Tuesday 2 April 2019

Hy het gekies om Sy lewe af te lê...

Dink daaraan....


Ons nader alweer die tyd van paasfees wanneer ons opnuut herdenk dit wat Jesus vir ons kom doen het aan die kruis. Terwyl Hy tog aan die hande van mense omgekom het, was dit nie die mens wat Hom doodgemaak het nie, maar het Hy juis gekies om Sy lewe vir ons af te lê, sodat die prys van sonde betaal kon word en daar vrede by ons Abba Vader kon wees.

Joh 10:17  Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem.
Joh 10:18  Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.

Daar is baie mense wat beweer dat dit die “kerk” is wat Jesus gekruisig het, maar as ons na die  bogenoemde verse kyk, dan sien ons duidelik dat Jesus Sy doel hier op aarde kom voleindig het deur die prys van sonde te betaal, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

Joh 3:15  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe en dit is slegs diegene wie Hom as Redder en Verlosser aanvaar, wat die ewige lewe sal ontvang...daar is geen ander manier om dit te bekom nie.

Wanneer Jesus die laaste ete saam met Sy dissipels geniet op die pasga voordat Hy gevange geneem is, het Hy ook die verbondsmaal ingestel as tekens om ons te herinner aan dit wat Hy gedoen het en ook dat Hy weer kom. Elke keer wanneer ons die tekens gebruik, moet ons onsself herinner daaraan dat Sy liggaam vir ons verniel is, sodat ons volkome genesing kan hê in elke gebied van ons lewe en ook fisies in ons liggaam.

Die beker met die sap, verteenwoordig Sy bloed wat die prys van ons sonde betaal het en wat ons skoonwas van die ongeregtigheid van sondes. Die tekens herinner ons ook dat Hy weer kom!

1Kor 11:23  Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het;
1Kor 11:24  en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.
1Kor 11:25  Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.
1Kor 11:26  Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.


GEBED: Here Jesus, mag elkeen van ons in hierdie paastyd opnuut weer herinner word aan die duur prys wat U vir ons betaal het en ook die onskatbare liefde wat U vir ons het...amen


 Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...