Tuesday 25 June 2019

Die prys om te betaal


Daar is altyd ‘n prys om te betaal. Maak nie saak hoe groot, hoe klein, hoe duur of hoe goedkoop nie.

Ons kan ‘n prys op elke liewe item op aarde plaas en dit betaal, ja, selfs in vandag se tyd op iemand se lewe want vandag is selfs ons lewens nie meer prysloos nie.

Koop jy iets, betaal jy ‘n prys met geld. Doen jy iets uit liefdadigheid, betaal jy ‘n prys met tyd en liefde. Ontvang jy selfs iets, betaal jy die prys van dankbaarheid.

Maar, vir ons eie sondes is daar geen prys wat ons kan betaal wat sal keer dat ons in die hel opeindig nie. Daardie prys is so groot dat slegs Jesus Christus dit kon betaal en nie net vir jou en my sondes nie, vir AL die sondes in AL die wêreld in AL die tyd, verlede, hede en toekomstig, deur slegs een maal aan die kruis te hang op Golgota 2019 jaar terug!

Ons kan maar so soet en vriendelik en gehoorsaam en getrou wees soos ons wil, as dit nie vir Jesus se opoffering was nie, sou dit niks gehelp het nie, want Hy is die Een wat die volledige en finale prys betaal het, VIR ONS.
Dit is die prys waarop ons oog moet vestig in vandag se tyd. Nie wat ons betaal nie, maar wat HY REEDS betaal het.

Hebreërs 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

In vandag se lewe is daar dalk baie groot en duur pryse wat ons moet betaal, alreeds betaal het of nog gaan betaal.

In die fisiese dimensie is dit meestal op finansies gefokus en alles wat betaal word, moet deur een of ander kommoditeit bepaal word. In die geestelike dimensie daarenteen, is die enigste prys wat ek en jy kan betaal vir dit wat Jesus vir ons gedoen het, niks anders as om te streef na ‘n lewe van 100% heiligmaking om Hom te eer en te dien te alle tye in alles wat ons doen, bv.

Alles op te offer vir Hom, want dis wat Hy gedoen het vir ons

Hebreërs 10:14  Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.

Alles te doen nie vir onsself of iemand anders nie, maar soos vir God

Kolossense 3:23  En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,

Heilig te lewe in alles wat ons doen

1Petrus 1:16  …Wees heilig, want Ek is heilig.

En nog soveel ander dinge, dat ek nie alles reël op reël kan benoem nie, maar weet dit, dat ALLES wat ons is, doen en nog gaan wees, moet, sonder dat ons woorde gebruik, uitskree: “Jesus is my alles!”

Gebed

Onse Vader wat in die hemel is, ek dank U dat U seun Jesus Christus die finale genoegsame prys betaal het vir my sondes aan die kruis op Golgota. Hernuwe asseblief hiermee die begeerte in my hart om alles wat ek doen, te doen uit dankbaarheid met die wete dat die prys betaal is en dat ek gered is deur Hom.
Heilige Gees lei my asseblief dat ek my lewe so kan lei dat ander mense Jesus in my sal sien.
Amen


Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...