Monday 11 March 2019

As ons vergewe!



Mattheus 6:14,15: "Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie."

Baie kere is ons geneig om hierdie baie belangrike woorde mis te lees in die Bybel, of selfs om nie op die waarskuwing daarin ag te slaan nie.

Maar in hierdie komende week wil ek jou tog graag bemoedig met daardie woorde, maak nie saak in watter situasie jy jou dalk mag bevind, hetsy by die werk of in een of ander persoonlike verhouding in jou familie nie. Satan kom veroorsaak so baie kere wrywing of seer in ons lewenssituasies en omdat hy die Bybel baie goed ken, weet hy wat die bogemelde teksverse bepaal, en wil hy juis NIE hê dat ons daardie mense wat ons so seergemaak het, sal vergewe nie.

Hoekom nie? Want hy wil ons juis ongehoorsaam hou aan die Woord van God en ons baie slinks in 'n situasie probeer intrek dat God my dan ook nie sal vergewe nie, juis omdat ek nie daardie mense vergewe nie.


Maar tog is die  Woord baie duidelik wat ons wel moet doen, juis sodat ons ook vry kan wees van enige seermaak situasie, en dit is naamlik om andere vry te spreek, JUIS sodat ons ook vrygespreek kan wees, soos ons dit lees in Lukas 6:37.

Want die oomblik as ek daardie persoon of persone vryspreek, wat my so tenagekom het, of seergemaak het, dan sê die Bybel is EK vry. Dit beteken dus nie dat ek deur hulle vry te spreek nou sê hulle was reg en ek was verkeerd nie. Nee, dit beteken bloot dat my vryspraak my vry maak van die las wat satan daardeur op my skouers wou plaas, en kan ek daardie persone vierkantig in die oë kyk waar ons ookal weer met mekaar te doen sal hê.

Moet dus nie dat seer en onvergifnis in hierdie week keer dat jy gehoorsaam raak aan God se Woord nie. Ek vertrou dat jy in Jesus se krag enige sulke mense sal vryspreek, juis sodat jy ook vrygespreek kan wees, en nie meer daardie las op jou skouers hoef te dra nie.


GEBED:

"Vader, ek kom na U in die magtige Naam van Jesus Christus. Ek vra dat U my asseblief hierdie week sal help om in Jesus se krag daardie persoon of persone vry te spreek wat my so ontsettend seergemaak het, juis sodat ek dan kan weet dat ek daardeur ook deur U vrygespreek is. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...