Friday 19 June 2020

Mure


Nehemia 1:3-4: "En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand. En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel..."

Spreuke 18:10: "Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut."

Gedurende Nehemiah se tyd het stadsmure beskerming gebied vir sowel fisiese as geestelike gesondheid. Stewige mure het beskerming gebied teen vyandige aanvalle. Vir die Jode het die mure ook beskerming gebied teen die invoer van vreemde gewoontes wat hul harte en siele kon besoedel. Dit wat buitestaanders mag beskou het as beperking of 'n tipe gevangenisskap was vir hulle vrede en sekuriteit.

Nehemiah het besef dat die oorblywendes in Jerusalem   dringend bereik moes word om hulle tot redding en algehele verlossing te lei. (Nehemiah 1:1-7). Daarby het Hy ook besef dat die herbou van die stadsmure en nuwe hekke in die poorte van uiterste belang was sodat hulle veilig sou wees teen die aanslae van die vyande en weer gehoorsaam kon word aan God.

Ons leef vandag ook in soortgelyke omstandighede as waarin die agtergeblewe groep in Jerusalem hulself in Nehemiah se tyd bevind het. Ons mense is  in net so ’n bedenklike toestand as wat die bondgenote van Nehemia was. Ons broeders en susters benodig net so dringend verlossing van vloeke en siektes en benodig net so ernstig mure en hekke teen die aanvalle van die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis.

Waarmee is ons broeders en susters besig, om mure te bou? Inderdaad ja, behuisingskomplekse, aftree oorde, elektriese heinings, “beams en sensors’ en alarms gekoppel aan sekuriteitsmaatskappye en hekke word herstel en versterk. Voeg daarby mediese versekering,, gimnasium kontrakte, aftree annuiteite, lewensversekering... maar wat dan van bekering en geestelike verlossing? Ja ook die is ons mee "besig", mega kerke, gemaks evangelie, die beloftes van die Here onse God, “my” sielkundige, “my” spesialis, “my” persoonlike afrigter...


Klink dit alles nogal bekend? Aangesien ons dit dan alles so goed onder beheer het kom ons vra onsself die volgende: Hoeveel kans het ons op herstel van kanker? Wat is die persentasie van sterftes as gevolg van selfdood? Hoeveel is gevangenes van Alzheimers - en onthou om die nabye familie hierby in te sluit? Hoeveel is verslaaf aan sogenaamde voorgeskrewe medisyne? Wat is ons egskeidings-statistieke? Is dit nodig om nog voorbeelde te noem?

Dit wil vir my lyk of ons gemeenskap net so min soos die Farieërs in 33 nC besef dat die Here onse God nie meer in die Jerusalem tempel te vinde is nie en dat die mure en hekke van ons redding nie van klippe en mortier en hout gemaak word nie, of nie bestaan uit behuisingskomplekse en sekerheidsmaatreëls en versekeringe nie.

Ons moderne gemeenskappe het die weg blykbaar net so byster geraak (Johannes 14:6) as Israel toe hulle die Vader verwerp het. Ons is net so ongehoorsaam aan Jesus as wat hulle aan die Vader ongehoorsaam was en die gevolg is dat ons harte net so beskadig is en net sulke stortingsterreine van afval geword het dat daar in ons harte ook nie meer plek vir die Heilige Gees is nie. Net soos daar in Jerusalem ook min was wat besef het hoe nodig hulle ’n Nehemia gehad het so ook  leef ons mense geblinddoek.

Waar sal ons Nehemia vandaan kom? Vanuit enkele mediese dokters wat die waarheid ken? Enkele opregte genesingsbedieninge wie se stigters nou reeds by Jesus vertoef? Enkelinge met 'n opregte begeerte na die egte Woord van God wat glo net in dit wat in die Bybel staan en die outoriteit van die hemel, en wonderwerke en tekens tot eer van Jesus Christus alleen?

Waar staan ek en jy in terme van ons Nehemia roeping? Nehemia se trane het in dade verander wat ’n hele stad genees het. Wanneer gaan ons dade diegene rondom ons na gees, siel en liggame tot volkome genesing lei - veral in hierdie eindtye waarin ons ons bevind?

GEBED:

"Onse Vader met alle ootmoed en berou en met hart en siel kniel ek voor u Almagtige outoriteit oor ons hele wese. Hier is ek Here, stuur my. Laat ek hoor waar ek in u plan vir die mensdom inpas en ek is gewillig. In Jesus se Naam. Amen."

Geskryf deur: sybrand van kwawegen
(sybrand191@gmail.com)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...