Wednesday 5 June 2019

Wees geduldig!

Geduldig

Hierdie is seker een karaktereienskap van die vrug van die Heilige Gees wat baie mense in vandag se lewe, moeilik vind om uit te leef. Veral in die lig van die gejaagdheid van die lewe met al die uitdagings daarvan, het min kinders van die Here lus om geduldig te wees. Daar is te veel druk wat geplaas word op prestasies en is daar ook gewoonlik te min ure in die dag vir alles. Daar word dan ook van God verwag om spoedige antwoorde op gebede te gee en word daar gewoonlik te min tyd spandeer om 'n saak deur te bid en te wag op God se perfekte antwoord op die perfekte tyd.

Jak 5:7  Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het.
Jak 5:8  Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby.

Aangesien mense nie bereid is om geduldig te wag nie, neem hulle gewoonlik verkeerde besluite of soms ook die regte besluit op die verkeerde tyd. God werk nie volgens 'n horlosie of kalender nie en lees ons ook in die boek van Daniël dat die engel elke keer berig gebring het dat God se antwoord oombliklik uitgestuur was.

Dan 9:21  terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, ‘n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer.
Dan 9:22  En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee.
Dan 9:23  By die begin van jou smekinge het ‘n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is ‘n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.

Dan 10:12  Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom;

In beide gevalle lees ons dat Daniël onmiddelik verhoor is, maar het die antwoord 'n tyd lank gevat om by hom te kom, aangesien daar weerstand gebied word uit die koninkryk van duisternis. Ons moet altyd daarvan bewus wees dat die duiwel nie wil hê dat ons ontvang wat God vir ons bestem nie en dat hy magte en owerhede opgestel het om te verhinder, of om dit wat na ons toe moet kom, te vertraag.

Wat dan as Vader tog besluit om soms bietjie terug te hou op Sy raad of antwoord om ons geloof te toets of om ons te laat groei in ons verhouding met Hom? Sal ons dan nogsteeds getrou en gehoorsaam bly?

2Pe 3:8  Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.
2Pe 3:9  Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

Hierdie verse verwys in konteks na Jesus se wederkoms, maar dink ek dat dit ook reël op reël in hierdie verband gebruik kan word, aangesien dit ook verwys na spotters wat in hierdie laaste dae sal vra wanneer die koms van die Here dan sal wees, aangesien dit lank al verkondig word. Netsó is daar ook mense wat die spot dryf indien ek en jy besluit om te wag op die Here en veral as hulle sien dat ons deurbraak of antwoord nie vinnig genoeg, volgens wêreldse standaarde, afgelewer word nie.

Die vraag is dan: “Is jy bereid om te wag op die Here en Hom alleen te vertrou?”

Psa 27:14  Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!

Psa 37:34  Kof. Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.

Psa 130:5  Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord.

Spr 20:22  Moenie sê: Ek wil die kwaad vergelde nie! Wag op die HERE, dat Hy jou help.

Jes 40:29  Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.
Jes40:30  Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs;
Jes 40:31  maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Ek ken nie jou omstandighede nie en ek weet ook nie waarop jy wag en hoé lank jy al wag nie, maar God weet!!! Ek weet dat dit die moeite en wag werd is om God te vertrou en jou hoop op Hom te plaas! Ek wil jou dus bemoedig om te volhard en geloof te behou.

Mat 24:13  Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

GEBED:
Hemel Vader, U weet alles en U weet wat die beste vir ons is en wat die regte tyd is vir U antwoord, daarom vra ek dat U ons met Jesus krag versterk sodat ons met geduld en afwagting sal wag op U antwoord...amen!


Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...