Wednesday 6 March 2019

Die lewe gaan aan



Baie kere gebeur daar dinge in mens se lewe wat jou tot stilstand dwing of tot stilstand ruk en dan voel dit asof jou hele wêreld in duie stort. Tog, na verloop van tyd vervaag die herinnering daaraan en dan kom mens agter dat jy maar op 'n manier daardeur gekom het. Nietemin, al was dit die afsterf van 'n geliefde, 'n groot siektetoestand of een of ander familie- of finansiële krisis, die lewe gaan aan en niemand kan bekostig om net op 'n hopie te gaan sit en wens dat dit nie gebeur het nie.

Die Bybel vermaan ons ook baie duidelik dat ons nie aan die dinge van die verlede moet vashou nie, maar dat ons op Vader se skoot moet klim en Hom vertrou om ons te versterk en krag te gee om deur die situasie te werk.

Jes 43:18  Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.

Luk 9:62  En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.

Dit is onvermydelik dat daar beproewinge oor ons lewenspad sal kom en die wyse waarop ons dit hanteer, sal bepaal wat die langtermyn impak op ons lewe gaan wees en of dit enigsins letsels in ons siel gaan agterlaat.

Maak egter nie saak wat met ons gebeur nie, Vader belowe dat Hy ons nooit in die steek sal laat of alleen daardeur sal laat gaan nie. As ons weet om dit na Hom toe te bring, dan sal ons staande daardeur kan kom.

Heb 13:5  Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.
Heb 13:6  Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?

Die Bybel is ook duidelik dat God nooit sal toelaat dat ons bó ons kragte versoek sal word nie en dat Hy in elke situasie ook die uitkoms sal gee.

1Kor 10:13  Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.

Een ding is verseker en ek wil elkeen bemoedig wie op hierdie stadium deur een of ander  beproewing moet gaan...Vader sal jou die krag gee om deur dit te kom as jy bereid is om Hom te vertrou!!

Fil 4:13  Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Psa 37:3  Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid,
Psa 37:4  en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.
Psa 37:5  Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer;
Psa 37:6  en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag.


Gebed:  "Hemelse Pappa, baie dankie dat ons kan weet dat U altyd met ons is en dat U ons nooit in die steek sal laat nie, maar dat U elkeen sal versterk met nuwe krag wanneer die storms om ons slaan...Amen!"

 Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...