Showing posts with label God se liefde vir jou. Show all posts
Showing posts with label God se liefde vir jou. Show all posts

Monday, 1 July 2019

Liefde vir God



1 Johannes 5:2,3: "Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie."

Die Bybel leer ons dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Nou is die probleem juis dat baie mense nie vir hulleself lief is nie, so hoe kan hulle dan enigiemand anders om hulle, liefhê? As hulle hulleself haat, dan gaan hulle uiteraard hulle naaste haat. As hulle nie hulleself kan vergewe nie, dan gaan hulle nie hulle naaste kan vergewe nie, ensomeer. Want hulle sal hulle naaste liefhê op dieselfde wyse as wat hulle hulleself liefhet.

Hoe stel ons dit dan reg? Ons kry die antwoord in die bogemelde verse. Ons sal die kinders van God kan liefhê wanneer ons God liefhet en Sy gebooie bewaar. En uit die aard van die saak sluit Sy gebooie in dat ons mekaar 70 x 7 keer moet vergewe, dat ons nie bitterheid jeens ander mense moet toelaat nie, dat ons diegene moet seën wat ons vervloek ensomeer.


Maar nou is die probleem dat ons almal nog al die jare gesê het: "Maar dis so moeilik!" En dit het ons laat grootword en laat dink dat ons nie in staat is om hierdie dinge reg te kry nie.

Tog leer die teksvers waarmee ons besig is, dat God se gebooie NIE SWAAR IS NIE. En hoekom is hulle nie swaar nie? Want as ons God liefhet, en uit liefde vir Hom Sy gebooie begin onderhou, gaan ons agterkom dat dit vir ons al hoe makliker raak om dit alles te kan begin doen. Want dan doen ons dit uit ons liefde vir Hom en nie uit enige dooie godsdienstige tradisies nie.

Kom ons vra dus hierdie week vir die Here om ons te leer om Hom al hoe meer lief te kry vir dit wat Hy alles vir ons gedoen het, steeds doen, en nog gaan doen in die ewigheid. En daarmee saam dat Hy ons dan sal leer om Sy kinders lief te hê met Sy liefde.

Wat daaruit gaan voortvloei, is dat ons dan Sy gebooie sommer gemaklik gaan onderhou en ons verhouding met Hom en ons medemens gaan begin geniet!


GEBED: 

"Vader, hierdie week wil ek U vra dat U my 'n hart sal gee om U lief te hê met die liefde wat U vir my het. En daarmee saam wil ek vra dat U my verder sal leer om myself te leer liefkry met U liefde, sodat ek my naaste kan begin liefhê soos myself. Laastens vra ek dat U my sal leer om U gebooie uit liefde uit te begin doen en dit te begin geniet tot U eer. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Tuesday, 19 March 2019

Goed genoeg!



Ons leef in 'n era waar bitter baie klem en fokus op prestasies geplaas word. Selfs in die skole word ons kinders geleer om daarop te fokus en word hulle selfs beloon indien hulle sou presteer. Tot 'n mate is dit nie altyd heeltemal verkeerd nie, want dit leer mense ook dat hul soms tot meer instaat is as wat hulle gedink het. Tog is die wêreld se fokus meer op wie jy is, hoeveel jy verdien, watter prestasies behaal is, ens.

Baie kere word hierdie verwronge idee van wie jy werklik is, ook deurgetrek na mense se geestelike lewens en voel hulle baie kere dat hulle net nooit goed genoeg sal wees vir God nie. Orals probeer hul Hom dan ook met werke beïndruk, terwyl ons absoluut niks kan doen wat Hom meer of minder lief sal maak vir ons nie.

Joh 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Joh 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

God het reeds Sy liefde vir ons bewys deur Sy Seun, Jesus Christus, in ons plek te stuur sodat daar versoening kan kom tussen God en elkeen wie Jesus Christus aangeneem het as Saligmaker.

Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;

Ons word dus gered deur geloof alleen en nie deur enige vorm van werke nie! En elkeen wat Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, is goed genoeg vir God en ook goed genoeg om deur Hom gebruik te kan word in Sy koninkryk. Dit is dus nie jou verlede of jou huidige posisie wat jou stand in Christus bepaal nie.

2Kor 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Ek wil jou dus bemoedig deur hierdie woord...jy is goed genoeg, só tel op jou kop en kyk na jouself soos wat Vader na jou kyk...skoongewas en losgekoop deur die bloed van Jesus Christus!


GEBED: Vader, ek bid dat U deur U Gees aan elkeen van U kinders sal openbaar hoé groot U liefde vir ons is en hoé kosbaar elkeen in U hart is...amen


 Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Tuesday, 24 January 2017

Die boodskap van die wet: Liefde!

Image result for god se liefde vir jou

DIE BOODSKAP VAN DIE WET: LIEFDE!


In Matt 22:36-40 word Jesus gevra: “Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”

In Sy antwoord op die vraag gee Jesus ‘n opsomming van die wet: liefde. “Jy moet die Here jou God liefhê… Jy moet jou naaste liefhê.” Jesus verklaar verder “Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet en die Profete.” Enige opdrag in die wet (woord) van God is onderworpe aan een van hierdie twee gebooie.

“Jy moet die Here jou God liefhê.” Die primêre opdrag van die wet is ‘n alles omvattende liefdesverhouding met God Almagtig. Ek moet God liefhê met my hele hart en met my hele siel en met my hele verstand. Vanuit die diepste van my wese en bestaan moet liefde tot Hom uitvloei. In elke uitdrukking van my persoonlikheid moet liefde tot God uitvloei. In elke gedagte wat ek het en bedink moet liefde tot God die ondertoon wees. Enige aspek van die lewe wat nie ‘n onbeperkte, allesomvattende liefde tot Hom openbaar en wys nie, is ‘n oortreding van Sy wet.

“Jy moet jou naaste liefhê.” Die tweede opdrag in God se wet vereis onselfsugtige liefde vir elke ander mens. Ek moet ander liefhê soos myself. Sommige gebruik hierdie vers verkeerdelik om mense te motiveer om ‘n fiktiewe derde gebod te gehoorsaam – “Ek moet leer om myself lief te hê!” Nee, Jesus sê dat daar net twee gebooie is. Hierdie tweede gebod is ‘n oproep om aan ander dieselfde bedagsaamheid  en versorging te bewys as wat ek deur my hele lewe aan myself gegee het. Jesus het later hierdie gebod verder versterk en bevestig in Joh 13:34 “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”

Die boodskap van die wet van God is : LIEFDE.
Teenoor God – TEN VOLLE
Teenoor ander – OPOFFEREND

“Here Jesus, ek kom buig voor U as die God van onvoorwaardelike liefde. Ek het U lief omdat U my eerste liefgehad het. Tog skiet my liefde tot U so vêr tekort in die lig van wat U verdien en verwag. Here, my liefde teenoor ander word soveel kere beïnvloed en verminder deur my eie selfsugtigheid. Ek vra nederig dat U in my ‘n meer diepergaande liefde tot U en onselfsugtige liefde tot ander sal bewerk. In Jesus Naam. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


Thursday, 22 October 2015

Vader se Liefdesbrief aan JOU!


Image result for person reading a letter

My liefste kind

Jy ken My dalk nie, maar Ek weet alles van jou af (Ps.139:1)
Ek weet wanneer jy sit en wanneer jy opstaan (Ps.139:2)
Ek is bekend met al jou paaie (Ps.139:3)
Selfs die hare op jou kop is getel (Matt.10:29-31)
Want jy is na My beeld gemaak (Gen.1:27)
In My leef, beweeg en is jy (Hand.17:28)
Want jy is My nageslag (Hand.17:28)
Ek het jou geken selfs voordat jy in jou moeder se skoot gevorm was (Jer.1:4-5)
Ek het jou gekies toe Ek die Skepping beplan het (Ef.1:11-12)
Jy was nie ‘n fout nie, want al jou dae is in My boek opgeskryf (Ps.139:15-16)
Ek het die presiese tyd van jou geboorte bepaal en waar jy sou bly (Hand.17:26)
Jy is vreeslik wonderbaarlik gemaak (Ps.139:14)
Ek het jou gevorm en aanmekaar geweef in jou moeder se skoot (Ps.139:13)
Van jou geboorte af help Ek jou (Ps.71:6)
Ek word misverstaan deur dié wat My nie ken nie (Joh. 8:41-44)
Ek is nie op ‘n afstand en kwaad nie, maar Ek is die volmaakte liefde (1 Joh. 4:16)
En dit is My begeerte om My liefde oor jou uit te stort (1 Joh. 3:1)
Net omdat jy My kind is en Ek jou Vader (1 Joh. 3:1)
Ek bied jou baie meer as wat jou aardse vader ooit kan (Matt. 7:11)
Want Ek is die volmaakte Vader (Matt. 5:48)
Elke goeie gawe wat jy ontvang, kom uit My hand (Jak. 1:17)
Want Ek sorg vir jou en voorsien in al jou behoeftes (Matt. 6:31-33)
My plan vir jou toekoms was altyd met hoop gevul (Jer. 29:11)
Want Ek het jou nog altyd liefgehad (Jer. 31:3)
My gedagtes is wonderlik oor jou - meer as wat daar sand is (Ps. 139:17-18)
Ek jubel en juig oor jou (Sefanja 3:17)
Ek sal nooit ophou om aan jou goed te doen nie (Jer. 32:40)
Want jy is My kosbare eiendom (Eks. 19:5)
Met alles wat Ek is, begeer Ek om jou te vestig (Jer. 32:41)
Ek wil groot en ondeurgrondelike dinge aan jou openbaar (Jer. 33:3)
As jy met jou hele hart na My soek, sal jy My vind (Deut. 4:29)
Vind jou vreugde in My, dan sal Ek jou gee wat jou hart begeer (Ps. 37:4)
Want dit is Ek wat daardie begeertes in jou hart lê (Fil. 2:13)
Ek is in staat om oneindig meer te doen as wat jy ooit kan bid of dink (Ef. 3:20)
Want Ek is jou grootste bemoediger (2 Tess. 2:16-17)
Ek is jou Vader wat jou in elke moeilikheid help (2 Kor. 1:3-4)
As jy hartseer is, is Ek naby jou (Ps. 34:19)
Soos ‘n herder ‘n lammetjie dra, dra Ek jou teen My bors (Jes. 40:11)
Ek sal eendag elke traan van jou oë afvee (Op. 21:3-40)
Ek sal al die smart en pyn wat jy hier op aarde gehad het, wegneem (Op. 21:3-4)
Ek is jou Vader, en Ek het jou net so lief soos My Seun, Jesus (Joh. 17:23)
Want in Jesus is My liefde vir jou geopenbaar (Joh. 17:26)
Jesus is die ewebeeld van My wese (Heb. 1:3)
Hy het gekom om vir jou te wys dat Ek vir jou is en nie teen jou nie (Rom. 8:31)
En om vir jou te sê dat Ek nie jou sondes tel nie (2 Kor. 5:18-19)
Want Jesus het gesterf sodat Ek en jy versoen kon word (2 Kor. 5:18-19)
Sy dood was die volkome bewys van My liefde vir jou (1 Joh. 4:10)
Ek het Jesus ter wille van jou oorgelewer (Rom. 8:32)
Sal Ek dan nie al die ander dinge, saam met Hom, vir jou gee nie? (Rom. 8:32)
As jy My Seun, Jesus, ontvang, ontvang jy My (1 Joh. 2:23)
En niks sal jou ooit weer van My liefde skei nie (Rom. 8:38-39)
Kom huistoe, ek Ons sal fees vier in die hemel (Luk. 15:7)
Ek was nog altyd jou Vader, en Ek sal altyd Vader bly (Ef. 3:14-15)
My vraag is ..... wil jy My kind wees? (Joh. 1:12-13)
Ek wag vir jou. (Luk. 15:11-32)
Met liefde,

Jou Pappa God en Vader

Geskryf deur Ds Pieter Fourie
Omgee Gemeente
Krugersdorp

Wednesday, 14 October 2015

Het jy ‘n vriend in Jesus?


Image result for close friends

Joh 15:15 Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet was sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van My Vader gehoor het aan julle bekend gemaak het.

Vriendskappe is die wonderlikste deel van mens se lewe. ‘n Ware vriendskap is baie moeilik om te vind, maar wanneer mens daai vriendskap gevind het, is dit iets wat mens oppas, iets wat mens met respek hanteer en koester. Mens sit baie tyd in ‘n vriendskap en mis jou vriend/in amper die heeltyd, jy wil soveel moontlik tyd spandeer saam met jou ware vriend/in.  As iets gebeur wil jy so gou as moontlik jou vriend/in vertel daarvan…’n verhouding van respek en vertroue bou op tussen julle, jy deel jou diepste geheime met jou vriend/in want daar is ‘n wedersydse liefde en band tussen julle.

In die vers hierbo sê Jesus aan Sy dissipels dat Hy hulle vriende noem, en nie meer diensknegte nie, want sou hulle diensknegte bly was Jesus niks anders as hulle baas nie, en hulle slawe nie. Dan verduidelik Jesus vir hulle verder, dat Hy wil hê hulle moet vir Hom vrugte dra, Hy het alles met hulle gedeel wat die Vader met Hom gedeel het. Hoekom? Sodat hulle ook deel kan hê aan die Vader soos Hy het, sodat hulle alles kan ontvang van die Vader wat hulle Hom vra, in Sy Naam.

Joh 15:16 Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in My Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Wat leer ons hieruit? Dat Jesus met ons ‘n vriendskap wil hê. Bly in ‘n verhouding met Hom van  intieme vertroue. Praat gereeld met Hom. Vertrou Hom. Sê vir Hom hoeveel jy Hom waardeer en hoe lief jy Hom het. Hy wil nie net hê dat ons sy slawe moet wees nie, Hy wil ‘n ware en opregte vriendskap met ons hê, ‘n verhouding, ‘n intieme verhouding, ‘n lewenslange verhouding!

Ons heg groot waarde aan aarde vriendskappe, hoeveel te meer moet ons nie waarde heg aan ons vriendskap met Jesus nie.

Joh 16:17 Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.

Jesus Vrede

Sunday, 2 August 2015

Hoe spesiaal is JY en ek vir God?


Image result for god loves you


"As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en sterre wat U toeberei het - wat is die mensekind dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.  U laat hom heers oor die werke van U hande; U het alles onder sy voete gestel." (Psalm 8:4-7).

Hoe is dit moontlik dat ek nog enigsens kan dink ek is 'n klein, nietige, onbelangrike wurmpie, terwyl hierdie teksvers so duidelik en ondubbelsinnig is?  Ek en jy is baie, baie spesiaal vir God, al probeer die wêreld op so baie wyses en in so baie vorme vir ons die teendeel bewys. Van kleins af hoor baie van ons by ons ouers, ons onderwysers en ons kerkmense hoe min ons werklik beteken, en hoe nietig ons werklik in God se oë sou wees.  Wat 'n hartseer leuen!

Hoor net wat sê Hy self in Jesaja 49:15-16 oor my en jou: " Kan 'n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie?  Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer, jou mure is gedurig voor my."   Was jy al ooit so lief vir enigiemand dat jy sy of haar naam in jou handpalms gegraveer het?  Wel, God sê Hy doen dit - met my en jou!  Is dit nie fantasties om te besef dat jou naam in die Here se handpalms verewig is nie, mits jy natuurlik wedergebore is? Hy sê dit sal makliker wees vir 'n moeder om haar baba te vergeet, as wat dit vir Hom is om jou en my te vergeet.  Ek dink ons weet elkeen dat 'n moeder haar baba sal beskerm met alles wat in haar is - hoeveel te meer dan God, die Vader, Seun en Heilige Gees?

"Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo..." (Johannes 1:12)   Sien jy, ons het die "reg" om kinders van God te word, maar daar is 'n voorwaarde aan gekoppel.  Ons moet Hom eers aanneem en in Sy Naam glo. Ons moet eers in 'n persoonlike verhouding met Hom ingaan!

Die Here sê selfs dat Sy ingewande oor ons in beroering is.  Glo jy my nie?  Kom ons kyk na die woorde van Jeremia 31:20: "Is Efraim vir My 'n dierbare seun of 'n troetelkind?  Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal my sekerlik oor hom ontferm, sê die Here."   Is dit nie wonderlik nie?  Om te dink die groot en almagtige God raak OPGEWONDE oor jou en my! Daarom wil Hy nie hê dat enigeen moet verlore gaan nie. "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat ELKEEN (wit of swart) wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê."   (Johannes 3:16).

Kom ons hou dus op om onsself, ons kinders, of die mense rondom ons te verkleineer, te verneder of sleg te sê.  Hoekom?  Want God sê Hy het ons 'n weinig minder gemaak as 'n "goddelike wese".  En gaan ons terug na die oorspronklike Hebreeuse teks, sien ons dat die woord waarmee "goddelike wese" vertaal is, is  "El-Ohim".  En gaan ons terug na Genesis 1:1 ook in die oorspronklike taal, sien ons daar staan: "In die begin het "El-Ohim" (God) die hemel en die aarde geskape."   Wat sien ons dus?  Dit beteken die Psalmis jubel dit uit dat God ons in werklikheid net 'n weinig minder gemaak het as Hom self!  Is dit nie ook 'n wonderlike, ontsag- en eerbiedwekkende, fantástiese wete nie?  Dat so 'n Almagtige, alomteenwoordige, liefdevolle God ons, gewone mensies, net 'n klein bietjie minder gemaak het as Hy self!  Wonderlik!!!

Dit gee ons egter geen rede om enigsens hoogmoedig te raak daaroor nie.  Inteendeel, dit moet by ons 'n diepe, eerbiedige en nederige aanbidding en lofprysing tot stand bring. 'n Eerbied en ontsag vir hierdie groot en wonderlike drie-enige God wat elkeen van ons voor ons geboorte al gekies het.  Kyk net hoe mooi stel Dawid dit in Psalm 139:13-15: "Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.  Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is U werke! En my siel weet dit alte goed.  My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde." Wat is ék dus vir God? "Wonderbaar"! Het jy al mooi gedink hoe spesiaal God jou gemaak het, liewe vriend?  Nét jy het daardie presiese vingerafdrukke aan jou vingerpunte, nét jy het presies daardie kleur, of krul, in jou hare, nét jy het so 'n skewe linker groottoon, nét jy het daardie spesifieke wipneus, nét jy het daardie geboortevlek op jou regterarm.  Daar is op hierdie hele wonderlike aarde net EEN soos JY! En God het jou "kunstig geweef" in jou moeder se skoot!  Dink net daaraan dat jy selfs 'n kampioen swemmer was nog lank voordat jy gebore is - want net één spermsel uit miljoene kon daarin slaag om die eiersel te bevrug wat jóú voortgebring het!

En hierdie wonderlike God sê Hy het jou en my name in Sy handpalms gegraveer, vir ewig op Sy handpalms ingeprent!  Liewe mens, as jy nog nie tot die besef gekom het hoe spesiaal jy vir God is nie, en as jou gedagtes van jou "nutteloosheid" in mense se oë jou nog weghou van jou wedergeboorte en 'n persoonlike verhouding van God af, gaan lees asseblief weer die bogemelde teksverse in jou eie Bybel, en vra God om sélf Sy liefde aan jou te openbaar.  Vra in 'n kort, eerlike gebed vir die Here om jou te vergewe vir alles wat jy in die verlede verkeerd gedoen, of van jouself verkeerd gedink het, en aanvaar Sy wonderlike vergifnis.  Begin dan om elke dag te wandel in daardie fantastiese wete van hoe spesiaal JY vir HOM is.

Moenie toelaat dat die satan deur die mond van ENIGE mens jou weer probeer wysmaak dat jy nie vir God spesiaal is nie.  Dit is 'n leuen van die satan!

tiaan gildenhuys - (tg@oicb.co.za)

tiaan

Geplaas met toestemming

Hoekom kies Jesus n donkie en nie n perd nie?

  Al vier die Evangelies vertel ons van die Jesus Christus se triomfantlike intog in Jerusalem, vyf dae voor Sy sterwe aan die Kruis. Matt 2...