Thursday 24 January 2013

Genees van kanker – Rina Malan se getuienis







More Belinda,
Ek is ook een van Jesus se kinders wat genees is van kanker.

Ek is die enigste kind van middelklas ouers. Het goed grootgeword maar ook die pad byster geraak op ouderom 18. Op daardie ouderom is niemand so slim soos jy nie en niks wat jou ouers of iemand vir jou se maak in elk geval sin nie want dit is nie hoe jy dit sien nie.
Ek is getroud toe ek 20 was en twee weke voor my troue my verloofring gegooi dat  ek twee dae na hom gesoek het. Ek het seker nie nodig om te se dat ek ‘n baie kort humeur gehad het nie. En ek moet se, ek het letterlik alles gedoen wat my ouers my gemaan het om nie te doen nie. Regte rebel.

Wel, ek kon nie kinders he nie. Het van die een dokter na die ander, van een operasie na die ander, op die ou end infertiliteit behandeling ontvang. Op laas ge-eindig in Tygerberg Hospitaal waar die dokter vir my gese het hulle het my soveel hormone ingespuit ek kon doodgaan daarvan.

Daar moes nog ‘n operasie gedoen word en dit is toe wat my man besluit het dit is die einde. Geen operasies nie en as ons dan nie kinders kan he nie dan is dit nou maar so.
So loop ek met selfverwyt, met die vrees dat my man my sal los, dat hy met ander vrouens sal peuter, ensovoorts ensovoorts. In hierdie tyd het ek ook nie meer gewerk nie. Watter werk sal jou tydig en ontydig afgee vir behandeling en inspuitings maar die Here het voorsien. Dit was ook die tyd in my lewe wat ek die Here gevind het. Van ek opgestaan het in die oggend tot ek gaan slaap het, was hy my geselskap want al wat vrou is op die klein dorpie het gewerk so ek was permanent alleen. Ek het baie gehuil, was deur hel met skoonfamilie wat nie kon verstaan dat ek nie kinders kan he nie. Maar ook dit was die Here se wil.my.


Ons het baie rondgetrek omdat my man se werk dit vereis het en ek het in die staatsdiens beland. Hy het vir die paaie gewerk en ek vir gesondheidsdienste. Dit het verplasings nie bemoeilik nie en ons het regtig goed geleef. Maar my lewe het weer afgedwaal na die bree weg en ek het begin siek word in 2002.
Maagpyn, seer rug, naar, en het onsettend gewig opgetel. Ek besluit toe om dokter toe te gaan want die sooibrand en die pyn het ondraaglik begin raak. Hy beveel aan dat ons medikasie gebruik want om ‘n gastroskopie te doen sal hulle my eers op medikasie sit. Drie dae later was ek terug. Die pyn is net ondraaglik. ‘n Afspraak is gemaak vir die gastroskopie en ‘n gewas in my slukderm gevind. Biopsie gedoen en die dokter se spreekkamer bel my die Dinsdag om te se ek moet die dokter kom sien. Ek se toe is reg, ek is Donderdag beskikbaar. Iets se my ek moet my man saam vat.
By die dokter gekom, gegroet en die gewone dinge gepraat en hy se toe die volgende woorde: “Mevrou, daar is geen maklike manier om vir jou te se wat ek nou vir jou gaan se nie. Die gewas in jou slukderm is kwaadaardig”.
 Hy het ‘n vel met prenetjies uitgehaal en ek weet ek het na die maag gestaar. Wat hy gese en verduidelik het weet ek tot vandag toe nie. Toe ek weer tot my sinne kom, hoor ek net hy se, ek moet gaan vir x-strale van my long en ‘n sonar van my lewer en niere want as die kanker versprei het gaan hy nie opereer nie, maar as my organe skoon is sal hy die Maandag 13 Mei 2002 my in die hospitaal sien. Ek het goed gehou tot ek in die gang gekom het, maar toe huil ek soos ‘n kind.

Ons het dadelik die x-strale laat neem en die sonars en alles was skoon. Ek is ge-opereer en die kanker, een derde van my slukderm en twee derdes van my maag is verwyder. Na ‘n lang herstelproses in die ICU waar ek elke dag vir die Here gevra het om net nog hierdie pyp of hierdie monitor afte haal, en Hy dit gedoen het, het ek geweet ek is nie alleen nie. Die Here was al die pad saam met my. Ek was vir 4 dae in ‘n koma en het vandat ek wakker geword het, elke dag gebid en gevra dat die Here my asseblief net moet help dat hulle die goed van my lyf af kan haal en dat  ek gesond kan word.
11 dae na die operasie het die dokter gese hy het nog nie ‘n pasient gehad wat so gou herstel het na so operasie nie. Later sou ek hoor daar is maar min pasiente wat hierdie operasie oorleef. Ek is na ‘n onkoloog verwys en sy het besluit dit is nie nodig vir enige chemo of bestraling nie maar ek sou moes gaan vir toetse elke drie maande.


Ek het later so goed aangegaan dat ek net elke jaar gegaan het vir toetse en 7 jaar na die operasie (2009) is my kankertelling die hoogtes in. Vergroeiings wat vorm as gevolg van operasies het ‘n kanker in en hierdie “ding” is om my aorta en geen spesialis het kans gesien om dit te verwyder nie. Die operasie was net te gevaarlik. Ek weet dat ek die dag toe sy vir my gese het die kanker is terug, in die kar gaan sit en net vir die Here gevra wat het ek aan my liggaam gedoen dat die kanker teruggekom het. Nooit ooit het ek gevra hoekom moes EK kanker kry nie. ‘n Pastoor het vir my gebid en my gesalf en ons het die siekte bestraf en die duiwel het gestruikel en geval.

Chemo behandeling is begin vir 6 maande en ek was dodelik siek. My hare het met die eerste behandeling begin uitval en ek het vir my man gevra om dit af te skeer. Ek kon nie eet nie. Daar was sere in my mond en ek het in die eerste maand 14 kilogram verloor. Maar, sonder hare en so siek soos ‘n hond, moes ons pendel van Queenstown na Bloemfontein sodat ek my behandeling kon kry. Toe het daar nog 6 weke van bestraling voorgele. Ek onthou hoe ek met die eerste chemo eendag vir die Here gevra het om asseblief net ‘n einde te maak aan alles want geen mens kan hierdie hel deurstaan en lewend anderkant uitkom nie. Ek hoor onmiddelik ‘n stem wat vir my vra: “Wat gaan van jou man word as jy nou weggaan”. Toe ek my oe oopmaak, staan my man voor die bed en vra vir my hoe voel ek. Ek het met ‘n slag aarde toe gekom. Die Here het kanker oor my pad gebring om my te leer om mense te vergewe vir wat hulle aan my gedoen het. Die Here het my so siek gemaak om my te leer dat ek nie die enigste mens op aarde is nie. In hierdie tyd wat ek so siek was het hulle drie keer by ons huis ingebreek het ons het net ‘n slaapkamerstel, sitkamerstel en ‘n stoof oorgehou. Dit, het die Here vir my geleer, is aardse goed en dit is al wat jy nodig het.
Ek is nou in 2013 en in remisie. Die Here het my gesond gemaak en ek het aan Hom ‘n belofte gemaak dat ek vir Hom sal werk tot die einde van my lewe. Ek wil met my storie vir kankerlyers se, hou moet, moet NOOIT die Here se hand los nie, moenie vra hoekom jy nie, hoekom NIE jy nie.
God het ‘n doel met alles wat in ons lewens gebeur. Hy is vandag my Pa, my Ma, en die broers en susters wat ek nooit gehad het nie. My beste vriend want ek gesels heeldag met hom. Ek smeek dinge by Hom en Hy voorsien, ek werk nie meer nie en ons lewe soos konings wat ons Koning voorsien. Ek lees gister ‘n artikel van Sheryl Long wat ook twee keer kanker gehad het en genees is. Haar artikel eindig met die volgende woorde: “Kanker is net ‘n woord, dit is nie ‘n vonnis nie. Daar is altyd hoop.

Vir die van julle wat hierdie siekte oorwin het, ons sal altyd met die swaard oor ons koppe loop, maar weet dat God daardie swaard beheer. Die duiwel kry swaar want in my lewe moet hy elke dag hardloop. Hy het nie plek in my lewe nie. My eerlike opinie is dat hierdie siekte van die duiwel is en ons moet NOOIT OOIT vergeet dat God ons so lief het dat Hy AL ons pyn vir ons wil wegvat. Ek dank Hom elke dag vir wat ek het. My man, met wie ek nou 40 jaar getroud is, het my nooit verwyt dat ek nie “goed genoeg” was om vir hom kinders te gee nie, en toe ek op my laagste was, en die chemo wou stop, was HY die een wat vir my gese het ek kan nie oor my lewe besluit nie. Dit is nie my werk nie. Ja, my hare het ook nog nie weer behoorlik uitgegroei nie, maar wie gee om. Ek is gesond en dit is die belangrikste.

As daar enige iemand is wat twyfel, seer het, vrae het om te vra, depresief is, hulp nodig het, julle kan my kontak by rina.malan@gmail.com of telefoon 073 163 5024. Ek sal help waar ek kan. Hou vas aan jou geloof, praat met God, gee jouself oor, onvoorwaardelik en GLO. Hy KAN ons genees en Hy sal, as dit Sy wil is. Ons is nie opgewasse om hierdie lewe te leef sonder Hom nie.

Jesus liefde vir julle almal.

Rina

2 comments:

  1. sjoe my vriendin, dankie vir jou dat ons kan getuig van hoe groot Jesus se liefde vir ons is, weereens besef ek, daar is altyd iemand wat meer deur is as mens self, jy is vir my n inspirasie, en ek is so lief vir jou, al ken ek jou nie persoonlik nie, ons is al lank fb vriendinne, en dis amazing hoe lief mens kan word vir iemand op jou fb, ek is lief vir al my kanker maatjies, party is Jesus toe en ek moes met trane in my oe kyk hoe hulle weg is, baie is genees almal deur Jesus, dankie Jesus dat U ons so lief het

    ReplyDelete
  2. Ek wil net graag vir almal se dat Rina op 18 Desember 2013 oorlede, haar kanker het weer terug gekom en na haar maag en longe versprei. Ons weet sy is na Jesus waar sy nou ten volle genees en gelukkig is. Rus in Vrede Rina

    ReplyDelete

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...