Monday 8 September 2014

Jesus heel die gebroke harte!




Wanneer ‘n goeie mens struikel...


Geen volgeling van Jesus Christus moet dink dat dit vir hom of vir haar onmoontlik is om te struikel en te val nie, selfs so ver dat hulle Christus verloën.
          1 Kor. 10:12 waarsku: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
          Petrus had ‘n geleentheid wat nie een van ons ooit kan hê nie, hy het sy aan sy met Jesus gewandel. As iemand soos Petrus tot ‘n val kon kom, wat dan van ons?
          Baie Christene het deur die jare gestruikel. Ander het selfs geval. Sommige gaan darem nog kerk toe, maar is basies geestelik dood. Hulle het gestruikel en het berou getoon en om vergifnis gevra, maar kan nie hulself vergewe nie.
          Ander kere vergewe diesulkes hulself wel, maar dan vergewe die gemeenskap hulle nie.
          Kyk wat doen GOD wanner iemand berou het en sy sonde bely: “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.” Miga 7:19.
          “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Ps 103:12.
          “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9
          As die gemeente of die gemeenskap steeds die sonde van iemand ophaal, dan sondig hulle.
          Sommige meen daar is nie vergifnis vir ‘n Christen wat gestruikel en geval het nie.
          ‘n Spieëlbeeld van die lewe van Petrus gee ons die volgende insigte:

Petrus het gevloek en gesweer dat hy Christus nie ken nie. Dit het hy gedoen nadat:

·       Hy magtig deur God gebruik was;
·       Hy wonderwerke, tekens en wonders aanskou het;
·       Sy naam in die Boek van die Lewe geskrywe was;
·       Hy siekes gesond gemaak en demone uitgedryf het;
·       Hy die Evangelie verkondig en siele vir die Koninkryk ingewin het.

Petrus is in ‘n strik gelei deur twee vroue en ‘n groep ongereddes:

·       Meeste mans se swakheid en val is deur vroue veroorsaak;
·       Baie mans het die HERE verloën omdat hulle nie situasies in hul eie huisgesinne kon hanteer nie;
·       Koning Dawid het geval  en ellende oor miljoene mense gebring, dog hy het ook herstel;
·       Moses het geval en ook herstel;
·       Jona het geval en herstel;
·       Baie jong Christene struikel en val omdat hulle toegee aan die eise van ongereddes.

Sommige mense dink Petrus het gesink toe hy (in eie krag) op die water na Jesus probeer loop het:

·       Hy het bloot begin om te sink en toe na Jesus uitgeroep en toe na die boot teruggeloop;
·       Hy het meer as die ander dissipels gedoen want hulle het nie eers probeer om op die water te loop nie;
·       Hy het ‘n nuwe begin gemaak, homself opgerig en weer probeer;
·       Hy het die aanbreek van ‘n nuwe geestelike dag aanskou na ‘n lang donker nag.

Petrus het ‘n spesiale uitnodiging ontvang, alhoewel hy:

·       Gevloek, gesweer en ontken het dat hy Jesus ken;
·       Hy Jesus drie maal verloën het, en drie maal bely het;
·       Hy Jesus drie maal in die openbaar verloën en drie maal in die openbaar bely het;
·       Sy les geleer het deur ‘n lang donker nag deur te gaan;
·        Die opdrag gegee was om die HERE se skape te laat wei.

Petrus het besef Jesus het steeds vertroue in hom, toe het hy:

·       Homself opgerig en bewys gelewer dat hy ‘n klippie kon wees;
·       Hy het homself vergewe, nadat Christus hom vergewe het;
·       Hy het nie homself aanhou verwyt oor wat gebeur het nie;
·       Hy het die verlede vergeet en hom uitgestrek na wat voor is;
·       Is daarna magtig deur God gebruik om duisende ander te help.

Veronderstel Petrus sou vandag in Kleinmond gelewe het, dan sou mense:

·       Nie weer vertroue in Petrus gehad het nie;
·       Petrus sou nie toegelaat word om weer te preek nie;
·       Hy sou beskinder gewees het;
·       Die media sou hulle in sy val verlustig het;
·       Sy kerk sou hom as predikant geskors het;
·       Baie sou altyd die voorval in herinnering roep;
·       Hulle sou sê hy het toegelaat dat ‘n vrou hom tot ‘n val gebring het;
·       Sommige sou hom uit die gemeenskap weggewens het.

Maar God het steeds vertroue in Petrus gehad.  Deur Petrus se bediening:

·       Word 3 000 siele op een dag gered;
·       ‘n Verlamde man spring op en loop;
·       Die Heilige Gees word uitgestort;
·       Selfs gewone mense kon sien dat God met Petrus wandel.

Petrus is deur die godsdiensleiers opponeer. Hulle:

·       Het hom misverstaan omdat hy nie altyd ortodoks was nie;
·       Het hom bestempel as onkundig en ongeleerd;
·       Het hom vele kere aangekla en verhoor;
·       Hom gewaarsku om nie teen hulle tradisies te gaan nie;
·       Hom selfs gesensor, gegesel en in tronke opgesluit.

Alhoewel Petrus hierdie dinge moes verduur, het:

·       Is hy met die krag van God gesalf  tot diensbaarheid en om ander na Christus te lei;
·       Mense het die strate vol gestaan met siek mense sondat Petrus hulle kon bearbei en genees;
·       Mense het besef al val Petrus se skaduwee net hom hulle genees hulle;
·       Die tekens wat gevolg het, het almal laat besef dat God Petrus vergewe het.

Soos wat Petrus onder die krag van God deur die strate beweeg het:

·       Was die krag van God aanwesig om die mense te genees;
·       Daar was nie eers geleentheid vir mense om oor siektes en pyne te praat nie of te verduidelik nie;
·       Die mense was so veelvuldig in getalle dat Petrus nie eers vir almal die hande kon oplê nie.

Christene wat die HERE Jesus in ons tyd verloën het, het baie maal probeer om na die weë van God terug te keer, maar ons wou hulle nie vergewe nie. Die rede waarom sulke mense graag weer by die HERE wil uitkom, is omdat die Gees van God hulle dring om dit te doen, omdat God hulle vergewe het, omdat God steeds vertroue in hulle het, maar ons het nie.
Wanneer ons na die lewe van Petrus kyk, dan besef ons, as ons berou het en bely, God ons graag terug in die kudde wil hê en ons boonop graag ook magtig wil gebruik.
En aan diegene wat diesulke nie wil vergewe en wil terugneem in die kudde nie, spreek Gal 6: 1 boekdele wanneer hy sê: “Broeders, as ‘n mens ewenwel deur die een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reg help met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself  let, dat jy nie ook versoek word nie.”
En dan die opdrag in strofe 7: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus, want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself, maar laat elkeen sy werk op die proef stel; en dan sal hy grond van roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander een betref nie.”
En, na alles, is dit vir ons ook moontlik om daagliks geestelik saam met Jesus te wandel.
Onthou, God wil van die klippies rotse maak!
    En jy gevallene, staan op, God wag vir jou!  Hy sê vir jou soos Hy ook vir Jeshua in Sag. 3: 1,3,4 gesê het:  “Ek wil jou oortredinge vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek! – Sjibbolet

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...