Friday 19 June 2020

My reg?


Wanneer jy groot geword het en geskool was in 'n geestelike gemeenskap van 'outoriteit-neem-oor-die-vyand-en-al-sy-boosheid' en ook heers oor alles, wat aan jou toevertrou word as goeie rentmeesters [Lukas 10:19 en Genesis 1:28], dan loop die 'koninlike-DNA' sommer sterk deur jou are. Jy voel jy kan berge versit, prinse onttroon en sommer planete skuif!

Ongelukkig kan hierdie ook 'n baie gevaarlike geloofs-ingesteldheid wees, wanneer jy nie 'n baie suiwer Skriftuurlike en gebalanseerde dissipelskap ontvang het nie. [Matthèüs 28:19] Wanneer jou leermeesters nagelaat het om jou te leer, dat Christus NIE net die magtige 'Leeu van Juda' was nie; maar vir 'n baie kort seisoen in Sy lewe, moes Hy ook die 'Lam van God' wees. Iemand wat gewillig moes opstap na die slagpale toe. Om GESLAG te word. Nou nie meer so 'n 'koninlike' gedagte nie, of hoe?

Die ongeleë gevaar van die baie vleeslike 'ek-is-geregtig-tot-dit-en-ek-is-geregtig-tot-dat', kan onverwags so vinnig inkruip en jou weer verenig met die trotse-en selfregverdigende troon van 'EK.' Die Engels noem dit 'ENTITLEMENT'.

En dan; gebeur die lewe. En ook selektiewe goed, wat buite jou beheer is. Dit mors ewe skielik met jou geleerde teologie. Dit het geen genade vir joú oortuigings nie en soveel, as wat jy dit geestelik probeer 'hanteer', word dit net erger. Leë antwoorde en geïrriteerde frustrasie. Hoe kán hierdie dinge met my gebeur, vra jy jouself? En hoekom met mý? [Asof jy gevrywaar word van alle lewens-storms.]

Jou gemodeleerde 'formules' werk nou nie meer so mooi nie en jy trek dit persoonlik aan: 'Ek moet sekerlik iets verkeerd doen, of my geloof is nie genoeg, soos 'Pastor Bill' sin in Amerika nie.'

STOP. Kan jy net stilword vir 'n oomblik, asseblief Christen? Hersien net gou weer Jesus se afhanklike woorde in Johannes 5:19: 'Waarmee is My Vader nou besig in My lewe? En hoe werk Ek SAAM met Hom? [My eie verwerking]

Die fokus hiér, lê op 'SAAM'.

Die enigste dissipline, wat jou in volle ritme kan hou met God, is daaglikse, intieme dialoog. Net soos, wat Jesus moes doen met Sy Vader. Dit gaan jou dwing, om uit die 'formule-bootjie' uit te klim en Hom blindelings te kan vertrou vir iets heeltemal nuuts, wat elke dag op die water gaan aankom. Hy 'BLY' skeppend en Hy 'IS' nog steeds die Skepper. Hy sal verseker, en elke keer, iets nuuts na vore bring.

Hoe weet ek dit, vra jy miskien? [
Gisteraand om die kampvuur, toe ons 'choppies' en braai-broodjies geeët het, wou jou pa niks eet nie. Vir die derde dag nou al. Finansiële spanning glo. Ons weet ook van die SARS verrassing, wat laas week in die pos gekom het. Die keiser soek alwéér, wat hom toekom. In jou pa se erge bekommernis, vra Jesus hom toe, om gou 'n vis te gaan vang en wanneer hy dit uitgetrek het, sal daar 'n groot rôl oranje note in die bek van die vis wees. 'Betaal daarmee jou skuld, Johan. Kom dan terug en eet saam met ons 'n skilpadjie', was die Wonderwerker se woorde. [My eie verwerking] En dit het ook presies, net so afgespeel! Jou pa is 'n ander mens vandag, nie waar nie? Méér gelowig, as jy my sou vra. [Matthéüs 17:27]


Môre vra die Meester jou weer, om jouself sewe keer te gaan afwas in die Oranjerivier, net Noord van Prieska. Met verbasing, gaan jy sien, dat jou melaatsheid heeltemal weg is! En wag, daar is meer: Jou vel gaan so nuut wees, soos 'n jong kind s'n! Nie eers soos 'n volwasse soldaat se vel nie. [2 Konings 5:1-14]

God werk buite standaard formules. Nog meer - buite mensgemaakte formules. Hy kan nié in 'n vuurhoutjie-boksie gedruk word nie. Elke keer is anders.

Net só werk dit ook met jou lewens-storms, wat nie altyd met joú teologie gaan klop nie. Ja, ek glo ook; ons IS koninlik en konings-kinders daarby, maar ons is OOK Sy gesante, mede-werkers in die koninkryk en Sy EIENDOM. Ons behoort nie aan onsself nie. Hy kan met ons maak, nét wat Hy wil. En vir AL Sy eie doeleindes. Nie ons s'n nie.

Al beteken dit, dat jy met tye, in uitdagende omstandighede moet beland, wat jou gemaksone geweldig baie gaan bedreig en wat ook nie altyd te lekker is vir jou vlees nie, sodat God jou kan gebruik, om die ateïs wat oor jou pad kom, te kan bedien tot 'n besluit vir die ewige lewe. Wat is nou belangriker hiér: 'n Ongeredde man se siel, wat gered word en die ewigheid in God se boesem lê; of jou eie 'Christen reg', om as gelowige geen storms te hê nie? Wat leef nou weer verewig: Liggaam of gees? [Let wel: Diskresie oor die tipe storms is nodig. Ons het ook 'n opportunistiese vyand, wat baie kreatief kan wees! Johannes 10:10]

Indien dit vir jou moeilik is, om hierdie stelling te omhels, wil ek graag vir al die Nuwe Testamentiese apostels/dissipels van Christus in die getuiebank vra, hoe hulle elkeen, in die fleur van hulle lewens en ook toe later, dood is? Nog meer, hoe was hulle fisiese lewens-kwaliteit gewees, voor hulle dood?

Gun my om te sê, dat hierdie 'n baie omstrede en uitdagende stelling vir die 'voorspoed-teologie' gemeenskap is. Dit sal egter ook wees, want hulle is ook maar net nóg 'n 'formule' gedrewe beweging. Weekliks moet ek bybelse antwoorde en leiding verskaf aan verwarde lede, wat ook 'ge-name, ge-frame en ge-claim' het en absoluut niks in oorvloed ontvang het nie. 'Te min geloof?', vra hulle my klokslag. Of heel moontlik ook 'entitlement', wat God nooit sal behaag nie?

Hierdie is 'n uitspraak, wat aanvanklik lyk of dit 'n teenstrydigheid bevat, want God wil tog hê, dat dit met ons goed moet gaan en dat ons in oorwinning moet lewe [Johannes 10:10 en Jeremia 29:11], nie waar nie, maar by nader beskouing, is bostaande tog onverwags betekenisvol en waar. Dit is onvermydelik, dat kinders van God ook moeilike uitdagings in hul lewens gaan beleef. Ja, lewens-storms buite hulle beheer. Magteloos. Tye wanneer jy ook nie alles bymekaar gaan hê nie. Wat dan?

Waartoe, en waarop is ek as koninlike gelowige, geregtig?

Antwoord: God se teenwoordigheid. Sy intieme leiding. Deurbraak. Bemoediging. Die muur van vuur om my. 'n Verskansing van beskerming oor my. My Skild en my Pantser in die oorlog. 'n Hoëpriester. Die Herder wat intens omgee en sorg. En laastens, 'n baie kort tydjie op aarde, waar jy SAAM met God, Sy koninkryk kan uitbrei en bevorder - op Sy termes, en in Sy tyd, en in Sy vermoëns - of dit in die vuur is, soos met Daniël of op Jesus se bors, soos Johannes. Want Hy BESIT jou. Jy het geen eienaarskap meer oor jou nie. [Galásiërs 2:20] Hy het die regte. Hy is Heer.

In slot, JY is ook geregtig op die baie salige en verwelkomende woorde van ons Koning, eendag in die hiernamaals, wat sê: 'Mooi so, goeie en getroue dienskneg. Oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in, in die vreugde van jou Heer.' [Matthèüs 25:23]

GEBED:

'Vader God, gee my die genade, om aan die einde van MYSELF te kom. En hóú my daar, Heer. My begeerte is, dat wanneer U na my kyk, U net vir Christus sal raaksien. In die Naam van Jesus Christus, van Nasaret. Amen.'


 Geskryf deur: hennie van der westhuizen
(info@paragonlife.c

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...