Monday 22 July 2019

Kom ons eet!



Reg aan die begin van die skepping, in die tyd van Adam en Eva, het God slegs een boom uitgesonder waarvan die mens nie mag geëet het nie. Terwyl die mens dus aan niks tekort gehad het nie en vrylik van die ander kon eet, glo ek dat daar 'n dag gekom het waar hierdie woorde die eerste keer op hierdie aarde gespreek is.

Dit was die dag toe Eva vir Adam genooi het om te eet van die verbode vrugte. Ons weet dan ook dat daardie daad van ongehoorsaamheid, die verderf op hierdie aarde en oor die mensdom gebring het.

Tog, baie jare later, word daardie uitnodiging weer gerig deur die tweede Adam en word ons weereens genooi om te eet. Hierdie keer word ons genooi om deel te hê aan Sy liggaam en Sy bloed wat vir ons die verlossing gebring het.

Joh 6:53  En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.
Joh 6:54  Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Joh 6:55  Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank.
Joh 6:56  Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.

Wanneer Jesus die nagmaal instel, herhaal Hy weer hierdie uitnodiging en gee dan ook aan ons hierdie verbondstekens as 'n herinnering aan die offer wat Hy met Sy liggaam gebring het vir ons genesing en ook dat Sy bloed die prys vir ons sondes betaal het.

1Kor 11:24  en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.
1Kor 11:25  Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.
1Kor 11:26  Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Jesus het Homself gegee om ons te reinig van alle ongeregtigheid en om ons heilig voor Vader te stel.

Tit 2:14  wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.

Laat ons onsself dan daagliks herinner aan hierdie genade wat ons verniet ontvang het en kom ons neem hierdie uitnodiging aan, terwyl ons die dinge van die oumens aflê en die vrees van die Here najaag in heiligmaking.

2Kor 7:1  Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.


GEBED:  Here Jesus, baie dankie dat ons deel mag hê aan U liggaam wat vir ons gebreek is tot genesing en U bloed wat die prys van ons ongeregtighede betaal het...amen!


Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...