Saturday 30 March 2019

Wanneer sterf jy?


Dis seker een van die maklikste vrae om te beantwoord, jy sal sê “Natuurlik wanneer ek my laaste asem uitblaas!”

Dit is waar in die fisiese, ja, maar ons moet ophou om altyd net op die fisiese lewe hier op aarde te konsentreer en meer begin prioriteit gee aan die geestelike lewe in elkeen van ons se wandel hier op aarde.

Natuurlik bygesê dat dit die REGTE en WARE geestelike wandel moet wees saam met die Skepper van hemel en Aarde, ons hemelse Vader Yahweh, deur Jesus Christus ons Verlosser, gelei deur die Heilige Gees! Geen ander geestelike wandel nie!

Die Woord van God waarsku ons egter duidelik in Efésiërs 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”

Van die oomblik wat jy gebore is, is jy oppad om te sterf. Dit klink baie kras, maar dis tog so waar. Kom ons praat nie nou van die wegraping wat aanhande is, of van Elia en Henog wat reeds weggeraap is nie.

Dink bietjie aan hierdie statistiek … 100% van alle mense wat vandag lewe gaan sterwe een of ander tyd, en 100% van mense wat nie meer hier is nie van die afgelope 6000 jaar vandat God alles geskape het deur Jesus Christus, het reeds gesterf.

Dit is voor ons uitgelê van geboorte af dat ons gaan sterf, in die fisiese. Aan die ander kant kan baie ander dinge baie vroeg in ons lewens al begin “sterf”.

Efésiërs 4:27 sê “en gee aan die duiwel geen plek nie.”

As ons die duiwel plek gee in ons lewens, sal daar iets sterf want satan is die mensemoordenaar van die begin af - Johannes 8:44. So ons kan fisies sterf as ons hom plek gee.

Hy is ook die verderwer van die vlees – 1 Korinthiers 5:5, so nie net kan ons sterf as ons hom plek gee nie, maar ons vlees kan verderf word, o.a. siektes, pes, ongesondheid, geen lewenslus, ens.

Satan val ons elke dag duisende kere aan op baie verskillende maniere. Ons moet reg wees vir die oorlog sodat ons nie “sterftes” ervaar in ons geestelike (en/of fisiese) wandel nie. Ons moet die Woord van God kan gebruik as die swaard om te veg teen o.a.:

depressie – Psalm 27,
angstigheid – Filippense 4:4-9,
bekommerdheid – Mattheus 8:19-31,
siektes – Jesaja 53:5,
twyfel – Romeine 10:17,
bang wees – Jesaja 41:10.

As ek alles gaan begin opnoem wat Almagtige God vir ons kan doen, is daar nie genoeg plek in hierdie nuusbrief nie.

Ons MOET eintlik daagliks sterf. Hoe kan ek so iets sê? Wel, as ons nie sterf aan onsself elke dag nie, kan God nie in en deur ons werk nie want trotsheid en hoogmoed sal ons ondergang wees. Geliefde Koningskind, ons moet verstaan dat daar altyd iets is wat sterf wanneer ons in sonde wandel.

Ons kan egter wel met geruste harte weet dat as ek Jesus Christus as my Redder en Verlosser aanvaar het en met my hart glo dat God Hom fisies uit die dood uit opgewek het, ek verseker nie bang hoef te wees om fisies te sterf nie! Want dan maak ek my oë dadelik na my afsterwe oop by my Skepper!

En buitendien kan jy nie ‘n ware kind van God dreig met fisiese dood nie want dan is jou pad reguit Hemel toe!

Gebed:

O God Almagtige wat lewe gee en dit nie wegneem nie. Help my asseblief om sterk te wees in my daaglikse wandel en aan die duiwel geen plek te gee nie want hy wil net sterftes  oor my bring heeldag en aldag lank.

Vul my asseblief opnuut met U Heilige Gees sodat ek die satan kan weerstaan in enige aanval wat hy dalk wil loods teen my.

Ek dank U dat ek kan weet volgens 1 Johannes 5:13 dat sou ek wel die dag fisies sterf, ek die ewige lewe klaar het en U my in U arms sal ontvang met blydskap, maar tot dan dank ek U ook dat U my God is wat my sal sterk maak om die sterftes wat satan in my lewe wil bring, teen te staan.

In die magtige Naam van Jesus Christus van Nasaret, dank ek U.
Amen


Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...