Wednesday 20 August 2014

Is daar "afstand" tussen ons en God?




Efes. 2:13  Maar nou in Christus Jesus, het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus, want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak het en die middelmuur van skeiding afgebreek het ... 18)  want deur Hom het ons albei toegang deur een Gees tot die Vader.

Rom. 10:8  Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.  Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig.

Heb. 10:19  Terwyl ons dan broeders, vrymoedigheid het om in die Heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus.

Die Bybel onthul die feit dat daar geen afstand meer tussen ons en God die Vader is nie.  Golgota het die afstand wat daar was vir eens en vir altyd uitgeskakel.
Vanuit God se oogpunt gesien is ons in totaliteit met Hom versoen (2 Kor. 5:18).  Deur geloof het ons vrye toegang tot die teenwoordigheid van God.
Die enigste afstand wat nog steeds bestaan, is te vinde in die gedagtes van daardie Christene wat nog nie vernuwe is in hulle gemoed nie (Rom. 12:2).

Golgota was God se Meesterstuk.  Niemand het die voorreg gehad om Jesus dood te maak nie.  Hy het self besluit om te sterf en sy Gees in die hand van die Vader oorgegee.  Maar Hy sterwe sodat almal wat ver was, vanaf daardie oomblik naby kon kom.
Die voorhangsel van die tempel skeur.  Nie een klip bly langer op die ander staan nie.  Die aarde skud.  Daar kom duisternis.  Die grafte gaan oop.  ‘n Nuwe bedeling word ingelui.
Nie langer hoef mense diere te offer nie.  Die rol van die aardse hoë priester verdwyn.  Christus self tree nou vir ons in.  Ons hoef nie langer te wag tot die Sabbat om met God in kontak te kom nie.
Ons kan nou enige oomblik van die dag of nag deur die geloof en die Heilige Gees met God in kontak wees en vir solank as wat ons dit per keer nodig af, en selfs permanent.

Die afstand wat daar was, is uit die weggeruim. Ons kan Jesus se soenoffer aanneem en weer met God versoen raak. Ons word vernuwe in ons gemoed, ons gedagtes, ons inbors.
Niemand het enige gronde om dit wat op Golgota gebeur het, as onwaar of nietig te verklaar nie. Op Golgota is ‘n volmaakte werk vir ons sondes volbring.
Die onderhouding van die Wet word met ‘n nuwe Gebod, die van Liefde, vervang.  Liefde pleeg nie oortredings nie en Liefde vergewe oortredings, 70 maal sewe keer.
Ons aanvaar nie net Sy versoeningsdood nie, maar ons sterwe ook saam met Hom aan die Kruis van Golgota.  Ons doen nie meer sonde nie (1 Kor. 15:34;  Rom. 6:11).

Dit is ongelukkig so dat ‘n groot deel van die Christendom vandag nie hulle geloof op die krag van die Kruis baseer nie, maar op die onderhouding van die Wet en deur eie pogings.  Daar is ‘n baie groot verskil tussen ‘n mens se eie pogings, jou resolusies,  en die lewe in en deur die geloof.

Om ‘n ware Gelowige te wees, is om te lewe deur middel van die inwonende krag van Christus.  Dit is ‘n lewe van volle vertroue op God, van aangesig tot aangesig met die Vader (2 Kor. 4:4-6).
Om voort te gaan om getuienis op te stapel as bewys dat jy nie vrye toegang tot God se Genadetroon het nie, maak van jou ‘n koue gevoellose naak gestroopte religieuse roetine – sonder ware vrede en sonder blydskap.

Alleen in die teenwoordigheid van God die Vader belewe mens die volheid van totale blydskap (Ps. 16:11).  En boonop word jy genooi om vandag deur middel van Sy bloed daardie volheid te smaak.  Alleen die bloed van Lam kan jou waarlik vrymaak!

Onthou, dit wat op die Kruis gebeur het, kan mense maar betwis tot in lengte van dae, maar onkunde oor die volle boodskap en krag van die Kruis en die bloed van die Lam, beroof menige Christen vandag van die voorregte wat vir hom en haar bewerk is deur die Liefde van God die Vader.
Daarom staan daar geskrywe:  My volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. – Sjibbolet

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...