Tuesday 12 August 2014

Waarom toets ons nie God aan Sy Woord nie?




 Inderdaad is gebed ‘n nasie-skuddende, geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak.  Nie dat gebed as sodanig magtig is nie, maar onse GOD is! Alles is reeds probeer vir reg en geregtigheid in Suid-Afrika, behalwe deurdringende, aanhoudende gebed. Begin vandag nog ‘n eendragtige gebedswaak in jou eie huis. Dit is die antwoord, die enigste antwoord! Al is julle net twee wat begin, maak daardie begin.

Ja, twee is genoeg wat die HERE sê self waar twee of drie in sy Naam bymekaarkom, daar is Hy. GOD se vermenigvuldende krag doen die res: ‘n paar brode en vissies voed ‘n menigte. Lev. 26:8 “Vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle sal tien duisend agtervolg; en julle vyande sal voor julle val deur die swaard.”

Maak nou self jou eie vermenigvuldende somme verder en kyk wat gebeur as ‘n 100, as 50 000 eendragtig begin saambid. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag. Jak. 5:16. Hand. 4:31. Vervolgens moet ons staatmaak op die Heilige Gees in ons gebedslewe.
“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, (Hoekom?) want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.” Rom. 8:26-27.

Natuurlik, jy het dit al baie oorgekom: Jy weet nie reg wat om te bid nie. Dit is hier waar die gawe van die spreek in ‘n hemelse taal, die taal van die Gees, in werking kom. “Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar. Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.” 1 Kor. 14:14-15.

Daar is dus twee maniere waarop ‘n mens kan bid: Bid met die verstand as jy weet waaroor dit gaan en presies wat jy wil bid. Maar as jy nie reg weet wat om te bid nie, dan bid jy nie met jou verstand nie, dan bid jy in die Gees. En wanneer jy in die Gees bid, dan is jou verstand onvrugbaar. “Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede. Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging. Hy wat in ‘n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente.” 1 Kor. 14:2-4.

Dit beteken nie Christene links en regs moet profeteer nie. Daar is ‘n tyd en ‘n plek vir alles. Pred. 3:1-8. Wanneer jy die HERE wil prys, dan kan jy ook dit met jou verstand doen, of in die Gees. Het jy al iemand in ‘n hemelse taal hoor sing? Het jy al ‘n groep in tale hoor sing wanneer hulle die HERE loof? Dit alles beteken dat mense wat die doping in die Heilige Gees misken, ‘n baie groot fout maak en hulself van grootse seëninge en deurbrake beroof.

Paulus sê: “Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal...” Rom. 4:18. Hoekom was dit nodig dat hy juis dit vir hulle moes sê? Eenvoudig, omdat hulle nie daarvan geweet het nie want dit vind in sy binnekamer plaas. Oor die tale in die gemeente, sê Paulus egter: “...maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tien duisend woorde in ‘n taal.”

Paulus sê ook: “So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente. (Hoe?). Daarom moet hy wat in ‘n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê.” 1 Kor. 14:12-13.
Paulus dui duidelik aan dat die spreek in tale in die gemeente taamlik min plaasvind, maar wanneer dit plaasvind, dan moet daar ‘n vertaling in die taal van gemeente plaasvind, sodat die gemeente gestig kan word.

Paulus beklemtoon dit verder wanneer hy in 1 Kor. 14:16-17 sê: “Anders, as jy met die gees dank (in ‘n taal dank), hoe sal hy wat die plek van ‘n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie? Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.”
Daar moet dus elke keer ‘n vertaling plaasvind wanneer iemand in ‘n taal in die gemeente optree. Hoekom?  “Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ‘n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.” 1 Kor. 14:9.

Dan sê Paulus ‘n belangrike ding: “Die tale is dus ‘n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges. “As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie?  “Maar as almal profeteer en daar ‘n ongelowige of ‘n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.” 1 Kor. 14:22-25.

Vir Paulus is die tale nie so belangrik in die gemeente, behalwe dat wanneer dit by uitsondering plaasvind, daar noodgedwonge ‘n uitleg moet wees anders dink die ongelowiges die gemeente is kranksinnig. Maar Paulus laat val die klem op profesie. Profesie gaan nie met ‘n taal vooraf gepaard soos wat baie redeneer nie. Profesie is belangrik want “... so kom die geheime van sy hart aan die lig.”
Hierby is ook betrokke die gawe van die onderskeiding van die geeste. 1 Kor. 12:2-11. Die tale is egter grotendeels vir die gebruik in kommunikasie tussen jou en GOD wanneer jy in jou binnekamer bid.

Daar is egter gevalle waar Christene in hulle binnekamer in ‘n hemelse taal in die Gees gebid het en die gebed ook vertaal het, sodat ook hulle verstand kon verstaan wat hulle gebid het. Hierdie blyk egter ‘n uitsondering te wees. In die meeste gevalle weet mens uit die bevestiging van die Woord, wat die HERE se Wil in ‘n saak is. Dit kan in jou eie stiltetyd gebeur, of waar jy saam met iemand Bybelstudie doen, of onder die prediking of self in gemeentelike aanbidding. Hoe anders het die gemeente geweet dat die Heilige Gees sê dat die gemeente Paulus en Barnabas moes afsonder vir die werk?

Uit hierdie vooraf gedeelte het ons duidelik geleer dat daar kere is wat ons nie weet hoe en wat om te bid nie, ons weet nie wat die HERE se Wil in ‘n betrokke saak is nie.  Dan skakel ons, ons verstand uit en ons bid in die Gees in ons hemelse taal. Dan spreek ons verborgenhede tot die HERE.
Jesus Christus sê dat wanneer ons gered is en die Koninkryk begin bou, dan sal ons die volgende doen: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” Markus 16:17-18.

Vraag is: Hoe bekom mens hierdie gawe van ‘n taal? Eintlik net so eenvoudig soos die dag toe jy wedergebore is. As iemand jou vandag sou vra hoe weet jy dat jy wedergebore is, sal ‘n ‘n klinkklare getuienis kan lewer. Jy het Jesus Christus as Saligmaker, as Verlosser aangeneem. Dit was alles ‘n geloofsaksie.
Net so vra jy die HERE vir die doping in die Heilige Gees en ontvang dit. Dit is hoe eenvoudig dit is. So ook al die ander gawes. Ontvang dit net en gebruik dit.
Dis waar die sleutel lê: Gebruik dit. Ontvang die Heilige Gees en praat eenvoudig in die taal wat jy daardie oomblik ontvang. As jy nie begin praat nie, sal jy nooit praat nie. Hand. 1:5 en 8.

As jy die gawe van genesing ontvang, maar jy bid nooit vir ‘n sieke nie, sal niemand ooit genees nie. ‘n Feit wat ons nooit uit die oog mag verloor nie, vind ons in Markus 11:25,26 “En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.”

Dit is hoe eenvoudig dit is:  as ons nie vergewe nie, vergewe GOD nie en al ons gebede is futiel. In Matt. 6 vind ons die bekende “Onse Vader” met die gedeelte: “... vergeef ons, ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”
En dan strofe 14: “...Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”

Dit beteken kortweg dat jy die Onse Vader duisend keer kan bid en niks sal gebeur nie want jy het nie ander mense vergewe nie. En veel erger: As jy nie vergewe het nie, maar jy gebruik die Nagmaal, dan drink jy (boonop) ‘n oordeel oor jouself! Let op: “Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink 'n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en 'n aantal het ontslaap.” 1Kor. 11:27-30

‘n Vrou met bloedkanker vra op ‘n keer dat ons vir haar moet vir genesing. Ons het vir ‘n paar oomblikke in doodse stilte in die Gees gebid. Toe ons praat, noem ons aan haar dat die HERE haar nie kan genees nie want sy het ‘n verterende haat teenoor iemand. Die vrou erken dat dit so is, maar dat dit darem nie meer so erg is nie.
Ons verduidelik aan haar: “Mevrou, dit is steeds so erg, dis net die siekte wat maak dat jy nou  meer aandag aan jouself en jou onmiddellike omgewing gee as wat jy aan die haat gegee het.
Sy herhaal dat dit darem nie so erg is nie. Ons bied haar ‘n hipotese: As daar nou ‘n geklop aan die voordeur is en jy maak oop en dis die mense wat jy so haat, sou jy hulle hartlike kon binne nooi en sê: ‘Baie welkom, ons het mekaar lanklaas gesien, kom binne en maak julle self tuis. Wat drink julle, tee of koffie?’
Toe antwoord sy: ‘Nee, darem nie so nie.’

Hierdie vrou moes eers na haar ‘vyande’ toe gaan en hulle gaan vergewe waarna die HERE haar volkome genees het. Ek en jy mag nie eers by die Nagmaaltafel aansit as ons iets teen iemand het, of weet dat iemand iets teen ons het nie. Ons moet die saak eers gaan regmaak en as ons dit nie doen nie eet en drink ons ‘n oordeel oor onsself. 1 Kor. 11:23-30.
Let op strofe 30: “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.”

Mens durf nie met onvergewensgesindheid of sonde in jou hart Nagmaal gebruik nie. “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” Spr. 28:13.
Jy mag dink dat niemand iets van jou oortredinge af weet nie, maar by GOD is alles bekend. Die dag wanneer jy voor die Groot Wit Troon staan, sal almal in ‘n vlietende oomblik alles van almal weet. Sou jy nie graag daar ongeskonde wou staan nie?

Kom dan, verootmoedig en maak jou saak met God en mens reg. Daarna het jy niks te vrees nie. “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.”  Heb. 12:12:15    – Sjibbolet

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...