle doen en ander het weer hulle goeie werke op sosiale media en ander bronne uitgesaai om die eer van mense te soek.

Joh 12:43  Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.

..terwyl God dit uitdruklik stel dat Hy sy eer met niemand deel nie!

Ek het ook toe verder ervaar dat Vader sê dat Hy hierdie tyd van “lockdown” gebruik om harte weer na Hom te laat terugkeer en ook vir ons om te moet besef dat ons dinge begin toelaat het in ons lewens wat belangriker geword het as intimiteit met Hom....en dit sluit die afgod van “te besig wees”, in. Tog het die Bybel dit al baie jare gelede voorspel dat mense in die laaste dae gaan afvallig word, omdat ander dinge te belangrik word vir die mens.

1Tim 4:1  Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang
1Tim 4:2  deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,
1Tim 4:3  wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.

Ons sien dan hiérdie dinge in ons tyd afspeel waar die godsdienstige instellings begin om God se Woord kragteloos te maak deur leerstellings van duiwels aan te neem en, o.a., selfde geslag huwelike toe te laat en selfs te bekragtig en predikers wié hiérdie dinge goedkeur en selfs doen, toe te laat om as herders van die gemeentes te dien...en dan praat ek nie eers van ander dinge soos saamslaap buite die huwelike en drankmisbruik deur die leiers van die gemeentes  nie, ens. Tog is dit ook alreeds jare terug voorspel.


2Tim 3:1  Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
2Tim 3:2  Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
2Tim 3:3  sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,
2Tim 3:4  verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;
2Tim 3:5  mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

Vader herinner my ook egter daaraan dat hy weer 'n honger in mense gaan wakker maak vir die ware woord van God en glo ek dat Vader juis hiérdie tyd gebruik om mense weer soekend te maak vir die waarheid van Sy woord.

Amo 8:11  Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor.

Wanneer ons dan sien wat rondom ons aan die gebeur is, weet ek verseker dat ons verlossing naby is en wil ek ook elkeen bemoedig met hiérdie woorde: “Jesus Christus van Nasaret lewe en Hy kom verseker weer!”

Laat ons daarom waaksaam en nugter wees en onsself voorberei vir sy koms, sodat ons nie dalk onverhoeds betrap word nie!

1Thes 5:4  Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie.
1Thes 5:5  Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.
1Thes 5:6  Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.

Mar 14:38  Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

Luk 21:34  Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.
Luk 21:35  Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.
Luk 21:36  Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.

GEBED: 
Ons Hemelse Vader, ek wil vandag elkeen van ons voor U troon neersit en vra dat U ons sal leer om te waak en bid dat ons nie in die versoeking kom nie en dat U weer 'n honger in ons harte gee vir die ware woord van God. Moenie U Gees van ons verhinder nie en Heilige Gees help ons dat ons kan terugkeer na ons Koning toe met ons hele hart, krag en verstand...amen!

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

1 comment:

  1. This comment has been removed by a blog administrator.

    ReplyDelete

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...