Monday 22 July 2019

Doen goed



Mattheus 5:44,45: "Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê, seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges."

Hierdie is twee van daardie teksverse in die Bybel wat die meeste Christene nie graag wil hoor nie, of hoop dat Jesus dit dalk nie so letterlik bedoel het nie.

Want wanneer iemand my vloek, is die eerste reaksie in ons vlees, gerugsteun deur die standaard siening in die wêreld daarbuite, om hom of haar dadelik terug te vloek!

Maar tog wil Jesus hê ons moet anders wees en daardie persoon eerder seën, juis sodat ek seën kan ontvang. En waar is daar beter geleenthede om hierdie tekvers prakties te beoefen as elke week by die werk as iemand wat nie van my hou nie, my sou slegsê of vloek? Kan ons die week kies om dit dan eerder te doen soos Jesus dit wil hê, en eerder seën as om terug te vloek?

En hoe is dit moontlik om goed te doen aan iemand wat my haat, of om te bid vir daardie mense wat my beledig en vervolg en my net heeltyd in die moeilikheid wil laat beland? Of hoe kan ons ons vyande liefhê? Ons gaan hierdie dinge beslis nie in ons eie krag kan regkry nie.

Daarom prys ons die Here vir verse soos Filippense 4:13 in die Bybel, wat bepaal dat ons tot ALLES in staat is deur Christus wat ons die krag gee! Ons kan dus regtig al daardie goed doen wat Jesus van ons verwag - as ons Hom net elke dag leer VRA vir Sy krag om dit te doen.


Die vraag is nou - maar hoekom moet ek al daardie dinge so doen? En die antwoord kry ons in vers 45 wat bepaal: "...sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is..."

Wil ons regtig vir die mense rondom ons wys dat ons kinders van ons Hemelse Vader is, dan moet ons al daardie dinge PRAKTIES begin doen teenoor almal rondom ons, selfs teenoor die slegtes en die onregverdiges in ons daaglikse lewens.

Kom ons vra in hierdie week die Vader om ons werklik Jesus se krag te gee om soos Hy op te tree teenoor al die mense rondom ons in elke situasie waar ons gekonfronteer word, en begin daardie paar dinge prakties te DOEN, en kyk wat doen Vader vir jou in jou situasie.


GEBED: 

"Vader, ek bely vandag dat ek nie altyd U opdragte in Mattheus 5:44 nagekom het nie. Vergewe asseblief my sonde Here, en gee my in hierdie week Jesus Christus se krag om te doen wat U van my verwag, selfs teenoor die slegtes en die onregverdiges in my lewe wat my haat, vloek, vervolg en beledig, juis sodat ek U kind kan wees en soos U kan wees, en U my kan seën. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...