Friday 19 June 2020

Leer my die weg


Psalm 119:33-40: "HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar. Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte. Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek ‘n behae. Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie. Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë. Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees. Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed. Gewis, ek het ‘n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid."

In die tyd waarin ons ons tans bevind, hier kort voor die koms van ons Here Jesus Christus, is dit belangriker as OOIT vantevore in die geskiedenis dat ons die Here sal vra om ons die weg van Sy insettinge te leer, juis sodat ons dit in ons lewens kan bewaar tot die einde toe.

En om die Here se insettinge, Sy voorskrifte, Sy gebooie te kan bewaar tot die einde toe, het ons verstand nodig, geestelike insig wat net Hy ons kan gee deur Sy Heilige Gees. En ons moet Hom juis vra vir daardie insig en verstand, want deur dit sal ons weet HOE om Sy insettinge te onderhou en te doen.

As ons die Here verder vra om ons te laat wandel op die pad van Sy gebooie, sal Hy dit doen deur ons deur Sy Heilige Gees leiding te gee, volgens Romeine 8:14. Want op hierdie pad vind ons volgens 1 Johannes 5:3 dan uit dat Sy gebooie nie swaar is nie, en word dit iets waarin ons ons satisfaksie en plesier kan vind om 'n goeie lewe te lei.

En as die Here my so deur Sy gees lei, gaan die Here se getuienisse in Sy Woord, en Sy weë, vir my baie belangriker raak as enige winsbejag of die begeerte na fisiese wêreldse dinge, en sal my oë nie "rondkyk" na nietige dinge wat geen geestelike waarde vir my het nie.


Verder lees ons in die Woord dat die vrees van die Here die beginsel van alle wysheid is (Psalm 11:10), en kan ons dus ook die Here vra om aan ons die belofte van die vrees van die Here in ons lewens te vervul, dat ons ook daagliks daardie wysheid salhê. Dit sal tot gevolg hê dat ons sal afwyk van die kwaad en sal haat wat sleg is.

En as ons lewend gemaak word na God se weë, dan sal die skandes van ons sondes (smaadhede) ook van ons afgewend en weggevat word, juis omdat die Here se verordeninge net goed is.

As ons leer om self 'n opregte begeerte te hê tot die Here se bevele, sal Hy ons ook lewend maak na Sy geregtigheid. Vir 'n verduideliking van waaroor God se geregtigheid werklik gaan, kyk gerus na hierdie YouTube video van my: https://youtu.be/-BPar29HzDo

Mag ons dus elkeen in hierdie week kies om die Here te vra om ons lewend te maak na Sy weë en na Sy geregtigheid, want ons Jesus se koms is BAIE naby!

GEBED: 

"Vader, leer my asseblief elke dag deur U Heilige Gees U weë en U insettinge, en maak my lewend na U Woord en U geregtigheid, in Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...