Wednesday 10 July 2019

Vadoek storie



Vanoggend staan ek en skottelgoed was en ek dink sommer. Jy weet mos as jy skottelgoed was dink jy sommer net. Na alles mooi opgestapel is in die oorvol skottelgoedrak, droog ek my hande af en ek dink dadelik aan 'n vriendin wat altyd praat oor watter storie vertel jou vadoeke? Daarop wonder ek hoekom baie vrouens so skuldig voel oor hulle vadoeke, en net daar bekyk ek my klomp vadoeke.

Die twee mooi gryses hang elkeen op hulle eie reëlings. Een by die  opwas wasbak vir afdroog en die ander een by die afspoel wasbak in die kombuis vir opvryf.

Die wit en groene is my gunsteling. Hy is die "all rounder". Is oor my skouer as ek kook om vinnig my hande af te vee en sommer om die proe-lepel ook af te vee. Hy vee gou-gou af waar ek mors terwyl ek werskaf. Hy hou die warm kastroldeksel vas en kan soms sommer net enige plek rondlê.

Daar is die gele wat onder die wasbak bly vir vuilwerk soos daai koffievlekke op die vloer wat gemors het toe jy geloop het met ‘n oorvol koppie.

Dan is daar die spesiale nuwe turkoois vadoeke wat in die onderste laai bly vir wanneer koek en tee gaste opdaag.

Laastens die twee groen waslappies. Hulle was en maak skoon. Dit is hulle primêre doel .

Toe my kinders kleiner was kon dit my heeltemal irriteer as hulle ‘n lap vir die verkeerde doel gebruik. Die "all rounder" droog nie af nie. Die groen waslappies maak nie vloere skoon nie. Die gryses vee nie kaste af nie.
Hulle het baie vining geleer dat vadoeke wat bo kasoppervlakte hang nie vir vloere bedoel is nie en daardies onder die kasoppervlakte nie vir skottelgoed nie.

Verstommend was nog altyd dat die dag wanneer ek besluit een moet vervang word, is dit tyd dat die buite tafel of stoele afgevee moet word en dan geld geen reëls skielik meer nie. Die oues word heeltemal misgekyk asof hulle nie bestaan nie en die nuwe een word sommer vir die doel gebruik. Dit het my  destyds rasend gemaak. Is dit net ek wat die verskil kon sien tussen ou en nuwe vadoeke en waslappe?

Een ding besef ek. Vadoeke is die geduldigste artikels in my huis. Hulle doen net presies dit waarvoor jy hulle gebruik.

So saam met die gedagtes dink ek aan my geestelike lewe en besef dat ons met alle respek gesê, die Heilige Gees binne in ons soms soos daardie vadoeke behandel. Hy word aangewend soos benodig. As ons alleen is, laat ons Hom eenkant lê. As daar gemors is in my lewe is, moet Hy help skoonmaak. Hy moet al die vuil en nat absorbeer. As daar gaste kom word Hy uitgestal. Ja, net soos mens se vadoeke met jou kan "praat", so praat die Heilige Gees.

Jy voel vining aangekla as gaste skielik in jou kombuis inkom en jou vadoeke lyk soos wie-kom-daar-aan. Vinnig pluk jy dan daai nuwe mooies uit die onderste laai en  verduidelik hoe jy net beplan het om vandag die oues weg te gooi en jy prop hulle vinnig onder in die wasbak se kas. As die gaste weg is, haal jy hulle weer uit en bêre die nuwes.

Net so waarsku die Heilige Gees ons wanneer vuilheid aan ons lewens kom karring. Hy vee trane af wanneer daar hartseer is en Hy maak foute vining skoon en toe as ons Hom om vergifnis smeek. As ons uitgevang word wanneer ons besig is met verkeerde dinge of gedagtes, kan ons soms ons eie aksies vinnig regverdig en wanneer ons tussen mense is sit ons die beste kant voor.

Ek het ook besef vadoeke is altyd daar. So ook die Heilige Gees. Hulle dwing hulle nie op ons af nie. Hulle is beskikbaar vir gebruik soos nodig. So onderdruk ons baie kere die Heilige Gees se volle potensiaal in ons lewens. Hy wil en kan soveel meer vir en in ons wees. Hy wil jou elke oomblik raadgee, beskerm, waarsku, lei, leer, troos en nog baie meer.

Van vandag af kies ek om die Heilige Gees toe te laat om Sy werk voluit te doen in my lewe. Hy gaan nie meer my geestelike vadoek wees nie. Hy is elke dag nuut. Hy stel my nooit in ‘n verleentheid nie. Hy is altyd op Sy pos. Wat ‘n voorreg om Hom in my te mag hê.

Joh 14:26 – maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in My Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gese het.

Rom 5:5 – en hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

1Kor 6:19 – of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie?

1 Joh 2:27 – en die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos die julle geleer het, so moet julle in Hom bly

Gebed:

“Vader in die hemel, vergewe my dat ek U Heilige Gees se potensiaal in my lewe so onderdruk het met my eie wil en planne. Help my om van hierdie oomblik af meer en meer te luister na U stem. Leer my gees asseblief sodat ek my volle potensiaal in U koninkryk kan bereik en U daardeur verheerlik kan word. Jesus kom maak my asseblief opnuut vol met U Heilige Gees. Amen.”

 
 Geskryf deur: rene short
(grs@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...