Monday 1 July 2019

Liefde vir God



1 Johannes 5:2,3: "Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie."

Die Bybel leer ons dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Nou is die probleem juis dat baie mense nie vir hulleself lief is nie, so hoe kan hulle dan enigiemand anders om hulle, liefhê? As hulle hulleself haat, dan gaan hulle uiteraard hulle naaste haat. As hulle nie hulleself kan vergewe nie, dan gaan hulle nie hulle naaste kan vergewe nie, ensomeer. Want hulle sal hulle naaste liefhê op dieselfde wyse as wat hulle hulleself liefhet.

Hoe stel ons dit dan reg? Ons kry die antwoord in die bogemelde verse. Ons sal die kinders van God kan liefhê wanneer ons God liefhet en Sy gebooie bewaar. En uit die aard van die saak sluit Sy gebooie in dat ons mekaar 70 x 7 keer moet vergewe, dat ons nie bitterheid jeens ander mense moet toelaat nie, dat ons diegene moet seën wat ons vervloek ensomeer.


Maar nou is die probleem dat ons almal nog al die jare gesê het: "Maar dis so moeilik!" En dit het ons laat grootword en laat dink dat ons nie in staat is om hierdie dinge reg te kry nie.

Tog leer die teksvers waarmee ons besig is, dat God se gebooie NIE SWAAR IS NIE. En hoekom is hulle nie swaar nie? Want as ons God liefhet, en uit liefde vir Hom Sy gebooie begin onderhou, gaan ons agterkom dat dit vir ons al hoe makliker raak om dit alles te kan begin doen. Want dan doen ons dit uit ons liefde vir Hom en nie uit enige dooie godsdienstige tradisies nie.

Kom ons vra dus hierdie week vir die Here om ons te leer om Hom al hoe meer lief te kry vir dit wat Hy alles vir ons gedoen het, steeds doen, en nog gaan doen in die ewigheid. En daarmee saam dat Hy ons dan sal leer om Sy kinders lief te hê met Sy liefde.

Wat daaruit gaan voortvloei, is dat ons dan Sy gebooie sommer gemaklik gaan onderhou en ons verhouding met Hom en ons medemens gaan begin geniet!


GEBED: 

"Vader, hierdie week wil ek U vra dat U my 'n hart sal gee om U lief te hê met die liefde wat U vir my het. En daarmee saam wil ek vra dat U my verder sal leer om myself te leer liefkry met U liefde, sodat ek my naaste kan begin liefhê soos myself. Laastens vra ek dat U my sal leer om U gebooie uit liefde uit te begin doen en dit te begin geniet tot U eer. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...